Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jannie du Toit neem driekuns saam kykNET op
Kunstefees in die kleine
Chanie Jonker, Jannie du Toit en Susan Mouton. Foto: Ivan Naudé

Die sanger Jannie du Toit bied met drie van sy gewilde musiekproduksies Sondag ’n kunstefees in die kleine in Pretoria aan terwyl kykNET dit verfilm.

Du Toit voer om 12:00 Oesjaar, om 15:00 Bonjour Monsieur Brel en om 18:00 Kiekies in die Atterburyteater op.

“Dit is drie produksies wat ek graag op televisie wil hê,” sê Du Toit.

“Ek het kykNET genader. Ek dink dit sal goed wees om ’n volledige uitsending van die produksies beskikbaar te hê. Dit is produksies waarvan ek baie hou en ek het al voorheen ook so baie op een dag gesing. ’n Mens moet baie optree om stemfiks te word.”

Hoewel dit Sondag opgeneem word, is dit nog nie bevestig wanneer kykNET dit sal uitsaai nie.

Tydens elke vertoning sal gaste ’n gratis glas wyn van die landgoed Mont du Toit kan geniet.

Die landgoed gebruik ’n kwatryn uit Du Toit se lied “Oesjaar” op die etiket van die 2013-versnit.

In Oesjaar tree Chanie Jonker (klavier), Susan Mouton (tjello), Theuns Botha (tromme) die vokale ensemble Breathe en Sergio Zampolli (trekklavier) en Brendan Ross (saxofoon) saam met hom op.

Oesjaar is ook die titel van sy album wat in 2018 uitgereik is.

Mouton en Jonker tree ook saam met hom in Bonjour Monsieur Brel op waarin hy die liedjies van die Belgiese troebadoer Jacques Brel in viere tale sing, naamlik Frans, Nederlands, Engels en Afrikaans. Brel is bekend om treffers soos “Amsterdam”, “Marieke”, “Madeleine”, “The Old Folks” en “Ne me quitte pas”.

In Kiekies vertolk Du Toit saam met Thean Kotze van Ses Snare die musiek van die ontslape kunstenaar Lucas Maree. Du Toit en Kotze het voorheen besef hulle albei beplan ’n konsert met Maree se musiek en het toe besluit om saam op te tree. Kiekies is die naam van Maree se eerste album wat in 1984 verskyn het en een van sy bekendste liedjies was “Kiekies in my plakboek”.

Ander treffers deur Maree sluit in “Victoriabaai”, “Droomvrou” en “Miljoen”.

“Weet jy, Thean is so ’n goeie kitaarspeler. Ek kry koue rillings, want ek kan sweer dis Lucas Maree langs my.”

Kaartjies kos R150 vir een vertoning, R220 vir twee vertonings en R270 vir drie vertonings.

Bespreek by iTickets.

Skakel die Atterburyteater by 012 942 5951 vir navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.