Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hadidas bring sterk Afrika-klank op album tuis

Die sanger en digter Andries Bezuidenhout se jongste album, Onplaats, handel oor eg Suid-Afrikaanse karakters. ’n Sterk Afrika-klank was vir hom belangrik. Hy vertel aan AJ Opperman wat hy as ’n teenwig vir pretensie en soetsappigheid beskou.

Andries Bezuidenhout wens hy was ’n beter musikant.

“Ek het ongelukkig op Koos Kombuis leer kitaar speel en dit het my nog altyd teruggehou . . .”

Andries Bezuidenhout

Sy derde soloalbum, Onplaats, wat net digitaal uitgereik word, is op verskeie plekke opgeneem. Dit handel oor Suid-Afrikaanse karakters en waar hulle hulself tans bevind.

“Ek moes leer om self op te neem. Dis ook maar ’n langsame proses as jy niemand het wat jou touwys maak nie,” sê Bezuidenhout, wat deesdae in Alice in die Oos-Kaap woon.

“Die toerusting in my studio’tjie kan travel. So jy kan dit enige plek doen. Ek het ook ’n Zoom-opnemertjie wat mense in die fliekbedryf gebruik om klank op te neem. Ek het dit gebruik vir baie van die agtergrondklanke. Oral waarheen ek gegaan het, het ek ’n tydelike studio opgestel en dan gewerk. En ook sommer as daar mense is wat kan sing.”

Bezuidenhout was voorheen deel van die Brixton Moord en Roof Orkes.

Hy en sy vrou, Irma du Plessis, het in November 2017 na Alice verhuis, waar hy hoogleraar in ontwikkelingstudie aan die Fort Hare-Universiteit is.

‘Onplaats’ deur Andries Bezuidenhout.

Bezuidenhout, ’n Pretoria-boorling, het lank probeer om Johannesburg en Pretoria te verlaat.

“Ek het dit uiteindelik reggekry, maar dié stede verlaat my nooit nie. En ek kyk nog elke dag na Johannesburg.”

Tydens ons Teams-gesprek tel hy sy skootrekenaar op en draai dit so dat die webkamera wys na die klein ateljee wat hy in sy huis ingerig het. Teen die muur hang ’n skildery van Johannesburg wat hy geskilder het.

“Dit is die uitsig vanaf die balkon waar ons in Observatory in Johannesburg gewoon het. Baie van die liedjies is geskryf toe ek nog daarbo gewoon het, so dit het nog baie Johannesburg- of Pretoria-temas.”

Hy dra die album op aan die Gereformeerde Blues Band – “die ou en die nuwe een”.

“Riku Lätti en Willem Möller (van die lede wat deesdae in die GBB optree) was twee uiters belangrike mense in die produksie van die album. Ek moes leer kitaar speel en ek dink nie ek het dit goed genoeg geleer nie. En ek het tromme geprogrammeer. Ek het so ’n vintage drum box tweedehands in Oos-Londen gekry,” sê hy.

“Ek het die album soort van klaar gemaak. Maar dit was nie baie professioneel nie. Toe het ek dit vir Riku gespeel, want ek vertrou sy oordeel.”

Lätti het gesê die album is oukei, maar hy het Bezuidenhout aangeraai om ’n professionele trom- en baskitaarspeler te gebruik.

“Hy het my toe opgehook met Juan Marais en Mark Ellis, wat ’n ongelooflike goeie job gedoen het. En Riku het my met die meng na Willem gevat. Willem het alles basies oorgemeng en ’n ongelooflike goeie job gedoen.”

Die album bestaan uit 12 snitte.

Bezuidenhout beskryf dit as “redelik mainstream folk”.

“Dit kon enige plek in die wêreld wees, behalwe vir die feit dat dit Afrikaans is.”

Hy het van sy vriende en familie vir die agtergrondstemme gebruik.

“Ek dink dit het ’n sterk Afrika-klank. Die agtergrondstemme is ’n belangrike plaaslike anker. Rosa Da Costa-Bezuidenhout en Vangile Bingwa het as die agtergrondstemme ’n belangrike funksie verrig.”

Hy het ewe veel aandag aan die agtergrondklanke geskenk.

“Jy moet kan hoor dis Suid-Afrika. Die hadida is ’n belangrike tema, die tortelduiwe van Nieu-Bethesda. Soms hoor jy skape in die agtergrond. Honde wat ver blaf. Al daai plaaslike klanke.”

Bezuidenhout het al die lirieke geskryf en al die liedjies gekomponeer, behalwe vir een lied, “Tussen Platvoet en Stoompomp”, wat deur die Nederlandse musikant Herman van Veen gekomponeer is.

“Dit het so half per ongeluk gebeur,” sê Bezuidenhout.

“Ek het op ’n musiekfees in Nederland beland. Dit is op Van Veen se landgoed gehou, naby ’n klein dorpie, Soest. Jannie du Toit, Karin Hougaard en die mense van Joshua na die Reën, Pops Mohamed en Anna Davel was daar, en ek het soort van deurgeglip, per ongeluk.”

Bezuidenhout, Davel en Hougaard het ná die fees agtergebly.

Terwyl Bezuidenhout nog heen en weer tussen Gauteng en die Oos-Kaap gery het, het hy ander paaie deur die Vrystaat gery.

“Ek hou mos nie van hoofpaaie nie. Ek ry die grondpaaie. En toe het ek op die plekke Platvoet en Stoompomp in die Vrystaat afgekom.”

Sedert Bezuidenhout in Alice woon, het hy begin om die landskap te skilder.

Hy het in ’n stadium baie van die huise besoek waarin die skrywer Olive Schreiner in die omgewing gewoon het.

Hy het geskiedkundige foto’s in die hande gekry en dit begin skilder.

Bezuidenhout beskou die musikant David Kramer as ’n rolmodel.

“Hy kom nogal uit ’n realistiese tradisie. Jy probeer om oor sekere idees te praat, maar dit gaan oplaas oor ’n karakter wat die idee moet tuisbring. Ek dink dis die beginsel van realisme in kuns.”

Bezuidenhout glo dié beginsel geld ook in visuele kuns.

“Om enige gevoel waaraan jy werk so konkreet moontlik te maak. En deur dit konkreet te maak, deur ’n realistiese storie daarvan te maak, dink ek, vertel jy ’n baie beter storie as wanneer jy pretensieus raak. Kyk, as jy oor die liefde wil skryf, skryf jy eerder oor ’n situasie, anders is dit net soetsappig. Realisme is vir my ’n teenwig vir soetsappigheid en pretensie.”

Andries Bezuidenhout woon deesdae in Alice in die Oos-Kaap.

Bezuidenhout dink hy voel die tuisste in Johannesburg.

“Omdat dit 20 jaar voor die res van die land is.”

Selfs al woon hy nie meer daar nie, is dit deel van sy wêreld.

Hy sê hy kan maar net oor Brixton, Westdene, Sunnyside “en sulke plekke” skryf.

“Ek kan nie met oortuiging oor die Boland skryf nie. Dis vir my ’n baie interessante plek, maar as Valiant Swart ‘Slawereën’ sing, dan sing hy dit as iemand wat van Wellington af kom, met daai geskiedenis in sy bene.”

Die tema van sy rubriekbundel Toeris in Hillbrow gaan daaroor dat jy nooit in jou eie land tuiskom nie.

“Ek dink dis die grootste tema in my skilderye, musiek en gedigte. Dis die ander ding van Toeris in Hillbrow: Wat Johannesburg vir my ’n heerlike plek maak om in te woon, is amper almal in Johannesburg is ’n immigrant. En ek dink dis hoekom xenofobiese aanvalle daar mense so ontstel, want dis teen die gees van Johannesburg. Dis ’n ware wêreldstad en ’n stad waar almal kan welkom wees.”

Hy praat ook in die Goudstad met die grootste vrymoedigheid Afrikaans. “Sonder die politieke bagasie wat daar in baie ander plekke in die land is.”

Toe Bezuidenhout aan die Universiteit van die Witwatersrand gedoseer het, was sy rekenaarstelsel in Afrikaans.

“Die tegnici was baie verbouereerd as hulle op my rekenaar moes werk. Ek het dit as ’n grap begin. Johannesburg behoort aan niemand nie en daarom behoort dit aan almal.”

• Besoek distrokid.com/hyperfollow/andriesbezuidenhout/onplaats om die album te stroom of af te laai.

Meer oor:  Andries Bezuidenhout  |  Sanger  |  Album  |  Musiek  |  Onplaats
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.