Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Heuwels Fantasties se musikale ‘fotoalbum’ is hier!

Die Heuwels Fantasties gaan weens die Covid-19-pandemie vir die heel eerste keer ’n album in ’n aanlyn konsert bekend stel. Pierre Greeff, die groep se hoofsanger, vertel vir Christiaan Boonzaier meer oor die konsert en 2021, hul sesde ateljeealbum, wat hy as ’n “fotoalbum” beskryf.

Die lede van Die Heuwels Fantasties is Hunter Kennedy, Sheldon Yoko, Pierre Greeff, Hiram Koopman en Fred den Hartog. Foto: André Badenhorst

Vertel my van die albumtitel, 2021. Was dit aanvanklik 2020, wat julle toe weens die nagmerrie-jaar na 2021 verander het?

Nee, glad nie. Ek dink almal is soort van in die “2020 is gecancel mode”, en hei, wie soek nie iets om na uit te sien nie? (Die jaar) 2021 is seker ook eers wanneer ons in lewende lywe weer ’n verhoog met ons fans sal kan deel. Dit (die albumtitel) het net reg en, soos wat ons maar sê, tong in die kies gevoel!

Albums met 16 snitte op, soos 2021, raak al hoe skaarser – musici fokus meestal nou op enkelsnitte en kortalbums. Hoekom wou julle steeds ’n “vollengtealbum” maak?

Hierdie liedjies is maatjies van mekaar en is in die afgelope 12 maande geskep. Dis ’n “fotoalbum” van waar ons onsself nou bevind. Kom saam! Albums is journeys, en my favourite bands is my favourites omdat hulle albums gemaak het wat deel is van my menswees.

Julle sing op tien van die 16 snitte saam met ander kunstenaars soos Arno Carstens, Early B, Jack Parow, Tarryn Lamb en Francois van Coke. Was dit ’n doel van die album om saam met ander te werk?

Ons doelwit is altyd om ’n liedjie wat ons skep tot sy volle reg te bring, en as dit iemand anders se energie is, dan is ons altyd super keen. Al ons albums is vol collabs, en hierdie ene is in daardie sin eintlik ’n classic Heuwels-album.

Hoe kies julle met wie julle wil saamsing?

As ons iets in ’n liedjie hoor wat dalk kan doen met ’n tjommie se input, dan sal ons altyd die foon optel en hoor of hulle wil saamspeel. Die resultaat is gewoonlik ’n verrassing en ’n groot plesier.

Dit is nou al 12 jaar ná Pille vir Kersfees (hul eerste kortalbum in 2008). Hoe dink jy het jul musiek en klank sedertdien verander, indien enigsins?

Ek dink dis vir die gehoor om te bepaal. Dit is lekker om dit nog te doen en te voel dat dít wat ons na die Suid-Afrikaanse musieklandskap bring, nog steeds vars en ons eie is.

Julle gaan 2021 weens die Covid-19-pandemie met ’n aanlyn konsert bekend stel. Wat gaan dit alles behels?

Visuals, die volle band, amazing klank, gaskunstenaars soos Arno Carstens, Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow – en dít alles in die gemak van jou sitkamer. Jy kan ons almal live sien vanaf enige plek in die wêreld, so it’s not all bad. Let’s go!

  • Die bekendstelling van Die Heuwels Fantasties se jongste album, 2021, vind op 30 Mei om 20:00 aanlyn plaas. ’n Kaartjie vir Die Heuwels Fantasties – Livestream Album Launch kos R150 en sluit ’n digitale kopie van die album in. Bespreek by www.howler.co.za/dieheuwels.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.