Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Gevierde Ashkenazy (82) klaar met openbare lewe
Vladimir Ashkenazy die dirigent en . . .

Vladimir Ashkenazy se jare lange bestuurder het die uittrede van dié deurwinterde en wêreldbekende pianis en dirigent op 17 Januarie aangekondig en gesê dit tree dadelik in werking. Ashkenazy is 82 jaar oud.

Jasper Parrott (bestuurder) het op sy agentskap se webwerf geskryf: “Ashkenazy het besluit die tyd het aangebreek om summier uit alle openbare optredes te tree.”

Dié formidabele musikus het in 1955 internasionaal bekend geword toe hy die tweede prys in die Internasionale Chopin-klavierkompetisie in Warskou gewen het. ’n Jaar later het hy die Queen Elisabeth-kompetisie in België gewen en in 1962 die eerste prys in die Tsjaikofski-kompetisie met John Ogdon gedeel.

Sy verbintenis met die platemaatskappy Decca het in 1963 begin en merkwaardige opnames opgelewer, soos die volledige stel klavierconcerto’s van Rachmaninoff en Prokofiëf met André Previn as dirigent en al die Beethoven-vioolsonates saam met Itzhak Perlman.

. . . die pianis.

Van die middel 1980’s het hy ’n parallelle loopbaan as dirigent gevestig en was van 1987 tot 1994 die hoofdirigent van die Royal Philharmonic Orchestra in Londen, en van 1998 tot 2003 in dieselfde hoedanigheid by die Tsjeggiese Filharmonie. Hy was ook die ere-dirigent van Londen se Philharmonia Orchestra en die Ysland-simfonieorkes en van 2009 tot 2013 was hy die hoofdirigent van die Sydney Symphony Orchestra in Australië.

Ashkenazy, wat op 6 Julie 1937 in Gorky, Rusland, gebore is, se pa was ’n pianis en komponis en sy ma ’n aktrise.

Hy het op sesjarige ouderdom met klavierlesse begin en ná skool aan die Moskouse konservatorium studeer.

Daar het hy sy vrou ontmoet, die Yslands gebore Dódý Jóhannsdóttir, wat ook musiek studeer het en met wie hy in 1961 getroud is.

Toe die egpaar aansoek gedoen het om haar ouers in Londen te besoek, is hulle aan uitgerekte burokratiese rompslomp onderwerp. In 1963 het die Ashkenazy-gesin Rusland permanent verlaat en Yslandse burgerskap verkry. Die gesin, hulle het vyf kinders, woon sedert 1978 in Switserland.

Tydens hul verblyf van 1968 tot 1978 in Ysland het Ashkenazy die Reykjavík-kunstefees gevestig, waarvan hy steeds die ere-president is.

Sy oudste seun, ook Vladimir, is ’n pianis en dosent aan die gevierde Imola-klavierakademie in Italië, waar onder andere die Suid-Afrikaanse pianis Ben Schoeman studeer het. Hul tweede seun, Dimitri, is ’n klarinetspeler. Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne: classicfm.com, wikipedia.org, gramophone.co.uk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.