Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Geliefde radio-omroeper (88) oorlede
Dr. Ampie Muller Foto: Verskaf

Die geliefde radio-omroeper dr. Ampie Muller is Donderdagaand in die ouderdom van 88 ná ’n lang siekte in sy huis in Marina da Gama, Kaapstad, dood.

Muller was vroeër jare aan die SAUK verbonde en tot onlangs ook by FMR (Fine Music Radio).

Hy was met veelsydige talente geseën en het die afgelope 65 jaar met sy radiowerk en veral as musiek- en literatuurkenner ’n bydrae van waarde gelewer.

Oor die afgelope 30 jaar het hy gereeld boekresensies geskryf wat van sy besondere kundigheid en insig getuig het.

Die projek waaraan Muller die afgelope vyf jaar gewerk het, was om herinneringe te boekstaaf oor die skrywer N.P. Van Wyk Louw, wie se 50ste sterfjaar volgende jaar herdenk word. Muller was Louw se skoonseun; sy (Muller se) eerste vrou was Louw se dogter Ria. Ten tyde van Louw se dood was Muller langs sy sterfbed. Die gedenkboek Die pluimsaad waai ver word tans vir publikasie voorberei.

Die gedagte aan so ’n projek het by sy vrou, dr. Beverley Roos-Muller, ontstaan nadat Muller kort ná sy 80ste verjaardag ernstig siek geword het. Dit was vir hom ’n hartsprojek, waarby 45 medewerkers betrek is. Onder diegene wat Louw persoonlik geken het en oor hom skryf, tel PG du Plessis en Adam Small. Albei se bydraes is die laaste uit hul pen en is net voor hul dood voltooi.

Sedert die instelling van FMR was Muller ’n groot voorstander van ’n stewige aanbod in Afrikaans op die streekstasie, waar hy 15 jaar lank musiek-, kuns- en boekprogramme op ’n vrywillige grondslag aangebied het.

Sedert die instelling van FMR was Muller ’n groot voorstander van ’n stewige aanbod in Afrikaans op die streekstasie, waar hy 15 jaar lank musiek-, kuns- en boekprogramme op ’n vrywillige grondslag aangebied het.

Die bydrae wat Muller op hierdie gebied gemaak het om ’n wye spektrum van Afrikaanse boeke – van kinderlektuur tot die bespreking van leksikografiese werke – maandeliks in ’n gebalanseerde program aan te bied, het wyd aanklank gevind en groot belangstelling gewek.

Danksy sy ywer het hy oor die jare ’n verskeidenheid medewerkers opgebou, onder wie bekende akademici en skrywers soos Hennie Aucamp, George Weideman, André P. Brink, Ampie Coetzee, Chris van der Merwe, Kay de Villiers, Louise Viljoen, Zandra Bezuidenhout, Marius Crous, Tempel Hauptfleisch, Bill Nasson, Joan Hambidge, Abraham H. de Vries, Adam Small, Petra Müller, Johann de Lange, Antjie Krog, Francois Smith, Cas van Rensburg, Jeanne Goosen, Max du Preez, Nanette van Rooyen en Hettie Scholtz.

Dit was ook deur hierdie verbintenis dat hy sy vrou – ook ’n medewerker van FMR – 22 jaar gelede ontmoet het.

As akademikus was hy verbonde aan vyf Suid-Afrikaanse en twee Amerikaanse universiteite, waar hy hom op die terrein van die sielkunde onderskei het. Sy baanbrekerswerk was die instelling van sielkunde-departemente aan die Fort Hare-Universiteit en Port Elizabeth (nou Nelson Mandela).

Die werk waarvoor hy later ook internasionale erkenning geniet het, was op die gebied van konflikresolusie. Hy was medestigter van die Sentrum vir Konflikresolusie aan die Universiteit van Kaapstad, wat ’n kernrol in die voorbereidings vir ’n demokratiese Suid-Afrika in 1994 gespeel het. Hy het ook uitgebreid op sy vakgebied gepubliseer.

Meer oor:  Fmr  |  Musiek  |  Ampie Muller  |  Sauk  |  Kuns  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.