Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hier bly die aandag diep vasgevang
Die Russiese violis Nikita Boriso-Glebski.

Die Russiese violis Nikita Boriso-Glebski het gisteraand in Johannesburg opgetree. Paul Boekkooi het gaan luister na wat hy beskryf as ’n konsert wat alle verwagtings oortref het.

Deeglik voorbereide simfoniekonserte met ’n weloorwoë en ewewigtige programkeuse, plus ’n dirigent en solis wat die gehoor sou kon meevoer op ’n ontdekkingsreis rondom minder alledaagse repertorium óf die herwaardering van reeds alombekende musiek, maak die orkeservaring so avontuurlik soos ’n musikale speurtog.

Voeg daarby die immer fassinerende kuns van interpretasie, en die vraag ontstaan: Watter nuwe perspektiewe gaan die dirigent en solis toevoeg tot ons bestaande gevoel of begrip rondom enige gegewe meesterwerk? Slegs die gedagte aan die veelvuldige moontlikhede prikkel die luisteraar se nuuskierigheid.

Conrad van Alphen, ’n gebore Pretorianer, is reeds ruim 20 jaar as dirigent gevestig in Rotterdam, met ’n reputasie wat wyd strek en veral ook Rusland insluit.

Dit was met die vertolking van die Finse komponis Jean Sibelius se Vioolkonsert in d, opus 47 dat die Russiese solis Nikita Boriso-Glebski, Van Alphen en die Johannesburgse Filharmonie-orkes alle verwagtings oortref het.

Die dirigent Conrad van Alphen, ’n gebore Pretorianer, het gisteraand die Johannesburgse Filharmonie-orkes gedirigeer.

Reeds met die pianissimo-openingsfrases van die eerste deel, Allegro moderato, was dit duidelik: Die melancholieke poëtiese stemming is raak getref en die uitbou daarvan is veral deur ’n sterk oor vir musikale en veral dinamiese kontraswerking verder ontwikkel.

Die asem slaan soms weg omdat Boriso-Glebski klankgewys steeds ook gedifferensieerde timbres voortbring – vanaf aggressie tot by ’n soetvloeiendheid wat vermurwe. Sy instrument se klank is geensins oordadig groot nie, maar hy projekteer dit met ’n bekoorlike, soms donker getinte sangerigheid, met – veral in die cadenza – ’n gelaaide intensiteit.

Russiese vioolopleiding bly ongeëwenaard in wêreldterme en dié violis bewys dit deur sy beeldende kwaliteite en fantasieryke insae. Die slotdeel, Allegro ma non tanto, is gekenmerk deur haarskerp aksente, terwyl die solis se soms lang, intense strykboë ryklik daarmee gekontrasteer het.

Dit was ’n totaal aandagvergende uitvoering, met die orkes en dirigent – wat in die openingsdeel soms ietwat oordadig geklink het – veel meer in beheer en ’n ware geesgenoot van die solis in die oorblywende twee bewegings.

Van Alphen het ’n ekstrovert-polsende Ruy Blas Ouverture van Mendelssohn gelei. In dié openingswerk was die koperblasers net ietwat te dominerend om die werk klankgewys in ’n ideale ewewig te plaas. Dit is nouliks een van die komponis se onvergeetliker werke.

Iets in dieselfde trant kan van Dvorák se Simfonie no. 6 in F, opus 76, gesê word, maar die orkes en dirigent het hulle veel dieper onder die karakteristieke idioom van die komponis se middelperiode bevind as wat dit by Mendelssohn die geval was.

Die spel was spontaan en deurgaans ondersteun deur ’n ritmiese veerkragtigheid, beeldryke melodieboë en ’n besliste begrip vir die Tsjeggiese volksidioom. Omdat Dvorák hier nog in die proses was om sy eie “stem” te vind, is daar nog oomblikke waar byvoorbeeld die orkestrasie as synde ietwat lomp voorkom.

Die kort basklarinetsolo in die slotdeel het oomblikke van paniek by die speler laat ontstaan –die enigste vlekkie in ’n uitvoering wat origens ook tegnies voortreflik was.

* Hierdie konsert word vanaand om 20:00 in die Linder-ouditorium in Parktown herhaal. Kaartjies: Computicket of by die Linder-loket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.