Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Guns N’ Roses kies WONDERboom

’n Uur voor hul eerste vertoning van die Best Side Story-toer, sit twee van die vier lede van WONDERboom in hul aantrekkamer in die Barn-yard-teater by Silverstar Casino.

Wonderboom tydens hul optrede in die Barnyard-teater by die Silverstar Casino. Van links is Martin Schofield, hoofkitaarspeler, Martin “Cito” Otto, sanger en kitaarspeler, en Wade Williams, baskitaarspeler. Agter is Jonathan Bell, tromspeler. Foto: Jeanelle Greyling

’n Mens sou verwag die groep, oorspronklik van die Wes-Rand, gaan effens selfvoldaan oorkom, veral nadat Guns N’ Roses húlle uit die top-rockgroepe in die land gekies het om op 29 November in die FNB-stadion in Johannesburg vir hulle te open.

Martin “Cito” Otto, sanger en kitaarspeler, en Jonathan Bell, tromspeler, is egter plat op die aarde en bied dadelik van hul kos, water en ’n stoel aan.

Die res van die groep – Martin Schofield, hoofkitaarspeler, en Wade Williams, baskitaarspeler – sit in die verkeer vas.

Ná die ditjies en datjies gesels ons oor die geleentheid om vir Guns N’ Roses te open.

“Die uitvoerende hoof van Big Concerts het Martin gebel en gevra of ons sal belangstel om vir hulle te open,” sê Cito.

“ ’n Paar betroubare mense in die bedryf het ons glo aanbeveel.”

Jonathan sê dié mense het gehoor die band se nuwe album, Rising Sun, is ’n wegholsukses.

“Ons moes egter promosionele materiaal indien. Baie ander groepe het aansoek gedoen, maar Guns N’ Roses het ons uit die top-rockgroepe in die land gekies,” sê Cito.

Ons is lief vir mekaar. Ons is soos broers. Ons hou daarvan om saam op te tree en musiek te skep.

Guns N’ Roses was vir Cito ’n baie groot invloed toe hy begin sing het en geleer het om baskitaar te speel.

Vir Jonathan is hulle rolmodelle. “Ek was ’n bietjie jonger toe hulle uitgekom het, maar hulle is cool rock ’n roll-ouens.”

“Martin sal definitief erken Slash (Guns N’ Roses se hoofkitaarspeler) is ’n groot invloed,” sê Cito. “Hy en Slash speel soortgelyke kitare en die hele houding wat Guns N’ Roses het, veral hul verhoogpersoonlikheid, is ongelooflik.

“Dis regtig rock ’n roll. Al hou ons meer van indie en Britse musiek, hou ons van Guns N’ Roses se gees.”

WONDERboom is allermins ongewoond aan roem. Trouens, hulle is in Desember verlede jaar as die beste groep uit al die deelnemende lande by die Silk Road Indie Music Festival in Chengdu, China, aangewys.

“Dit was ’n musiekfees, maar die Chinese is so mededingend dat hulle dit ’n kompetisie gemaak het,” sê Martin, wat intussen by ons aangesluit het.

WONDERboom tydens hul optrede in die Barnyard-teater by Silverstar-casino. Van links is Martin Schofield, hoofkitaarspeler, Jonathan Bell, tromspeler, Martin “Cito” Otto, sanger en kitaarspeler, en Wade Williams, baskitaarspeler.

Sowat 16 lande vanoor die wêreld heen het meegeding.

“Jy kan nie net ’n kaartjie koop en in China gaan speel nie. Jy moet genooi word. So die doel was om vir ander groepe blootstelling te gee,” sê Jonathan.

Cito, Martin en Wade is al 23 jaar lank deel van WONDERboom.

“Ons het op die N1 gery toe Cito die padteken vir Wonderboom, ’n klein boeregemeenskap net buite Kroonstad, sien. Ons het besluit dis die nuwe naam,” sê Martin.

Hoewel die lede verskillende beroepe het, is WONDERboom steeds hul passie.

“As ons nie dié passie gehad het nie, sou ons nie in die groep wees nie,” sê Jonathan, wat vyf jaar gelede by die groep aangesluit het.

“Ons is lief vir mekaar. Ons is soos broers. Ons hou daarvan om saam op te tree en musiek te skep,” sê Cito.

Hoe hanteer hul gesinne dié besige leefstyl?

“Ons almal het ons lewensmaats ontmoet terwyl ons musiek gemaak het,” sê Martin.

“Jy moet maar net die regte meisie kies,” reken Jonathan.

  • WONDERboom is op 15 September by Casalinga Ristorante te sien, op 27 September in die Barnyard-teater by Emperors Palace, op 28 September in die Barnyard-teater in Rivonia, op 10 November in die GoodLuck Bar, op 16 November by Caversham Hill en op 29 November in die FNB-stadion.
Meer oor:  Wonderboom  |  Musiek  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.