Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Is dit die laaste note van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes?

Geldelike probleme bedreig die voortbestaan van die Kaapstadse Filharmonies Orkes (KFO). Die moontlikheid is sterk dat die orkes nie meer sal kan voortbestaan as die nodige geld nie gevind word nie.

Die KFO tree in die Kaapstadse stadsaal op.

Louis Heyneman, hoofbestuurder, sê alle betrokkenes probeer ’n ramp afweer.

“Ons kontantvloeiposisie is ernstig ontwrig en ons moes die afgelope drie maande geld leen om aan die gang te bly. Die KFO ontvang gewoonlik sy jaarlikse finansiering van meer as R7 miljoen by die Departement van Kuns en Kultuur in Junie. Dis reeds September en ondanks dringende versoeke om met ons te kommunikeer, swyg die departement soos die graf,” sê hy.

Die KFO, wat in 1914 tot stand gekom het, is die oudste simfonieorkes in die land.

Indien die orkes moet ontbind sal dit nie net die inwoners van ’n gevestigde orkeskultuur beroof nie, maar dit sal generasies jong musici nadelig beïnvloed. Daar sal nie geleenthede wees vir studente wat musiek studeer nie en veral die kinders wat met uitreikprogramme bereik word, sal hierdie unieke geleentheid verbeur.

Een hiervan is die Masidlale-projek wat praktiese en teorie-musiekonderrig gee aan kinders uit minder gegoede gebiede. Sowat 100 kinders word gratis onderrig en die KFO voorsien die instrumente. Om hierdie program vlot te laat loop, kos sowat R10 miljoen per jaar. Dit is een derde van die orkes se jaarlikse begroting. Die leerlinge kom uit Khayelitsha, Guguletu, Nyanga en Langa.

Volgens Heyneman doen hardnekkige gerugte die rondte dat die minister van kuns en kultuur dit oorweeg om die finansiering van orkeste in Kaapstad, Johannesburg en Durban te staak en net een rondreisende nasionale orkes te finansier.

“Dit is totaal onvolhoubaar. Die bykomende koste wat vermors word op reis- en verblyfkoste en daaglikse toelaes vir musici op reis sal ’n einde bring aan enige orkeskultuur in al hierdie stede. Dit sal ook ’n logistieke nagmerrie wees omdat die aktiwiteite in die verskillende stede sal oorvleuel.

“Die grootste skade wat so ’n stap sal aanrig, is egter aan die duisende jong musici wat deur middel van jeugorkeste en mentorskap opgelei word. Die belangrike werk wat professionele musici doen ten opsigte van die oordrag van vaardighede sal plotseling tot ’n einde kom.

“Opera, ballet en al die ander orkesdienste wat tans nog floreer, sal nie meer volhoubaar wees nie. Geen orkes ter wêreld kan bestaan sonder finansiële ondersteuning nie.

“Dit gaan nie oor die vasklou aan ’n Europese musiektradisie wat geen invloed op die inwoners van Afrika het nie. Ons is deel van ’n globale kultuur. Jong operasangers uit Suid-Afrika wen wêreldwyd gesogte pryse by internasionale kompetisies in die voorste konsertsale van Hamburg, Berlyn, Amsterdam. By die Verbier-musiekfees in Switserland het gehore onlangs ’n staande applous vir jong musici van die Miagi-jeugorkes uit Suid-Afrika gegee. As dit nie ’n positiewe bydrae tot nasiebou is nie, wat is?”

Die KFO het jaarlikse sowat R30 miljoen nodig. Sowat R10 miljoen kom van individue en borge. Inkomste word gegenereer deur die uitverhuring aan ander organisasies, ’n trustfonds en die rente hieruit. Slegs sowat R3 miljoen kom uit kaartjieverkope. Die regering gee R10 miljoen, die Wes-Kaapse regering R1,5 miljoen en die Kaapstad-metro R1,5 miljoen. In hierdie stadium het die Kaapstad-metro egter ook nog nie sy deel bygedra nie.

Dit is ook nie so eenvoudig om bloot kaartjiepryse te verhoog nie. As kaartjies onbekostigbaar word, sal dit teenproduktief wees en die konsertkultuur wat oor jare opgebou is, sal in elk geval verdwyn.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.