Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Getoorde musiek wat vlieg
Die omslag van die album, Sleep Well Beast.

Jy weet jy’s regtig lief vir ’n groep se musiek wanneer die nuus van ’n nuwe album jou skoon gespanne maak. En kyk, as jy ’n ou is wat gemengde gevoelens oor al sy gemengde gevoelens koester, maar tog probeer klou aan ’n bietjie houding en rock ’n’ roll, dan is die woorde en sang van Matt Berninger een van die min plekke waarheen jy nog snags kan gaan.

Dan kan jy eenvoudig nie ’n middelmatige nuwe National-album bekostig nie. Dié dat ek in Mei vanjaar effens angstig begin raak het toe “The System Only Dreams in Total Darkness” – die vroeë lusmaker vir die eerste National-album sedert Trouble Will Find Me (2013) – nie my hart dadelik laat vlam vat het nie.

Ek het begin wag op die nuwe plaat soos iemand op ’n groot, moontlik teleurstellende reünie.

Ná verskeie aandagtige padtoetse en laatnagluistersessies is ek daarom diep verlig om te sê: Sleep Well Beast is ’n gevleuelde, getoorde dierasie.

The National gee jou weer al die nuwe self-ironiese perspektiewe wat jy op al jou knaende probleme nodig het; gee jou weer woorde en klanke wat soos jou eie kosbaarste, tweesnydende herinneringe in jou gemoed brul of saggies draal.

Watter ander groep kan jou laat voel jou alledaagse angs, onsekerhede en gespartel is belangrik genoeg om groot rock-gesange soos “Day I Die” en “The

System Only Dreams in Total Darkness” te inspireer? (Ja, ook daai een het my intussen verlei.) Wie anders skryf dodelike ballades met titels soos “Born to Beg” en “Dark Side of the Gym”?

Dis net in ’n liedjie van The National wat ’n verslae diepnag-drenkeling in Berninger se vertroostende bariton sy waardigheid kan behou terwyl hy bely: “I have no positions / No point of view or visions / I’m just trying to stay in touch with / Any-thing I’m still in touch with.” (“I’ll Still Destroy You”)

Hierdie vyf tragikomiese musketiers vergewe jou alles, jou mislukte liefdeslewe inkluis, met “Guilty Party” in ’n dronkverdrietige melodie wat sing in eenvoudige woorde wat presies verstaan: “It all, all catches up with me all the time”.

En dis nie net Berninger en sy lirieke wat weer uit die boonste bittersoet boekrakke is nie. Tussen die Devendorf-broers, Bryan op tromme en Scott op bas, en die Dessner-tweeling, Aaron en Bryce op kitare en allerhande ander instrumente, word musiek geskep wat nooit skaam is om aansteeklike pop en rock te wees nie.

Dis egter terselfdertyd so gesofistikeerd aanmekaar gesit dat dit ’n absolute plesier is om met oorfone te verken. The National klink steeds soos ’n gedokterde mengsel van Leonard Cohen en Joy Division, maar daar is nuwe elektroniese ritmes – selfs eggo’s van dub-step in die titelsnit.

Allerhande motiewe en verrassende klanke flits en glip deur die donker wier van melodieë. Daar is selfs ’n lieflike klein self-spottende kitaarsolo in “Carin at the Liquor Store” wat klink asof hy borrels onder water deur sy neus uitblaas. En dit pas net perfek in ’n liedjie waarmee Berninger verklaar: “I wasn’t a catch, I wasn’t a keeper / I was walking around like I was the one who found dead John Cheever”. Cheever is die Tsjechof van die voorstede genoem, en The National klink al hoe meer na die Tsjechofs van indie-rock, wat met Sleep Well Beast weer net betyds opgedaag het.

Soos kamerdiens in die Heartbreak-hotel; soos koffie en biltong vir almal op kommando in die deurnag-buurtwag.

Topsnitte:

“Nobody Else Will Be There”

“Day I Die”

“I’ll Still Destroy You”

“Guilty Party”

“Carin at the Liquor Store”

Meer oor:  Rock  |  Danie Marais  |  National
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.