Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Inperking se goeie ‘gevolge’ vir Joan Armatrading

Met haar nuwe album ervaar die gevierde Britse sangeres Joan Armatrading (70) dieselfde opwinding wat haar debuutalbum haar byna 50 jaar gelede besorg het.

Consequences, haar 22ste album, word Vrydag uitgereik en ’n konsert word op 31 Julie gestroom.

Joan Armatrading

“Ek is opgewonde om te hoor hoe mense daarop sal reageer. Sover lyk dit darem of mense daarvan hou.

“Ek is nie senuagtig nie, maar opgewonde. Om te skryf is opwindend.”

Sy is waarskynlik op haar gelukkigste wanneer sy liedjies skryf, sê dié sangeres van treffers soos “Drop the Pilot”, “Woman in Love” en “Love and Affection”.

“En mense wat my musiek ken sedert my beginjare, of later in my loopbaan, weet my musiek verskil altyd. En hulle weet wanneer ek ’n toer aanbied sluit ek sowel ou as nuwe liedjies in. Ek wil nie net die ou musiek op ’n toer sing nie. Ek is altyd aan die skryf en ek wil my nuwe werk aanbied.”

Haar jongste enkelsnit, “Already There”, is onlangs uitgereik.

Dit handel oor liefde waar een party reeds verlief is en die ander nog daarby moet uitkom. En uiteindelik gebeur dit.

Armatrading het as tiener begin om liedjies te skryf. Haar pa was in ’n orkes, hoewel sy hom nooit saam met die orkeslede sien optree het nie.

Hy het ’n kitaar gehad waaraan sy nie mag geraak het nie – laat staan nog daarop tokkel.

“Dit het my natuurlik daarvoor lus gemaak om kitaar te speel.”

Armatrading het ’n kitaar gekry – een in ’n pandjieswinkel waarvoor twee stootwaentjies ingeruil is.

Sy het nog steeds dié kitaar.

Tog was haar ma deurslaggewend in die eerste treë wat Armatrading as liedjieskrywer gegee het.

“My ma het ’n klavier gekoop wat sy gereken het ’n mooi meubelstuk is. En toe die klavier daar aangekom het, het ek liedjies begin skryf. So daardie twee dinge . . . dankie, Ma!”

Die inperking in Engeland weens die Covid-19-pandemie het nie ’n effek op haar vervaardiging van die album gehad nie.

“Dit is hoe ek normaalweg te werk gaan. Ek is tuis – ek skryf, verwerk en vervaardig. Ek is alleen in die vertrek. Dit was met my vorige albums ook die geval. Maar natuurlik het die inperking my geraak soos dit alle ander mense raak. Maar professioneel was dit nie ’n struikelblok nie.”

‘Consequences’, Joan Armatrading se 22ste album, word Vrydag uitgereik.

Haar debuutalbum, Whatever’s for Us, is in 1972 uitgereik.

Sy het as tiener voor ’n gehoor opgetree.

“Ek het net my eie musiek geken. Ek het nie probeer om iemand anders se liedjies te leer nie. My broer het gesê mense sal nie weet waarmee ek besig is nie. Ek gaan iets moet sing wat hulle sal ken.”

Sy het die Amerikaanse folkduo Simon & Garfunkel se treffer “The Sound of Silence” gesing.

Sy was as jong meisie ’n tikster, maar sy het die trekpas gekry omdat sy in haar teepouse te veel kitaar gespeel het.

Sy glo sy is gebore om hierdie loopbaan te volg.

“Niemand het my geleer om klavier of kitaar te speel nie, ook nie om ’n liedjie te skryf nie. Dit het natuurlik gevoel, ek kon die goed in my kop hoor.”

• Besoek joanarmatrading.com om vir die konsert te bespreek.

Meer oor:  Musiek  |  Enkelsnit  |  Sangeres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.