Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ibert se fluitconcerto verg ‘fiksheid en lang asem’
Liesl Stoltz is die solis in die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se laaste konsert van die somerseisoen.

“As mense my vra wat ek vir ’n lewe doen, sê ek altyd ek is ’n musikus. Dat ek fluit speel, is sekondêr. Dit gaan nie oor die instrument nie, dit gaan oor die musiek en die vertolking daarvan.”

Liesl Stoltz, wat vandeesweek Ibert se Fluitconcerto saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitvoer, sê daar is mense wat vooropgestelde idees oor die fluit as solo- of kamermusiekinstrument het, maar sy dink hulle sit die pot mis. “Dit gaan oor die musikale ervaring, of dit jou siel raak of nie.”

Stoltz sê sy skryf baie van haar kennis en insig toe aan haar eerste fluitonderwyseres, Éva Tamássy, wat in November 2018 dood is.

“Ek was mal oor haar spel. Sy het haar eie spel geniet en ’n mens kon hoor die musiek kom uit haar hart. Haar finesse het ’n blywende indruk by my gewek.”

Musiek is net so ’n integrale deel van Stoltz se lewe soos haar gesin en draf.

Voorheen het sy aan wedlope deelgeneem, maar deesdae draf sy net om fiks en gesond te bly.

Fiksheid en ’n lang asem is nodig vir die Ibert-concerto, meen Stoltz. “Die werk is tegnies veeleisend en word beskou as een van die moeilikste fluitconcerto’s in die repertorium. Dit is nie net die spoed en enorme hoeveelheid note wat uitdagend is nie, dit is ook die komplekse ritmiese strukture en lang frases wat uitsonderlike asembeheer verg. Maar dit is hierdie uitdagings wat dit opwindend maak om te speel.

“Die musiek is buitengewoon mooi met lang, swewende melodiese passasies, veral in die stadige deel,” sê sy.

Stoltz beskryf die fluit as ’n “sagmoedige” instrument wat nie altyd geskik is vir ’n solo-uitvoering saam met ’n simfonieorkes nie. “Dit is waarom ek die moderne of Barok-concerto’s verkies, die orkestrasie is meestal vir ’n kleiner groep soos ’n kamer-ensemble.”

Die Ibert-stuk het darem ’n kleiner horingseksie en net twee houtblasers per seksie.

Stoltz sê Ibert het van die impressionisme weggebreek en die werk in ’n neoklassieke styl geskryf. Dit het die struktuur en deursigtigheid van ’n klassieke concerto maar in ’n moderne idioom.

Die skraal en fyngeboude Stoltz kon eers op 13 jaar met fluitlesse begin omdat haar arms toe eers lank genoeg was om die fluit reg vas te hou.

Sy het ná haar BMus aan die Universiteit Stellenbosch (US) ’n beurs ontvang en sewe jaar in Frankryk studeer, eers by Shigenori Kudo en later in Italië by Peter-Lukas Graf. Sy keer nog gereeld terug na Frankryk vir optredes.

Dié Kapenaar met ’n DMus van die Universiteit van Kaapstad (UK), het baie nasionale en internasionale kompetisies gewen, onder meer die 12de Friedrich Kuhlau Internasionale Fluitkompetisie in Duitsland.

Sy gee les by die US, UK en die Hoër Meisieskool Paarl en is ’n Yamaha-kunstenaar. Die goue fluit waarop sy speel, is ’n Yamaha wat aan haar Franse dosent Kudo behoort het.

Die openingswerk vir die konsert is Arvo Pärt se Fratres en dit sluit af met Tsjaikofski se gewilde Pathetique, Simfonie nr. 6 in B mineur, op. 74.

* 2 Februarie om 20:00 in die Kaapstad-stadsaal. Bespreek by Computicket of Artscape Dial-A-Seat by 021 421 7695.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.