Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hier’s hy weer met generasie 2.2, sê Coenie
Nuwe album
Coenie de Villiers Foto: Robert Hamblin

Die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers se nuwe album het ontstaan omdat hy met sy vorige album in 2018 “net verloor het”.

Ondanks die Sama-prys wat Pure Coenie as beste kontemporêre album gekry het, het die album nie goeie aftrek gekry nie weens die verspreidingsmaatskappy wat sy deure gesluit het.

“Ek het geskat die enigste manier om iets te kon terugwen is om nuwe werk te skep en die momentum te behou.”

2.2, bestaande uit agt nuwe snitte en agt heropnames, word Sondag met twee konserte in die Atterbury-teater in Pretoria bekend gestel.

De Villiers deel die verhoog met die Mzansi-jeugkoor, Kyle Seconna, Jaconell Mouton, Mauritz Lots, Denny Lalouette en David Klassen.

“Toe sê iemand vir my dit is al weer meer as tien jaar sedert my versamelalbum Dekade verskyn het. Ek het die afgelope tien jaar vyf albums uitgereik. Ek het so een of twee snitte van elkeen van daardie vyf albums geneem.”

De Villiers is baie opgewonde oor die agt splinternuwe liedjies op 2.2.

“Een is met ’n wonderlike sanger wat ek in die Kaap ‘raakgehoor’ het, Kyle. Hy sing ‘Al lê die berge nog so blou’ saam met my. Dan is daar die groot ‘Amazing Grace’-opname met Judith Sephuma, Busiswa en die Mzanzi-jeugkoor.”

Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, die Grammy-wenner Wouter Kellerman en die Amerikaanse saksofoonspeler Dave Koz word ook op die album gehoor.

"Jy wil tog nie ’n nuwe album uitreik en mense dink dit is dieselfde psalm met net ’n ander orrel nie.”

De Villiers het sy gewilde lied “Karoonag” asook die lied “Namakwaland” weer opgeneem.

“Ek het ‘Karoonag’ rondom 1979, 1980 die eerste keer opgeneem en dis my enigste solo-opname van die lied wat bestaan. Ek het dit jare later saam met Lucas Maree opgeneem en ’n klomp jare daarna saam met Karen Zoid vir DieRepubliek van Zoid Afrika. Ek het saam met Jaconell Mouton aan die weergawe op die nuwe album gewerk.”

De Villiers wou ’n albumtitel hê wat in Afrikaans en Engels sal werk.

“Wanneer programmatuur hernieu word, is dit byvoorbeeld Microsoft Generation 2.2 of wat ook al. Ek dink die nuwe snitte het ’n ander klank. Ek is baie gelukkig daarmee. Ek het goed gedoen wat ek jare gelede al moes gedoen het wat vir my baie goed werk. Toe reken ek hier’s ons weer, hier’s ons weer met generasie 2.2!”

Videogrepe van die kunstenaars in die ateljee word gedurende die konsert vertoon.

Terselfdertyd is dit die uitreiking van die musiekvideo van “Tatoe”, die lied wat De Villiers en Van Coke op Pure Coenie saam opgeneem het.

“Die vorige album is geweldig deurdink. Elke noot is oorweeg. Met die nuwe album het ons besluit: ‘Let’s make music.’ Dit was verskriklik lekker om daaraan te werk. ’n Mens moet vernuwe. Jy wil tog nie ’n nuwe album uitreik en mense dink dit is dieselfde psalm met net ’n ander orrel nie.”

* Die vertonings in die Atterbury-teater Sondag begin om 14:30 en 19:00. Kaartjies kos R170 tot R190. Bespreek by iTickets.

Meer oor:  Coenie De Villiers  |  Atterburyteater  |  Musiekvideo  |  Album  |  Musiek  |  Teater  |  Sanger  |  Liedjieskrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.