Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Haidee deel haar wegtreknommertjies op RSG
Haidee Muller

Die liedjies wat haar laat verlang, maar ook inspireer, is waarmee Haidee Muller luisteraars in die nuwe musiekreeks Haidee se wegtreknommertjies op RSG trakteer.

Die eerste van 12 episodes, wat elkeen sowat 50 minute duur, word Maandag om 21:00 uitgesaai.

Die “wegtreknommertjies” verwys ook na musiek waarmee sy haar dag afskop en wat haar ritme of luim daardie dag bepaal.

“Ek kies dit nog voor ek in die motor klim. Soms wil ek net na stadige snitte luister en dan verloop my dag ook so rustig. Dit hang af met watter voet ek uit die bed uit opstaan. Ek is nie ’n oggendmens nie, ek ontwaak eers in die motor.”

Net musiek kan haar in die regte stemming plaas.

Volgens Muller het Magdaleen Kruger, RSG se stasiebestuurder, op die titel van die reeks besluit.

“Ek laai altyd my eerste liedjie van die dag op Facebook en ek noem dit ’n wegtreknommer. Magdaleen stel toe voor dat ek ’n musiekprogram met daardie einste liedjies doen wat ek in die motor speel.”

Die reeks fokus meestal op “onthoumusiek” uit die 1950’s, 1960’s en 1970’s en nie veel op hedendaagse musiek nie.

Liedjies soos “Cupid” van Sam Cooke, “Surfer Girl” van The Beach Boys en “Little Jeannie” van Elton John is wat luisteraars kan verwag.

Muller gaan onder meer vertel waaraan die betrokke liedjie haar laat dink.

“Vanoggend het ek my oë uitgetjank toe ek weer ’n liedjie hoor wat my so erg laat verlang na my huismense op Oudtshoorn. Ek raak áltyd emosioneel oor musiek. Ek erf dit van my pa. My pa is ook die mens wat my aan musiek blootgestel het. Ons is albei obsessief oor ons treffers – ’n goeie, gesonde obsessie, hoor.”

Haidee Muller se nuwe musiekreeks Haidee se wegtreknommertjies begin Maandag op RSG.

Sy verlang soms na ’n tyd toe dinge vir haar eenvoudiger was, byvoorbeeld die dae sonder tegnologie. Sy laai nie graag musiek af nie, tensy dit ’n baie skaars lied is.

Sy koop nog CD’s.

“My huis raak erg klein nou, want my lewensmaat, Harry, is ook ’n musiekmens. Plus, hy werk in daardie bedryf. Hy is ’n produkbestuurder en koop dus musiek en flieks aan vir ’n aanlyn handelaar.”

Haidee Muller deel verlangmusiek asook musiek wat haar inspireer in haar nuwe reeks op RSG.

Muller doen soveel moontlik navorsing oor elke lied wat sy in haar program speel.

Sy verklap dat dit eintlik nie soos werk voel nie.

“Ek deel die konnotasie en die herinneringe aan die lied, en dan vertel ek interessante brokkies oor sekere liedjies. Byvoorbeeld, die liedjie ‘Cupid’ word gesing deur Sam Cooke. Nou daardie sanger was fenomenaal. Maar tog is hy onder vreemde omstandighede dood toe ’n nagbestuurder van ’n motel hom doodgeskiet het.”

Sy besluit watter inligting sy met die luisteraars wil deel.

“Hoewel dit op ouer musiek fokus, oorweeg ek tog een of twee nuwer liedjies.”

Sy deel ook musiek wat die breër publiek nie noodwendig sal ken nie, soos die musiek van The Invaders, ’n musiekgroep van Uitenhage in die Oos-Kaap.

“Ek leef vir musiek. Ek het ’n tatoe op my arm – eintlik het ek twee. Die een is ’n G-sleutel en die ander is ’n frase uit Earth, Wind & Fire se liedjie ‘I’ll Write a Song for You’ wat lui: ‘Sounds never dissipate.’ En dit is waar. Die musiek sal altyd voortleef en nooit ooit, ooit stil word nie. Musiek is vir my supernoodsaaklik en superspesiaal, en sal altyd wees.”

* Haidee se wegtreknommertjies word Maandae om 21:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Rsg  |  Radio  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.