Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ibrahim: 'n Blik tot anderkant die Melkweg
Abdullah Ibrahim Foto: Die Burger

Die storie begin dekades gelede toe Abdullah Ibrahim ’n leerling aan die Trafalgar High School in Distrik Ses was. Leergierig het hy gaan rondkrap in argiewe en opgelees oor Anthony van Japan, die eerste Japannees aan die Kaap wat as slaaf vir Zacharias Wagenaer (Jan van Riebeeck se opvolger) gewerk het.

Oor jare het ’n fassinasie, dalk eerder ’n respek, vir Japanse kultuur by Ibrahim ontwikkel. Hy het al in Japan opgetree en het reeds 50 jaar ’n leermeester daar met wie hy elke dag gesels en filosofeer. “Dis ’n kultuur wat in baie opsigte met ons s’n resoneer, veral die respek vir en kennis van die natuur,” meen die gebore Kapenaar, wie se jazztalent van hom ’n wêreldburger gemaak het.

Daarom het hy groot waardering vir die Orde van die Opkomende Son, wat die Japannese regering aan hom toeken – ’n lewensprys vir Ibrahim se rol in die “emansipasie van Suid-Afrikaners en die wêreld deur sy musiek, asook sy bydrae tot die Japan-Suid-Afrika-vriendskap deur sy werk, optredes en diepgaande verstaan van Japanse kultuur en spiritualiteit”, aldus ’n persverklaring van die Japannese ambassade.

Tans is Ibrahim in Duitsland, so twee uur se ry vanaf München, waar ek hom bel om oor hierdie eer uit Japan te gesels. Hy klink geestig oor die foon met ’n jeugdige giggel in die lag, maar ook ’n warmte van statuur. Hier is ’n man wat as die grootste eksponent van Kaapse jazz gereken word – ’n genre wat hy en mense soos Basil Coetzee en Robbie Jansen ontwikkel het tot waar jong spelers soos die jazzpianis Ramon Alexander dit vandag verder neem.

Ibrahim se musiek lewer kommentaar, daarom dat sy bekendste liedjie, “Mannenberg” (opgeneem in 1974), as anti-apartheid-musiek beskou word.

Abdullah Ibrahim Foto: City Press

Op 85 kan hy terugkyk op ’n loopbaan vol musiek – van die dae toe hy en vriende as die Dollar Brand Trio opgetree het tot jare se optredes op verhoë van hier tot in New York. Die lys van sale en feeste waar hy wêreldwyd gespeel het én die sterre met wie hy die verhoog gedeel het, strek wyd. Self het hy ’n jazzster geword, maar vir hom was hierdie loopbaan bloot ’n lang leerproses.

“As jazzmusikante moet ons ’n hoë vlak van vaardigheid handhaaf; jy leer komplekse musiek lees en slyp jou vaardighede. Maar dis nie die einddoel nie, want improvisasie op die verhoog is eintlik waaroor dit gaan – in die onmiddellikheid van die ervaring,” sê Ibrahim.

Musikante oefen meedoënloos aan hul tegniese vaardighede om in die oomblik van ’n optrede vry te kan wees om te improviseer. “Dit is ’n strewe na perfeksie in iets wat nooit perfek kan wees nie,” noem Ibrahim dit.

Klanke was nogal altyd iets wat sy gewaarwordinge geprikkel het. Sy musikale belangstelling as kind in die Kaapse buurt Kensington is aangevuur deur die klank van gesange wanneer hy op Sondae na die AME kerk gegaan het saam met sy ma, wat die gemeentesang op die klavier begelei het. Hy het klavierlesse as kind begin neem en as tiener het hy reeds musiek gekomponeer.

Later het hy op die verhoog bekend geword as Dollar Brand (sy geboortenaam is Adolph Johannes Brand). Dit was ook die klanke van ’n voorlesing uit die Koran wat hom ingetrek het, al het hy toe nie ’n woord verstaan nie – hy het Islam as geloof aangeneem en so Abdullah Ibrahim geword.

“Om musiek te leer lees, het my toegang tot musiekmaak gegee. Maar as ek ’n ander komponis se musiek gespeel het, het ek geweet dit was nie regtig ék nie, want dit is nie hoe ék asem haal nie. En jazz gaan oor asemhaling en geheue. Geheue stel jou in staat om te kan improviseer as jou tegniek gevestig is. Op die verhoog is dit ’n oomblik wat nooit herhaal sal word nie en wat jy ook nooit wíl herhaal nie. Die geheim is om dit eenvoudig te laat lyk, maar dit neem ’n leeftyd om daardie punt te bereik,” sê hy.

Dan vertel Ibrahim, wat ’n swart gordel in karate het, dat sy Japannese leermeester hom op ’n dag ’n diploma gegee het. Toe Ibrahim hom sê dat hy (Ibrahim) eintlik nog niks weet nie,

“Ek het een keer vir studente gevra wat hulle gaan speel by ’n Erfenisdag-konsert, en hulle sê toe ’n liedjie van Stevie Wonder. Ek sê toe: ‘Wag bietjie, hallo! Dis net Stevie Wonder wat met tantième voordeel daaruit gaan trek.’ Ek wil hê hulle moet iets uniek skep; ek het iets uniek gaan skep deur my musiek.”

het die leermeester geantwoord: “Ek weet ook niks nie.” En dít, sê Ibrahim, moet jong musiekmakers altyd onthou.

Vir vele jong musikante is hy ’n inspirasie en iemand wat vir hulle rigting aanwys. “Jong musikante moet versigtig wees om nie te dink hulle weet alles nie; dit neem ’n leeftyd. Al kan jy al die jazz-standards in elke toonaard en op elke tempo speel, het jy nog net die tegniek as basis,” sê Ibrahim.

Hy ploeg steeds terug in die jong musikante van sy geboorteland en het onlangs die Groen Kalahari-projek in die Noord-Kaap begin. Dit word iewers tussen September en Desember (as internasionale reise weer toegelaat word) bekend gestel met die hulp van ’n Japannese span. Die idee is dat die musikante inspirasie put uit die “son, aarde en ’n blik tot anderkant die Melkweg.

“Ek het een keer vir studente gevra wat hulle gaan speel by ’n Erfenisdag-konsert, en hulle sê toe ’n liedjie van Stevie Wonder. Ek sê toe: ‘Wag bietjie, hallo! Dis net Stevie Wonder wat met tantième voordeel daaruit gaan trek.’ Ek wil hê hulle moet iets uniek skep; ek het iets uniek gaan skep deur my musiek,” sê hy.

Dit neem hom terug na sy Engelse onderwyser by Trafalgar wat aan hom gesê het dat jy net kan skryf oor dinge wat jy ken. “So ek sê vir jong musikante: Skryf ’n liedjie oor die Kalahari as jy dit ken, enigiets uniek, selfs rooibos. Daar is soveel dinge wat eie aan Suid-Afrika is.”

Vir Ibrahim is die beginsels wat hy aan ’n jonger generasie wil oordra dít wat hy nog elke dag by sy leermeester leer en wat die hart van Japanse kultuur is – oor respek, ’n strewe na perfeksie wat altyd ontwykend is, en ’n lewe na aan die planteryk, dierelewe en die oeroue aarde.

Meer oor:  Abdullah Ibrahim  |  Jazz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.