Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Inspirerende konserte vir JFO se Lenteseisoen

Musiek en teater het iets baie spesiaal in gemeen. Klank en woorde kan gehore só mesmeriseer dat hulle aan die einde van ’n concerto, ’n simfonie of ’n verhoogstuk kollektief spontaan op die uitvoering van die musiek of die vertolking van die karakters in ’n drama of komedie reageer.

Conrad van Alphen

Die JFO se mees inspirerende konserte word en masse met geesdrif begroet, want niemand kan immers apaties teenoor topprestasies staan nie.

Oudergewoonte is die nuwe seisoen uit vier konserte saamgestel, waarvan sommige drie keer uitgevoer word; ander slegs twee keer. Die eerste twee konserte is altyd op Woensdag- en Donderdagaande om 19:30. Wanneer ’n derde een bygevoeg word, vind dit Vrydae om 11:00 plaas. Alle konserte word in die JFO se tuiste, die Linder-ouditorium in Parktown, aangebied.

Vanjaar word ’n tradisie met die openingskonserte op 23, 24 en 25 Oktober voortgesit. Soos in die verlede is dit ’n gekombineerde een waaraan twee orkeste deelneem: die JFO en die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes. Dit beteken dat daar met die uitvoering van Gustav Mahler se Simfonie no. 1 in D majeur oor ’n honderd musici op die verhoog sal wees.

Dié drie konserte word deur die Duitse dirigent Wolfgang Christ gelei. Hy was vir ’n geruime tyd die hoof-altviolis in die Berlynse Filharmoniese Orkes. In die eerste helfte word die lewe van George Gershwin gevier, met uittreksels uit sy universeel bekende opera Porgy and Bess.

Nie net sal Richard Rodney Bennett se simfoniese portret van Porgy and Bess die program open nie, maar twee van ons suksesvolste sangers wat oorsee naam gemaak het, die sopraan Linda Nteleza en die bariton Njabulo Mthimkhulu, is te hore. Hulle sing onder andere die bekende “Summertime” en “Bess, You Is My Woman Now” uit die opera. Ná pouse volg die genoemde Mahler-simfonie wat, saam met sy no. 4, onder sy toeganklikste werke tel.

Die tweede program van die seisoen word op 30 en 31 Oktober uitgevoer. Op die podium is die Israelies-Amerikaanse dirigent Daniel Boico en as solis die 27-jarige Russiese pianis Dmitrei Sjisjkin, wat vroeër vanjaar die tweede prys by die 16de Internasionale Tsjaikowski-kompetisie in Moskou gewen het.

Hy sal die solis wees in die Klavierkonsert no. 2 in E mineur, opus 11 van Chopin. Die program open met Saint-Saëns se Danse Macabre en word afgesluit met die Simfonie no. 2 in B mineur van Borodin.

Vir die konserte op 6 en 7 November is die Amerikaanse dirigent Roderick Cox en die Chinese pianis Antonio Chen Guang genooi. Die drie werke op die program is die ouverture uit Mozart se Entführung aus dem Serail, die Klavierkonsert no. 3 in C majeur, opus 26 van Prokofiëf en Brahms se Simfonie no. 4 in E mineur, opus 98.

Vir die laaste konserte van die JFO se Lenteseisoen staan die Suid-Afrikaans gebore dirigent Conrad van Alphen op die podium. Sy solis is die jong Britse trompetvirtuoos Matilda Lloyd, wat die gewildste trompetkonsert in die repertorium sal uitvoer: dié van Joseph Haydn in E mol majeur. Van Alphen open die konsert met ’n vierdelige Suite uit Handel se Watermusiek en sluit dit ná pouse af met Gustav Holst se sewedelige orkestrale magnum opus, The Planets.

Die datums is 13, 14 en 15 November.

  • Wat kaartjies betref, sal die eerste keuse vir ernstige musiekliefhebbers ’n seisoensubskripsie teen ’n verminderde prys wees. Bel Rosie Katz van die JFO tydens kantoorure op 011 484 0446. ’n Subskripsie-intekenaar kan as ’n aandeelhouer van die JFO beskou word. Dit beteken ook dat lede hul uitsoeksitplekke vir jare lank kan behou. Vir enkelkaartjies bespreek deur Computicket, óf by die Linder se loket vanaf ’n uur voor die aanvang van konserte.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.