Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jakkie Louw sing platteland aan die brand

Die sanger Jakkie Louw is een van min musikante wat nie swaar getref is deur die gebrek aan optredes weens die inperkingsreëls nie. Inteendeel, hy sê dit is skeptyd vir hom.

Die sanger Jakkie Louw by sy poppekas

Een van die voordelige planne wat die sanger in die tyd uitgevoer het, is 50 mense, 50 dorpe, 50 shows.

“Die oomblik toe ons voor 50 mense kon optree, het ek op sosiale media gesê enigeen kan my daarvoor bespreek. Plekke soos Orania, Albertinia, Joubertina, Bethal, Secunda, Louis Trichardt, Groot-Brakrivier en ’n menigte ander, selfs Stellenbosch en Polokwane, het van hulle laat hoor. Ek is in drie dae vir 47 shows bespreek.”

Sy voorneme was om vanjaar 50 skole te besoek, maar met die huidige maatreëls weet hy nie of dit moontlik sal wees nie.

Hy staan egter gereed as daar nog kleinerige dorpe is waar daar belangstelling is vir optredes voor 50 mense.

Louw se veelsydigheid is een van die redes waarom hy nie onder die gevolge van die pandemie gebuk gaan nie. Hy sê hy het twee jaar gelede met ’n poppekasvertoning begin waarvoor hy self die teks geskryf het, al die karakters vertolk, die stel ontwerp het en die musiek gemaak het.

Dit gaan oor Felias en Pokkel, twee veldmuise in ’n boer se huis waar daar ook ’n kat bly. Felias en Pokkel het hulle later in ’n boek met 21 slaapstories bevind wat hy ook self geskryf het en wat saam met ’n CD verkoop is.

“Die CD het op die ou end beter verkoop as die boek en dit het my laat besluit om Jaco Jacobs, een van ons land se beste kinderboekskrywers, te vra om te help.

“Nie lank daarna nie het manuskripte vir drie puik boeke by my aangekom, Pokkel verjaar, Die tandemuis kry ’n blaaskans en Pokkel gaan maan toe.”

Die drie boeke sal vanjaar as ’n stel verskyn.

Ek weet van ouens wat sedert Desember nie krag het nie, van mense wie se koskaste leeg is. Ek weet ook van twee ouens wat hul eie lewe geneem het.
Jakkie Louw

Net voordat die inperking in Maart verlede jaar ingestel is, het Louw in Australië getoer met ’n dubbeldoor-aanbieding – die poppekas vir kinders en sy sangoptredes vir ouers (en ander). Dit lok ongetwyfeld groot getalle mense en, sê hy, natuurlik gaan geen konsert verby sonder dat hy gevra word om “Drie pikkewyne” te sing nie, die liedjie waarmee hy byna twee dekades gelede bekendheid verwerf het.

Louw sê hy gee nie om om in klein lokale te sing nie, dit is daar dat hy dikwels die grootste verrassings kry.

Laat verlede jaar het ’n man êrens buite Pretoria hom gevra of hy daar sal kom sing. Dit sal ’n klein gehoor wees, sê die persoon, maar aan die einde van die vertoning sal ek aankondig jy sal “Drie pikkewyne” sing as die mense jou tip.

Louw sê hy was glad nie daarvoor te vinde nie, die toegangsgeld is vir hom genoeg, maar die eienaar het daarop aangedring.

“Ek was verstom oor die groot bedrae geld wat party gehoorlede gee en het gevra hoekom enigeen dit sou doen. Toe sê die eienaar ‘want hulle wil nie sangers soos jy verloor nie’. Dit is vir hulle belangrik dat die bedryf voortgaan.”

Dat daar wel mense in die musiekbedryf is wat bitter swaarkry, is vir Louw eerstehandse kennis.

“Ek weet van ouens wat sedert Desember nie krag het nie, van mense wie se koskaste leeg is. Ek weet ook van twee ouens wat hul eie lewe geneem het.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Musiek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Jakkie Louw  |  Covid-19  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.