Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Gedenkkonsert vir S. le Roux Marais gehou

In ’n poging om die Afrikaanse kunslied te laat voortbestaan, word die eerste jaarlikse gedenkkonsert ter viering van die komponis S. le Roux Marais se musiek vandeesmaand in Pretoria gehou.

Dit word op 25 Mei – Marais se sterfdag – in samewerking met die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) in die AfriForum-teater in Menlo Park aangebied.

Gedenkkonsert
S. le Roux Marais

“Afrikaans word op alle vlakke bedreig en my vrees is dat die Afrikaanse kunslied eerste sal skipbreuk ly,” sê Coert Grobbelaar, organiseerder van die konsert.

“(Stephanus le Roux) Marais word in die Afrikaner-musiekkringe as die mees prominente pionierkomponis van die Afrikaanse kunslied beskou.

"Naas Rosa Nepgen (wat met die digter W.E.G. Louw getroud was) het Marais die meeste Afrikaanse kunsliedere geskryf.

“Toe ek aan so ’n konsert gedink het, het Marais se naam by my opgekom, want hy was toonaangewend in die eerste liedbeweging. Ek het ook gedink aan gedenklesings oor onder andere die digter N.P. van Wyk Louw, maar ’n gedenklesing werk nie so goed vir ’n komponis nie, en daar bestaan nie ’n woord soos ’n gedenk-uitvoering nie.”

Hoewel die konsert met musiek deur Marais begin en eindig, word ander komponiste se werk ook betrek.

Die konsert begin met “Oktobermaand” en sluit af met “Heimwee” – die gedigte van C. Louis Leipoldt en J.R.L. van Bruggen wat Marais getoonset het.

“Mense verwag om ‘Heimwee’ te hoor. Dit is ’n baie bekende komposisie van hom.”

Die sopraan Mimi Coertse is bekend om haar vertolking daarvan. Sy het Marais, wat in 1979 oorlede is, persoonlik geken.

Musiek uit verskillende dekades word deur ses sangers uitgevoer.

Dit sluit in komposisies deur Gideon Fagan en Franco Prinsloo en toonsettings van gedigte deur W.E.G. Louw, Boerneef en G.A. Watermeyer.

Die komponis Jaco Meyer het ’n nuwe komposisie van Eugène N. Marais se bekende gedig “Winternag” geskryf, wat op dié konsert die eerste keer uitgevoer word.

Die sangers is Anina Wasserman (sopraan), Loraine Hibbert (sopraan), Christiaan Snyman (bariton), Andries Aldrich (bariton), Drikus Schoeman (bariton) en Grobbelaar (tenoor).

Die pianis Rudolf Geldenhuis begelei hulle.

Grobbelaar sing onder meer “Die veldwindjie”, Bosman di Ravelli se toonsetting van Jan F.E. Cilliers se gelyknamige gedig.

“Dit is een van die eerste drie Afrikaanse kunsliedere,” sê Grobbelaar.

“Dit is onseker watter een van die drie eerste was.

“Ons moenie ons skatte verwaarloos nie. My grootste kommer is dat ons kinders nie meer weet van die ongelooflike kunsliedskat wat ons besit nie.”

• Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R100. Besoek afriforumteater.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Coert Grobbelaar  |  S. Le Roux Marais  |  Afriforumteater  |  Pretoria  |  Kunsliedere  |  Gedenkkonsert  |  Musiek  |  Komponis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.