Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hier gee 2 klaviere die pas aan

Ná die “boot camp” waaraan die “dienspligtiges” Charl du Plessis en sy medepianis Albie van Schalkwyk “vrywillig” deelneem, gaan hulle so Mozart-fiks wees dat die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) sy storie sal moet ken om by te hou.

Die twee “dienspligtige boot camp-pianiste” Charl du Plessis (links) en Albie van Schalkwyk. Hulle speel Saterdagaand ’n Mozart-concerto vir twee klaviere saam met die Vrystaatse Simfonieorkes in Bloemfontein.

Dié “boot camp”, soos Du Plessis die oefensessies vir Mozart se Concerto vir twee klaviere in E-mol majeur, K.365 noem, is ter voorbereiding van hul uitvoering in ’n simfoniekonsert wat deur die Italiaanse dirigent Carla Delfrate gelei word. Dit sal die eerste keer wees dat ’n vrou die podium voor die FSSO inneem.

Van Schalkwyk en Du Plessis ken mekaar nie net baie jare nie, hulle het ook al saam gespeel, soos onlangs in die genietlike 40 Vingers-konsert.

Maar die klavierduo het ander uitdagings.

Du Plessis beskryf die concerto as “maklik”, ’n stelling wat hy vinnig in perspektief stel: “Musiek wat goed gekomponeer is, spreek vanself en is in daardie opsig maklik om uit te voer.”

Dit beteken nie die werk is sonder valstrikke nie. “Daar is heelparty moeilike dele, soos vinnige 16de-noot-passasies wat perfek gelyk gespeel moet word. “In sulke dele moet ons ore dieselfde ingestel wees. Jy moet fyn luister, die heeltyd báie fyn luister,” sê Van Schalkwyk. Dit is een van die redes waarom die week lange “boot camp” nodig is.

Nog ’n rede is variasies wat ingewerk moet word in dele wat om die beurt deur die pianiste nageboots word. “As ons dit identies speel, klink ons soos robotte,” verduidelik Van Schalkwyk.

Met 12 van Mozart se 27 klavierconcerto’s en ’n menigte kamermusiekwerke in sy repertorium, glo ’n mens Van Schalkwyk as hy sê die moeilikste van Mozart se musiek is om die gees te behou wanneer die tempo te stadig is.

’n Stadige tempo is sekerlik die laaste wat verwag kan word wanneer die twee ingeoefende pianiste die naweek voor twee klaviere in Bloemfontein plaasneem.

Mozart het die concerto in 1779 vir hom en sy suster, Nannerl, geskryf. Dit het drie bewegings, vinnig-stadig-vinnig, en begin met ’n dialoog van musikale idees wat in gelyke mate tussen die twee klaviere verdeel word. Die orkes speel meestal tweede viool en lewer net kommentaar terwyl die fokus van begin tot einde op die pianiste is.

Soos die meeste klassieke concerto’s is die finale ritmies-gedrewe en uitbundig.

Die werk word selde lewend uitgevoer en is vir albei pianiste die eerste keer. Waarom dit afgeskeep word, is moeilik om te verklaar. “Dit is aantreklike musiek en geensins net vir die fynproewer nie. Enigeen sal dit geniet,” sê Du Plessis.

’n Vrolike ouverture van die Mozart-opera Le Nozze di Figaro open die program en Beethoven se Simfonie nr. 8 in F majeur sluit die aand af.

Delfrate het haar musiekloopbaan aan verskeie konservatoriums in Italië ontwikkel en onder meer saam met die bekende dirigent Riccardo Muttigewerk. Sy is tans ’n professor in beheer van die orkeskursus aan die konservatorium in Mantua, Italië.

* 13 Oktober om 19:30 in die Odeion-teater. Die kaartjies kos R150, R100 en R50. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.