Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Geniet internasionale operas midde skaarsste
Peter Mattei as Wozzeck en Elza van den Heever as Marie in die Metropolitan-operahuis se operaproduksie ‘Wozzeck’.

Gegewe die klaaglik karige aanbod van operaproduksies in Suid-Afrika is The Met: Live in HD ’n redding vir liefhebbers van dié genre. In die 14de Met-reeks, wat in Ster Kinekor se Cinema Nouveau-teaters vertoon word, kan gesien word hoe Suid-Afrika se kunstenaars in dié gevierde operahuis in New York vaar.

Die reeks open met die veelsydige Suid-Afrikaanse meester William Kentridge se voorstelling van Wozzeck, ’n opera deur die Oostenrykse komponis Alban Berg. Dis nie al nie, die Suid-Afrikaanse mezzosopraan Elza van den Heever sing die vroulike hoofrol.

Opskrifte soos “William Kentridge’s staging is dense and dazzling” en “A visually rich and musically memorable production” het in die media verskyn toe die produksie in Desember 2019 in die Metropolitan-operahuis in New York geopen het.

Kentridge se werk is nie onbekend in die buiteland nie. Hy het ook Sjostakowitsj se opera The Nose en Lulu van Berg in die Met op die planke gebring en in 2017 is dieselfde Wozzeck-voorstelling onder groot lof op die Salzburg-fees opgevoer.

The New York Times beskryf die verhoog as “voller as ooit met Kentridge se kenmerkende houtskoolsketse, animasie en films met lewende mense teen ’n agtergrond van verskeie loopplanke en skuinstes.”

William Kentridge se verhoogvoorstelling van Alban Berg se opera ‘Wozzeck’, wat van 1 Februarie in Suid-Afrika se Cinema Nouveau-teaters vertoon word.

Peter Mattei vertolk die soldaat Wozzeck wat in die Eerste Wêreldoorlog deur sy kaptein verneder en van ’n onsedelike lewe beskuldig word.

Wozzeck het verskeie probleme, soos ’n vrees vir skemertyd wanneer hy gereeld visioene van dood en vernietiging sien.

Hy het ’n seun by Marie (Van den Heever) met wie hy nie getroud is nie. Sy verlaat hom en sleep dan vlerk by die majoor.

Wanneer Wozzeck na Marie gaan soek, tref hy haar vol berou aan, maar neem haar nietemin na ’n dam waar hy haar doodsteek. Die kaptein en dokter sien toevallig hoe Wozzeck, op soek na die mes wat uit sy hand geval het, al dieper die dam instap en verdrink, maar hulle wend nie ’n poging aan om hom te red nie.

Ander belangrike sangers is Christopher Ventris (die majoor), Gerhard Siegel, Andrew Staples, Christian Van Horn en Tamara Mumford.

Yannick Nézet-Séguin is die “briljante dirigent wat kragtige én delikate klanke uit die Met se orkes haal”, skryf The New York Times.

Ander nuwe produksies in die Met Live-reeks sluit Philip Glass se 20ste eeuse opera Akhnaten in, ’n nuwe Porgy and Bess, die Met se première van Agrippina van Handel en ’n nuwe voorstelling van Wagner se Fliegende Holländer met die formidabele Walliese basbariton Bryn Terfel in die hoofrol.

Hier is die volledige Met Live-program in Cinema Nouveau-teaters: Wozzeck – 1 Februarie; Porgy and Bess – 22 Februarie; Agrippina – 21 Maart; Der Fliegende Holländer – 11 April; Tosca – 2 Mei; Maria Stuarda – 6 June. – Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne www.opera-online.com, www.metopera.org, www.ft.com en www.nytimes.com.

Meer oor:  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.