Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Gereformeerde Blues Band herenig – maar net tydelik

Dertig jaar nadat die legendariese Gereformeerde Blues Band (GBB) saam met Johannes Kerkorrel die album Eet kreef! uitgereik en die Voëlvrytoer onderneem het, gaan hulle tydelik vir drie konserte in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria herenig.

Van links is Piet Pers (Gary Herselman), Hanepoot (Jannie van Tonder), Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en Mnr. Volume (Willem Möller). Foto: Verskaf

Die groep is deur Kerkorrel, voorsanger en klawerbordspeler, gedoop en het ’n leeueaandeel gehad in nie net dié sanger se reuse-opgang in die laat 1980’s en vroeë 1990’s nie, maar ook in die musikale middelvinger wat sangers soos André Letoit (Koos Kombuis), Bernoldus Niemand en die Swart Gevaar én Kerkorrel die apartheidsregering gewys het.

Drie van die oorspronklike vier lede – die kitaarspeler Mnr. Volume (Willem Möller), die baskitaarspeler Piet Pers (Gary Herselman), en die trom- en tromboonspeler Hanepoot (Jannie van Tonder) – gaan saamspan met die sanger Karla Krimpelien (Tonia Selley), wat Kerkorrel se skoene sal volstaan. Kerkorrel is in 2002 oorlede.

Möller sê daar is eintlik drie redes hoekom hulle weer as die GBB musiek gaan maak.

“Een, ons kry steeds gereeld versoeke om weer te speel van mense vir wie die GBB se musiek baie beteken het.

“Twee, ons het besluit om Riku Lätti se Die Wasgoedlyn en die rymkletser Churchil Naudé te betrek omdat ons voel ons is op dieselfde golflengte. Om saam met hulle te werk, maak alles weer vars.

“Drie, ons is Johannes Kerkorrel se grootste fans, so ons kry self nog ’n groot thrill om daai songs te speel.”

Möller sê hy het in die laat 1980’s as musikant en klankingenieur in Johannesburg gewerk en deur gemeenskaplike vriende gehoor van ’n kabaretvertoning wat Kerkorrel in die Black Sun (’n eertydse kabaretteater in Yeoville) gelewer het.

“Ek en Jannie het gaan luister. Ons het Ralph (Rabie, Kerkorrel se geboortenaam) ontmoet en planne is toe gemaak om die band te begin.”

Karla Krimpelien (Tonia Selley), Hanepoot (Jannie van Tonder), Mnr. Volume (Willem Möller) en Piet Pers (Gary Herselman). Foto: Verskaf

Möller sê Selley, sy vrou, was eintlik reeds sedert die Voëlvrytoer ook deel van die groep.

“Sy het die songs baie saam met Ralph vertolk, en sy het ’n pragtige stem en verhoogpersoonlikheid. Ons het oor die afgelope paar jaar ’n hele paar shows met haar op vocals gedoen, en dis vir ons baie lekker om dit só in die familie te hou.”

Kerkorrel se liedjies en die groep se musiek het vroeër vanjaar op die Vrystaat Kunstefees opgeklink toe die akteur en sanger Laudo Liebenberg en vyf ander musikante die liedjies in die produksie Eet Kreef! gesing het. Möller sê dis vir hom ’n riem onder die hart.

“Ons is natuurlik bly dat Ralph se songs so ’n impak gemaak het dat mense dit 30 jaar later nog wil laat voortleef,” sê hy. “Ons voel baie sterk oor die krag van protesmusiek, en hoewel Ralph se lirieke na ’n baie spesifieke situasie verwys, is die boodskap nog net so relevant.

“Maar jong mense moet ook op hul eie manier hul eie protes teen vandag se euwels uitdruk. Ons voel Churchil is iemand wat dit pragtig regkry en dis hoekom dit vir ons so lekker is om saam met hom te werk.”

Sal die GBB ooit weer heeltyds saam musiek maak?

“Nee, dis nie finansieel en andersins prakties om een band ‘heeltyds’ te bedryf nie,” sê Möller. “Ons is almal heeltyd by ’n klomp verskillende projekte betrokke, en ek dink ons hou almal so daarvan – dis stimulerend en hou ons almal besig.”

Die Gereformeerde Blues Band gaan in drie konserte optree:

  • Op 27 Oktober tree hulle saam met Lätti en Naudé op. Die konsert is om 20:00 in die Barnyard-teater in Bellville, Kaapstad. Kaartjies kan teen R150 by www.barnyardtheatre.co.za bespreek word.
  • Op 29 November is die groep saam met The Kêrels om 19:00 in die Pirates Bowls Club in Randburg, Johannesburg, te sien. Kaartjies teen R195 kan op www.howler.co.za bespreek word. Die ouderdomsbeperking is 18.
  • Die groep is ook op 1 Desember om 10:00 in die Voortrekker-monument se natuurreservaat in Pretoria te sien. Die Park Acoustics-konsert sluit ook onder andere The Narrow en Jack Parow in. Kaartjies tussen R150 en R175 word op die webwerf www.plankton.mobi verkoop. Die ouderdomsbeperking is 18.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.