Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Highwomen’ se debuut verrassend

Countrymusiek hoef nie resepmatig en vervelig te wees nie, skryf Kobus Burger. The Highwomen bewys dit kan oor genres heen spoel, en hulle bring met hul debuut vernuwing wat Nashville nodig het, meen hy.

We are the daughters of the silent generations,” sing ’n splinternuwe Amerikaanse kwartet wat besig is om die musiekbedryf op sy kop te keer.

We are the highwomen, we sing of stories still untold / we carry the sons you can only hold.

Dít is die titelsnit van die album The Highwomen – en ook die naam van die countrygroep bestaande uit Brandi Carlile, Maren Morris, Natalie Hemby en Amanda Shires. ’n Antwoord op Jimmy Webb se liedjie uit 1977, “Highwayman”, wat in die jare tagtig tot die mannegroep The Highwaymen bestaande uit Johnny Cash, Willie Nelson, Kris Kristofferson en Waylon Jennings gelei het.

En nou herskryf die vier vroue die geskiedenisboeke terwyl hulle chardonnay drink. Hier is ’n immigrant-ma wat uit Honduras deur Meksiko vlug, ’n “heks” wat in Salem opgehang is en ’n vroueprediker wat vervolg word.

Saam met die produksieleier Dave Cobb het hulle Webb se liedjie hul eie gemaak en met elkeen se unieke liedjieskryftalent ’n goedvoel-album vol treffers opgeneem wat nie net Nashville uitgeboul het nie.

Die omslag van The Highwomen se debuutalbum.

The Highwomen is skaars ’n jaar oud, maar hul debuut is een van 2019 se verrassendste uitreikings. Met een van die album se eerste kortspelers, “Redesigning Women”, kan ’n mens hoor hoe hulle met gemak uit die borstrokke breek met “every Jell-O mould”.

Die lirieke en melodieë is so keurig gekies en geslyp dat ’n mens reeds met die eerste luister kan saamsing, asof dit heropnames van goue oues is. Die samewerking is ook van so ’n aard dat elke sangeres haar beurt kry om te skitter.

Van die ander medewerkers sluit in Ray LaMontagne en Shires se man, Jason Isbell. Isbell het help skryf aan “If She Ever Leaves Me”, ’n roerende ballade oor die liefde tussen vroue.

Die musikale crescendo’s is indrukwekkend. ’n Liedjie soos “Old Soul” is bykans ses minute lank en is robuuste countryrock wat die biesies laat bewe.

Dan is daar “Don’t Call Me” wat soos ’n voet-in-die-hoek-langpadtreffer klink wat die sangeresse se balke-toe-energie na prettige hoogtes voer.

Een van die tintelendste aspekte van die album is dat die vroue talle van die liedjies tong-in-die-kies geskryf het en nie hulself te ernstig opneem nie. Hier is nie gebalde vuiste of politieke uitsprake soos wat The Dixie Chicks al op countryverhoë gemaak het nie.

“My Only Child” tintel die hartsnare met sy oorrompelende beskrywing van ’n ma-en-kind-verhouding.

Net daarna wil ’n mens by ’n groep vriende inhaak en saam wals met die vioolklanke van “Heaven is a Honky Tonk” en ook verklaar dat Jesus lief is vir sondaars.

Countrymusiek hoef nie resepmatig en vervelig te wees nie. Dit kan van tranetrekkers tot stofopskop-dansmusiek insluit en sommer tot in die hoofstroom van popmusiek spoel.

The Highwomen is die soort vernuwing wat Nashville nodig gehad het. Luister maar, want hier in die doodsnikke van die dekade gee dit ’n mens hoop dat gehalte en talent vermenigvuldig kan word vir een van die jaar se albumhoogtepunte.

Meer oor:  The Highwomen  |  Musiek  |  Highwomen  |  Kobus Burger  |  Country
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.