Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hartchirurg sing saam met Stef Bos

Afrikaans is die taal waarin hy dink én voel, sê dr. Wilhelm Lichtenberg, ’n hartchirurg in Kaapstad, wat onlangs die album, Die tale van my hart, uitgereik het waarop hy die Vlaamse sanger Stef Bos se gewilde liedjie “Die taal van my hart” saam met hom sing.

“Ek kan my heeltemal daarmee vereenselwig,” sê Lichtenberg.

Dr. Wilhelm Lichtenberg, ’n hartchirurg van Kaapstad.

“Ek het een keer vir iemand gevra wat is jou moedertaal? Is dit die taal waarin jy dink? Toe sê hy nee, dis die taal waarin jy voel. Dit is absoluut hoe ek dit ervaar.”

Lichtenberg en Bos het mekaar toevallig ontmoet.

“Omdat my beroep dié van ’n hartchirurg is, het ons gedink ons moet die temas van taal en hart saamvoeg,” sê Lichtenberg.

“Ons het begin dink aan die album se repertoire en ek het heeltyd gedink ek wil Stef se liedjie insluit. Riaan Steyn het die lied verwerk.”

Bos het dié liedjie lank gelede saam met Amanda Strydom opgeneem.

“Toe vertel ’n vriend my dat hy my aan ’n man met die naam Stef Bos wil voorstel,” sê Lichtenberg.

“Toe val ek omtrent op my rug. Ek het vir hom gesê jy sal dit nie glo nie, maar een van Stef se liedjies is die titelsnit van die album wat ek beplan. So kry ek toe sy adres. Ek het ’n kans gevat en hom gekontak. Ek het hom gevra of hy sou belang stel in ’n duet indien hy in die Kaap is terwyl ons die CD vervaardig. Hy het so drie dae later teruggeskryf en gesê ja, waarom nie? Hy het sy gedeelte in België opgeneem en dit aangestuur.”

Lichtenberg en Bos het mekaar eers ontmoet nadat die liedjie opgeneem is.

’n Musiekvideo van die lied is intussen uitgereik.

“Stef is een van die vriendelikste mense wat ek ken,” sê Lichtenberg.

“Ek het gewonder wat om te verwag. Hy het nogal ’n onnutsige sin vir humor. Ek dink die eerste ding wat ons gedoen het, was om vir mekaar ’n grap te vertel en ons het uitbundig gelag. En onmiddellik was ons op dieselfde bladsy.”

Steyn het buiten die verwerking van die lied ook ’n jeugkoor en ’n orkes by die opname van die lied betrek.

“Hy het dit byna die styl van ’n soort anthem gegee, eerder as ’n luisterliedjie,” sê Lichtenberg.

Lichtenberg, ’n Vrystaatse boorling, het medies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer.

“Medisyne was nie my eerste keuse nie. Ek wou ’n operasanger word, maar my pa het my mooi laat verstaan dit gaan nie so werk nie.”

‘Die tale van my hart’, Wilhelm Lichtenberg se debuutalbum wat onlangs uitgereik is.

Lichtenberg het sy spesialisopleiding aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Hy het op universiteit trompet in die Vrystaatse Jeug- en Sukovs-simfonieorkes gespeel.

“Ek speel soms nog trompet, maar vir die bure se onthalwe doen ek dit nie gereeld nie.”

Hy neem al ’n paar jaar sanglesse by die mezzosopraan Violina Anguelov.

Die album sluit in liedjies soos “Perhaps Love” van John Denver, ’n toonsetting van NP van Wyk Louw se gedig “Stil aand” en ’n gedig wat Lichtenberg geskryf het.

“Ek sing vir die plesier daarvan, maar ek hoop die album sal aftrek kry. Ek voer nou gesprekke met ’n musiekagent om optredes en so meer te reël. Ek hoop dit kan so ontwikkel dat ek dit ook na die buiteland kan neem. Die klassieke inslag vind groter byval by Europese gehore. As iemand my vra hoe ek die CD sal beskryf, sal ek sê dis ’n bietjie van ’n Bocelli with a touch of Africa.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.