SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Musiek
Geliefde sopraan sing weer ná sy ‘inkonk’
Zanne Stapelberg de LangeFoto: Argief

Die sangeres Zanne Stapelberg de Lange betree weer die kollig nadat sy weens ’n uitmergelende konsertskedule stil-stil in 2015 besluit het om haar sangloopbaan vaarwel toe te roep.

Dié sopraan, wat opera landwyd gelief gemaak het onder veral aanhangers van ligte en kontemporêre Afrikaanse musiek, sê sy is “baie opgewonde” om so gou moontlik weer die loopbaan te hervat wat haar vier jaar gelede tot stilstand gedwing het.

“Ek het in 2015 sowat 130 optredes gedoen. Reis, repetisies, die heeltyd nuwe repertoire leer. Dit was soos ’n verslawing – ek kon nie genoeg daarvan kry nie.

“Maar ek het ingekonk. My liggaam en my siel het eenvoudig . . . Ek kon net nie meer nie. My gesin het almal swaargekry weens my loopbaan, en toe het ek besluit genoeg is genoeg,” sê sy.

Stapelberg de Lange sê sy het toe haar besige skedule geheel en al uitgevee, al haar sosialemediarekeninge uitgewis, en die meeste van haar video’s van YouTube af verwyder.

“Ek dink baie mense het gedink ek is dood,” sê sy laggend, “maar ultimately het ek net tyd nodig gehad om by my kinders te wees, hul kosblikke elke oggend te pak en saans vir hulle slaaptydstories te lees – ook om net my mond toe te maak. Ek het eindelik vir ’n jaar lank glad nie gesing nie. Niks. Ek kon ook nie na musiek luister nie – dit het my hartseer gemaak.”

Dié stiltetyd het wel ’n geleentheid oor haar pad gebring wat sy nooit kon voorspel nie: Sy is nie net genader om sanglesse te gee nie, maar is ook gevra om ’n koor van 110 gr. 2- en gr. 3-leerlinge by die Durbanville Voorbereidingskool af te rig.

“Ek het net gedink: Hoekom nie? Nou is dit wonderlik. Ek voel soos Willy Wonka in die sjokoladefabriek en die koorlede is die Oompa Loompas. Dit is ’n ongelooflike geleentheid en verantwoordelikheid.”

Die nuwe musikale avontuur het ook tot heelwat insig gelei, sê sy – oor die loopbaan wat was, maar ook dít wat sy volgende wil aanpak.

“Ek het geleer ek hoef nie die heeltyd konsert te hou nie. Dit was een van my grootste foute – en dit het my eindelik siek gemaak.

“In die toekoms wil ek baie meer gebalanseerd musiek maak. Ek is klaar met die koor en my studente gedwing om ’n standvastige roetine te hê, en met my kinders – Alexander (11), Maja (8) en Katinka (5) – is ek ook vas, maar ek sal nie weer my tyd met hulle inboet nie.

“Gelukkig raak hulle nou ouer en meer onafhanklik, en ek het ’n wonderbaarlike man (Jomar de Lange), wat my met nuwe konserte ondersteun.

“So ja, ek is terug. Ek mis dit – om musiek te maak en konserte te lewer – maar ek is met hierdie vertoning terug.”

My seun het onlangs vir my gesê: Mamma, ek wil hê Mamma moet weer sing, want dit maak Mamma gelukkig. En dit is so: Musiek maak my vry . . .
Zanne Stapelberg de Lange

Stapelberg de Lange gaan haar loopbaan nou weer aan die gang kry met die vertoning VRY, wat binnekort by Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, Kaapstad, aangebied word.

“My seun het onlangs vir my gesê: Mamma, ek wil hê Mamma moet weer sing, want dit maak Mamma gelukkig. En dit is so: Musiek maak my vry – dit is hoekom ek die konsert VRY noem.”

Stapelberg de Lange gaan saam met die pianis Philippus Hugo en die violis Piet de Beer op die verhoog wees.

“Ek doen in die program twee opera-arias, ook musiek uit musiekspele en rolprente, Spaanse musiek en die ‘El Tango de Roxanne’ uit Moulin Rouge – dis vurig, passievol, so ’n bietjie ironies, filosofies en vol hartewee, maar ook laf en tong in die kies.”

En sy bied dié konsert met ywer en mening aan, sê sy.

“Ek lewer nie net konserte vir thrills of om kaartjies te verkoop nie. Ek doen dit omdat ek glo dis goeie musiek – en ek wil dit mooi sing. Ek wil weer met gehore deur musiek kommunikeer, en ek wil dit met oorgawe en vaardigheid doen; dís vir my belangrik.”

  • VRY word op 24 November om 13:30 in Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, Kaapstad, aangebied. Kaartjies kos R140 en kan by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com bespreek word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.