Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ghoemas: Steve ‘verward’ oor al die steun

“Daar is soveel briljante kunstenaars wat eer verdien. Hul harde werk kan nie oorskadu word deur die onttrekking van ’n video nie. Die gewig van die besluit lê in die viering van die kunstenaars.”

So sê Heidi Edeling, uitvoerende hoof van kykNET se Ghoema-musiekeerbewyse, in die lig van die omstrede besluit om Steve Hofmeyr se benoeming vir beste musiekvideo vir “Die land” te onttrek.

Steve Hofmeyr Foto: Verskaf

MultiChoice het ’n ultimatum aan die Ghoema Musiek Trust gestel om die benoeming van dié video met Steve Hofmeyr en ander betrokkenes te onttrek en nie met hom geassosieer te word nie, lui ’n verklaring deur Edeling.

Joe Heshu, MultiChoice se hoof van korporatiewe sake, het vroeër by navraag aan Netwerk24 gesê Hofmeyr se standpunte stem nie ooreen met dié van die maatskappy nie.

Hofmeyr sing die lied saam met Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay en Ruhan du Toit.

Demi Lee Moore se video “Mis Eet Slaap Herhaal” is Woensdagaand in die Sun Arena in Pretoria as die beste musiekvideo aangewys.

Sy het in haar bedankingstoespraak gesê sy dink nie sy sou dié prys gekry het as “Die Land” nie onttrek is nie.

demi lee moore
Demi Lee Moore lewer haar toespraak. Foto: Skermgreep

Die Coleske Artists-platemaatskappy het die musiekvideo vir “Die Land” ingeskryf. Arnold Coleske van dié platemaatskappy het vroeër aan Netwerk24 gesê hy is Maandagmiddag per e-pos deur Edeling oor die besluit ingelig om die video aan die benoemingslys te onttrek.

“Coleske Artists is genader en ingelig oor MultiChoice se ultimatum. Coleske Artists het die opsie gekry om die benoeming te onttrek. Die maatskappy was ook in kontak met MultiChoice in ’n poging om die situasie te beredder. Geen finale terugvoer is ontvang nie en die trustees moes ’n dringende besluit neem. Die trustees het ’n meerderheidsbesluit geneem oor die uitsluiting van die video,” sê Edeling.

“Die Ghoema Musiek Trust erken die groter belang van die Ghoemas, die ander kunstenaars, diensverskaffers en kaartjiekopers.”

Verder sê sy alle kategorieë, uitslae en optredes is onaangeraak deur die onttrekking van die video en ouditverslae is een week ná die geleentheid beskikbaar vir enigiemand wat ingeskryf het om te besigtig.

Intussen het Hofmeyr laat hoor hy is “diep teleurgesteld” oor die kwessie.

“Die tirannie van ‘offensionistas’ raak nou ook kunstenaars wat chronies oor hul skouers moet loer,” het hy in ’n boodskap gesê.

Hofmeyr se seun Devon is gevra om die geleentheid te verlaat saam met ’n vriend, nadat hulle in die gehoor opgestaan en gesê het dit is ’n leuen dat die Afrikaanse taal en kultuur by die Ghoemas gerespekteer word, en dat dit in der waarheid gesensureer word, het Susan Cilliers berig.

Netwerk24 het ’n paar vrae aan sy assistent, Leeza Mulder, gestuur wat dit op haar beurt vir hom gestuur het om te reageer.

Hy sê die Ghoemas se raad van trustees het “geensins” kontak met hom gemaak om hul besluit om “Die Land” te onttrek, te verduidelik nie.

Op die vraag oor wat hy van Moore se toespraak gedink het, het hy gesê: “Uiteindelik sal die nuwe generasie sangers langsamerhand ’n paar oorlewingswaardes saamvat die toekoms in. Jy mag nie die welstand van jou taal en kultuur reduseer tot ’n paar koerasieliedjies van drie minute nie. Dis te maklik.”

Talle Afrikaanse sangers en ’n paar organisasies het die Ghoema-prysuitdeling uit protes geboikot. Hofmeyr se seun Devon is gevra om die geleentheid te verlaat saam met ’n vriend, nadat hulle in die gehoor opgestaan en gesê het dit is ’n leuen dat die Afrikaanse taal en kultuur by die Ghoemas gerespekteer word, en dat dit in der waarheid gesensureer word, het Susan Cilliers berig.

“Ek veg die stryd al so lank alleen, ek is skoon verward oor al die ondersteuning,” sê Hofmeyr.

Terwyl die glansgeleentheid voortgegaan het, het hy in Welkom gesing.

“Ons (hy en die gehoor) het ‘Die Land’ gesing,” sê hy.

Hy het getwiet dit het “lanklaas so mooi geklink soos vanaand in die Oppenheimer-teater”.

Die Ghoemas word Saterdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Die aankoms van die kunstenaars en gaste op die blou tapyt word Sondag om 18:30 op kykNET NOU!, DStv-kanaal 146, uitgesaai, met ’n heruitsending van die Ghoema-gala-aand net daarna.

Of Hofmeyr dit gaan kyk, besluit hy nog.

“Dalk, ja. Maar sal ek dit glo?”

Meer oor:  Kyknet  |  Multichoice  |  Ghoemas  |  Steve Hofmeyr  |  Boikot  |  Vermaak  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.