Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Heuwels Fantasies 1ste keer in 14 maande op verhoog
Sheldon Yoko, Hiram Koopman, Pierre Greeff, Fred den Hartog en Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties. Foto: André Badenhorst

Die groep Die Heuwels Fantasties gaan Sondag vir die eerste keer in 14 maande weer ’n vertoning aanbied.

Die vertoning op 18 April sal op die wynlandgoed Nooitgedacht naby Stellenbosch aangebied word. En dit lyk of die weer vir hierdie piekniekkonsert gaan saamspeel.

“Ná maande van net aanlyn stroming is ons kinderlik opgewonde om ná meer as ’n jaar weer in lewende lywe in die Kaap op te tree. Ons repeteer dié week drie keer, en ’n mens voel senuagtig, amper soos toe ons 12 jaar gelede begin het. Early B gaan saam met ons optree. Met elke lewende optrede voel dit of jy iets weggee, maar jy kry ook iets terug. Ons hoop dat die regulasies nou so bly dat ons en ons ander kunstenaarsvriende kan optree,” het Pierre Greeff gesê.

Nog nuus is dat die gewilde groep pas ’n musiekvideo van hul onlangse liedjie “Plekkie in die son” uitgereik het.

Ondanks verlede jaar se uitdagings met die inperkings en gevolglike afname in optreemoontlikhede, het Die Heuwels in 2020 drie nuwe albums uitgereik. Die album 2021, wat in Mei verlede jaar uitgereik is, het reeds sowat 100 miljoen luisteraars op die radio bereik. Liedjies van al drie albums, wat dan ook Live in Lockdown en Herverbeel insluit, is ook van die gewildste musiek wat daagliks op digitale platforms gestroom word.

Hulle het “Plekkie in die son” saam met Early B opgeneem. Damiane van Reenen het dit verfilm en geredigeer.

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties.

Hunter Kennedy het gesê dié liedjie het ’n spesiale plek in sy hart. “Ek is bly ons maak ’n video daarvan. Dit was ’n ‘serious group effort’-liedjie en ek vind aanklank by die emosie wat dit ontlok.”

Hulle sal op die piekniekkonsert hul eie wyn bekend stel.

Slegs 500 kaartjies is beskikbaar.

Kaartjies kos R300 (kinders onder 12 betaal R150 en kinders onder drie kry gratis toegang). ’n Piekniekboks of ’n burger en skyfies kan vooraf bestel word. Daar sal ook koskraampies wees.

Daar is 20 spesiale kaartjies wat ’n kis met ses bottels wyn insluit.

Corné Pretorius tree in die voorprogram op. Hy is bekend vir sy liedjies “Halfvol”, “Vuur en vlam”, “Vergewe My” en “Biertjies”, wat hy onlangs saam met Die Heuwels en Ampie uitgereik het.

Kaartjies is net op www.Howler.co.za beskikbaar. Die hekke open om 11:00. Pretorius sing om 15:30, waarna Die Heuwels Fantasties om 16:30 aan die beurt kom. Konsertgangers moet hul eie piekniekkombers en stoele saambring. Covid-19-maatreëls sal geld.

Meer oor:  Musiek  |  Die Heuwels Fantasties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.