Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Gewilde opera in Mamre nou in Darling
Reuben Mbonambi

Die jaarlikse Opera in Mamre in die Sendingkerk word nou al ’n hele paar jaar aangebied en trek ondersteuners so ver as Lutzville, Struisbaai, Wellington en Worcester.

Vanjaar word dit Sondag om 14:00 in die NG kerk op Darling aangebied.

Nege jong sangers se stemme kan gehoor word – drie tenore, twee baritons, twee soprane, een mezzosopraan en een bas. Hulle sing verskeie gewilde arias, duette, kwartette en ’n sekstet uit ’n verskeidenheid Italiaanse operas van Rossini, Bellini, Donizetti, Verdi en Puccini. ’n Eerste vir Kaapstad is die meesleurende kwartet “A te, o cara” uit I Puritani van Bellini.

Dit is ’n uitdagende aria vir die tenoor omdat nie almal die hoë F kan bereik nie.

Thys Greeff, wat jaarliks die operadag reël, het die jong tweedejaarstudent Luvo Maranti by UK se Operaskool gehoor en besef dit is ’n stem wat aan ’n groter publiek bekend gestel moet word.

Maranti het pas die eerste prys verower in die tenoorkategorie in die internasionale sangkompetisie Voices of South Africa wat aanlyn uit Londen aangebied is. Die aangrypende tenoor-aria, aangevul deur ’n hoë sopraan, gesing deur Moloko Letsoalo, wat op pad Londen toe is om aan die Royal College of Music te gaan studeer, word in die kwartet ondersteun deur ’n koor van vyf ander stemme.

Sit daarby die beroemde kwartet uit Rigoletto en die sekstet uit Lucia di Lammermoor, en dit is Italiaanse opera op sy allerbeste, sê Greeff.

Die jong koloratuursopraan Yolisa Ngwexana van Potchefstroom, wat onder meer “Caro nome” uit Rigoletto sing, is die wenner in die sopraankategorie in dieselfde kompetisie. So ook die bas Reuben Mbonambi, wat die Diemersfonteinprys gewen het. Die res van die sangers is die tenoor Nathan Lewis van die konservatorium op Stellenbosch, die mezzosopraan Lusibalwethu Sesanti, ook van die konservatorium, die bariton Lwazi Dlamini en Sakhiwe Mkosana, albei nagraadse studente van die plaaslike operaskool.

Die jong tenoor Lulama Taifasi wat deur Kamal Khan, vorige hoof van die Operaskool op YouTube ontdek is waar hy ’n Italiaanse aria sonder enige sangopleiding sing, tree ook op. Hy het vroeër vanjaar in La Traviata tydens Die Woordfees gesing. Hy is tans ’n private student van Hanna van Schalkwyk en gaan waarskynlik volgende jaar sy sangopleiding in Italië voortsit.

Die sangers is afgerig en word begelei deur die bekende José Dias wat elke aria en item kortliks sal toelig.

Kaartjies teen R130 is beskikbaar by 082 749 4457 of by thysgreeff@isat.co.za. Covid-19-regulasies vir toegang tot die kerk en gesonde afstand in die kerk sal gevolg word. Konsertgangers kan vanaf 12:00 ’n spesiale opera-ete geniet by Evita se Perron.

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Darling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.