Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Hofmeyr, Radoslavov toer met Brahms-sonates

Dit klink vreemd om in Beethoven se belangrike gedenkjaar ’n toer met Brahms-sonates te onderneem. Maar die Gautengse violis Zanta Hofmeyr is vinnig by om te verduidelik dat sy en die pianis Ilia Radoslavov drie jaar gelede die volledige stel van tien Beethoven-sonates in Suid-Afrika en Amerika uitgevoer het. “Dit maak nie sin om dit te herhaal nie.”

Radoslavov, ’n Bulgaar wat hoof van die klavierdepartement aan die Illinois Wesleyan-Universiteit in Amerika is, voeg sy deeltjie by ter ondersteuning van die besluit en hul keuse van komponis: “Brahms se drie sonates is hoekstene van die Romantiese duo-repertorium. Dit bevat ’n kombinasie van intellektueel stimulerende idees, innoverende harmoniese taal en diep gevoelswaarde.”

Hofmeyr sê Brahms is een van haar geliefkoosde komponiste en helaas gaan sy Beethoven se 250ste verjaardagherdenking weer oorsien wanneer sy in November Brahms se Vioolconcerto in Johannesburg en in die Etienne Rousseauteater in Sasolburg uitvoer.

Hofmeyr het haar liefde vir Brahms ook in 2018 uitgeleef toe sy en die tjellis Susan Mouton Brahms se Concerto vir viool en tjello met orkes by Unisa uitgevoer het, en in 2017 het die Wits Trio, waarvan sy ’n lid is, die volledige stel Brahms-klaviertrio's op die Nasionale Kunstefees in Makhanda gespeel.

Verlede jaar het sy darem Schubert ’n kans gegee toe sy ’n Schubert-program met die pianis Jan Hugo uitgevoer het.

Hofmeyr bevorder ook graag nuwe komposisies en het die première van Raptus deur Hendrik Hofmeyr saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in 2003 en die Johannesburgse Filharmoniese Orkes in 2005 uitgevoer. In 2007 het sy Nelle mani d’Amduscias vir soloviool, ook deur Hendrik Hofmeyr, in Johannesburg gespeel.

Zanta Hofmeyr en die pianis Ilia Radoslavov.

Hofmeyr is ’n aktiewe kamermusikus en net so vaardig in jazz wat sy in optredes saam met onder andere Denis Lalouette, Mark Duby, Rob Watson, Rocco de Villiers, Charl du Plessis en Wessel van Rensburg bewys het.

Sy word ook gereeld gevra om in beoordelaarspanele te dien.

Sy het ses CD’s op haar kerfstok: Zanta Hofmeyr plays Arioso en Cantilena saam met die orrelis Wim Viljoen, Romantic Violin met Malcolm Nay, Beethoven Tango met pianis Charl du Pleassis, French Violin Sonatas met pianis Elna van der Merwe en Beethoven Sonatas for piano and violin, 2,4,6 saam met Radoslavov.

Radoslavov het as jong pianis in Sofia, hoofstad van Bulgarye, studeer waarna hy in Amerika sy meesters- en doktorsgrade voltooi het en toe daar aangebly het.

Hy tree gereeld op as solis en kamermusikant en dien dikwels in beoordelaarspanele van klavierkompetisies in die VSA.

Hofmeyr en Radoslavov se toerprogram lyk so:

  • 6 Maart om 19:00: Barbara Pretorius-konsertsaal, Laerskool Jan Celliers, Johannesburg.
  • 8 Maart om 15:00: Brooklynteater, Pretoria.
  • 9 Maart om 19:00: NG-Kerksaal in Knysna.
  • 13 Maart om 20:00: Casa Labia, Muizenberg.
  • 14 Maart om 19:30: La Motte, Franschhoek.
  • 17 Maart om 19:00: Uplands College in Mbombela.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.