Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Groot is sy trots oor CD

Deon Groot se tweede album is pas bekend gestel en sy aanhangers is gaande daaroor. Hy vertel sy sukses het nie oornag gekom nie, en beantwoord Terésa Coetzee se vrae aan hom.

Die sanger Deon Groot verklap nie maklik sy ouderdom nie. Foto: WILLEM BOTHA

Vertel ons meer van jou grootwordjare.

Ek is in Oraruru, Namibië, gebore, maar ek was nog jonk toe ons na Kriel in Mpumalanga verhuis het. Ek het in Namakwaland in ’n klein dorpie genaamd Alexanderbaai gematrikuleer en dis waar ek my menswees begin vind het en begin skaaf het aan wie ek vandag is. Die dorpie is net so duskant die Oranjerivier se uitmonding in die Atlantiese Oseaan op die grens met Namibië.

Wat is van jou lekkerste kinderherinneringe?

My kinderjare onthou ek waar ek en my ouers in ons Ford Sierra Namibië toe ry om te gaan vakansie hou met musiek in die kar. Bles Bridges, Julio Iglesias en Randall Wicomb om maar ’n paar te noem.

Ek was drie toe ek met ’n stuk polonie onder die arm van ons huis weggeloop het. Ek het by die bure se huis gaan aanklop en heel toevallig het die dogtertjies wat daar gebly het, se ma vir hulle vertel hulle gaan ’n boetie kry wat geskenke gaan bring. En net toe daag ek daar op. Daar was lekker groot moeilikheid en tot die polisie was op soek na my!

Ek het met musiek grootgeword met my ma wat klavier, mondfluitjie, saag en trekklavier kon speel. Sy het altyd vir ons “Blue Eyes Crying in the Rain” gespeel.

Jou sukses het nie oornag gekom nie.

Dis waar ja, almal dink ek het binne drie jaar ’n deurbraak in die musiekwêreld gemaak, maar ek werk al 15 jaar aan my loopbaan. Ek het in 2004 ’n meisie gehad wat my ’n paar drukke op die kitaar leer speel het en toe ons uitmaak, wou ek aan my gevoelens uiting gee en ek het liedjies begin skryf. In 2007 het ek ’n karaoke-kompetisie in ’n kroeg in Pretoria gewen en die eienaars vra my toe of ek Saterdae daar wil optree. Dit was die begin en in 2014 het ek besluit om voltyds te sing.

Hoe lyk jou lewe deesdae?

My lewe is redelik eenvoudig, ek is enkellopend, my diere is my kinders, soos die groen boomslang wat basies die huis regeer.

Deon Groot, die enkelloper wat ’n boomslang as troeteldier aanhou. Foto:

Vertel ons van jou nuwe CD.

Hierdie CD het baie unieke klanke en ek is regtig trots daarop. Dit bring my Namakwalandse storievertelstyl na vore en elke liedjie het ’n storie en dit word vertel met mandoliens, banjo’s, konsertinas en mondfluitjies soos jy nog nooit in Afrikaans gehoor het nie. Dit is amper soos moderne countrymusiek met ’n sterk bluegrass-, rock- en pop-ondertoon.

Jy lyk soos ’n tipiese moderne metro-man. Wat doen jy om jou voorkoms goed te hou?

Nee, ek is ’n geharde Namakwalander, daar is niks metro aan my nie. Ek hou van visvang, in die bos wees, jag en sport soos rugby.

Jy het al vertel emosies soos liefde, hartseer en pyn inspireer jou om liedjies te skryf.

Ek vind baie van my lirieke in my eie ondervindings, maar ek luister ook graag na mense en hul stories om my te inspireer. Met liedjies soos “Ek sweer” en “Hemelpoorte” delf ek juis in my eie hart in.

Is jy trots Suid-Afrikaans?

Supertrots. Ons sit met soveel mooi in die land en met sulke mooi mense in Afrikaans. Ek’s die hele land vol die laaste ruk en my vriend Gertjie in die Oos-Kaap se motto wat vir my ook uitstaan is dat jy net een lewe het en jy moet dit gebruik.

Augustus is Vrouemaand. Watter vroue speel ’n belangrike rol in jou lewe?

My suster en my ma. Daai twee is my siel en my lewe en met hulle kan ek ’n lewe nog ’n keer deurgaan. Ek en my sus was nie na aan mekaar op skool nie, maar sy is ’n sagte bondeltjie liefde wat nie sleg in mense kan raaksien nie en ek leer baie by haar. My ma . . . Woorde kan nie eens beskryf hoe baie sy my help en al gehelp het nie. Dit wie sy vir my en my sus en pa is, is ongelooflik. Nie net in wat sy bied in liefde nie, sy bring belangstelling en passie! Die geduld van ’n moeder is ongelooflik, veral myne!

Deon Groot. Foto:

Waarna luister jy op die oomblik?

Ek luister moderne country, meestal oor my klanke baie daarna neig en countrymusiek ook stories vertel. Blake Sheldon se “God’s Country” is vir my die mooiste lied. Jou gunsteling-vakansiebestemming in ons land?

Franskraal. Ons het ’n gastehuisie daar en dis die plek waarheen ek die graagste gaan. Die mense en die natuur is ongelooflik daar.

Jou ses gunstelingflieks?

Shutter Island

The Book of Eli

Inception

10 Cloverfield Lane

Birdbox

American Sniper

Jou gunsteling-koffiewinkel en kuierplek?

Koffiewinkel: beslis Moo Moo by Mall@reds in Rooihuiskraal. Kuierplek: Bosvelder in Centurion saam met Weiveld.

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Cd  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.