SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Musiek
Jazz en kontemporêr gesels saam in een fees
Matthijs van Dijk

Jazz-kunstenaars en klassieke musici wat kontemporêre kunsmusiek saam in een fees uitvoer, gebeur selde, daarom word die eerste Suid-Afrikaanse Jazz & Classical Encounters Festival@Spier as vernuwend beskryf.

Van Suid-Afrika se bekendste musici is betrokke by die fees wat op 23 November op die Spier-wynlandgoed by Stellenbosch gehou word.

Een van die groepe wat daar gaan optree, is die Night Light Collective vir wie onder andere Matthijs van Dijk “How to Sit Underwater” gekomponeer en “Down to The River to Pray” verwerk het.

Hul “eklektiese mengsel van oorspronklike werke deur elke lid van die ensemble” word uitgevoer op viool, kontrabas en klavier, asook tradisionele Suider-Afrikaanse instrumente.

Groepe wat suiwer jazz op die fees sal speel, is die Kyle Shepherd Trio, Afrika Grooves en die Tune Recreation Committee met die Standard Bank Jong Kunstenaars Afrika Mkhize (2012) en Mandla Mlangeni (2019) wat ’n verskyning sal maak.

’n Groot groep Kaapse klassieke musici is lede van die altviolis en komponis Jan-Hendrik Harley se ensemble Je ne Comprends Pas, wat vyf van sy werke sal uitvoer.

Vier van die komposisies is debute en die vyfde, Vlinder, noem hy ’n “herlewing”.

Jan-Hendrik Harley

Die musici is Liesl Stoltz (fluit), Visser Liebenberg (klarinet), Dave Thompson (trompet), Gene Kierman (Franse horing), Nick Green (tromboon), Frank Mallows (perkussie), Nina Schumann (klavier), Annien Shaw (viool), Petrus Coetzee (altviool), David Pinoit (tjello) en Mariechen Meyer (kontrabas).

Harley sê die fees maak hom opgewonde omdat hy ander komponiste se musiek-idees sal kan hoor. “Ons het, ongeag die genre waarin ons skryf, iets in gemeen en dit is dat ons iets te sê het en verkies om dit deur musiek te sê.”

Van Dijk meen die fees is ’n “fantastiese idee” omdat daar weinig feeste vir kontemporêre kunsmusiek is. “Die crossover-elemente in moderne klassieke musiek bring mee dat die meeste van dié werke gemaklik langs moderne jazz inpas. Dit is boonop ’n goeie manier om gehore wedersyds te laat toeneem,” meen hy.

Dié seun van die Suid-Afrikaanse komponis Péter Louis van Dijk skryf van sy negende jaar musiek en het verskeie werke vir orkes, ensembles en klankbane vir internasionale rolprente in sy oeuvre.

Hy het ook al musiek vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Rillerfees (Horrorfest) en vir New Yorkse ensembles gekomponeer.

Van Dijk sê hy is deesdae so besig as komponis dat hy selde tyd kry om viool te speel. Op die fees sal hy egter een van sy eie werke speel, wat ’n bonus vir die gehoor sal wees.

Die feesprogram lyk so:

* 14.00 tot 15:00 – Kyle Shepherd Trio

* 15:15 tot 16:15 – The Night Light Collective

* 16:45 tot 17:45 – Mandla Mlangeni en die Tune Recreation Committee

* 18:00 tot 19:00 – Je ne Comprends Pas

* 19:45 tot 20:45 – Mandisi Dyantyis Quintet Die kaartjies kos R380 by Quicket.

Meer oor:  Musiek  |  Spier  |  Jazz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.