Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jeremy op pad na Roundhouse
Jeremy Loops. Oorsee speel hy en sy span aand ná aand vir groot gehore van sowat 3 000 mense.

Jeremy Loops is blykbaar met ’n goue lepel in die mond gebore. Hoe anders verklaar jy die gemak waarmee ’n boorling van Kommetjie so ’n aweregse paadjie na die hart van die musiekbedryf stap – via ’n graad in finansies en eiendomsontwikkeling (met lof geslaag), en wat eers in sy laaste studiejaar ’n kitaar opgetel het.

Amper tien jaar later kan Jeremy (gebore Hewitt) spog met ’n paar toere deur sy geboorteland, Europa en Amerika, en daar is nog groot dinge op pad vir die man, wat sekerlik kon kies tussen ’n loopbaan in die sakewêreld, of te oordeel na openbare reaksie, selfs modelwerk. Die skoner geslag swymel oor elke foto van Jeremy, en te oordeel na die reaksie is dit definitief nie net sy musiektalent waarby sy aanhangers aanklank vind nie. Bygesê, dat Jeremy tonne talent het, is taamlik ooglopend te oordeel na sy internasionale welslae!

Jeremy se nuutste vollengte album, Critical as Water, is vroeër vanjaar uitgereik en volg op die sukses van Trading Change.

Sedert 2014 toer die man gereeld oorsee, en nog ’n hoogtepunt op sy kerfstok is eersdaags op pad wanneer hy sy kitaar inprop in die ikoniese Roundhouse in Londen, een van die mees gesogte venues om in te speel. Die optrede in Februarie 2019 sal hom in die uitgelese geselskap van Jimi Hendrix, die Rolling Stones en David Bowie plaas.

Jy is seker nie spyt dat jy nie ’n loopbaan in finansies of eiendomsontwikkeling gekies het nie gegewe jou sukses aan die musikale front? Wanneer het jy besef musiek is dalk ’n opsie?

Ek het op 19 besef dat musiek my gelukkiger kan maak as wat professionele eiendomsontwikkeling ooit sou kon, en gelukkig het dinge vir my loopbaan as musikant goed uitgewerk. Ek is nog jonk genoeg om later van beroep te kan verander, maar die eerste prys sal altyd wees om agter my instrumente in te skuif. Ek is egter nie spyt ek het deurgedruk met my studie nie – daardie kennis het ’n groot impak op my besluite as beroepsmusikant gehad.

Met watter soort musiek vereenselwig jy met jou grootwordjare? Watter kunstenaar het jou nogal geïnspireer of gefassineer?

My ouers het al die classics gespeel. Bob Marley, Fleetwood Mac, Janis Joplin en hul genote. Daar was altyd musiek in ons huis. Ek kan egter nie een enkele kunstenaar noem wat my styl pertinent beïnvloed het nie – ek het altyd gereken Bob Dylan en Woody Guthrie se musiek het die meeste impak op my gehad, maar die waarheid is dat feitlik elke kunstenaar ’n stempel afdruk, ongeag van die genre of era. Dit word ingeweef – deel van jou verwysingsraamwerk.

Jy is vroeg in jou loopbaan al beloon met ’n MK-prys (2014 – Beste lewende optrede). Hoe verbeter ’n mens op ’n wen­resep-verhoogoptrede?

Ons werk dag in en dag uit aan ons live vertonings – ek en die span probeer pal nuwe klein detail inkorporeer rondom die show, karring bietjie aan produksiewaardes, stel­inkleding en visuele aspekte. Soos enige ernstig musikante is ons toegewyd, en hoe meer ons speel, hoe beter raak ons saam. Ons is so ingeoefen in ons musiek dat ons baie ruimte het om interessante kitaarsolo’s of improvisasie op die verhoog te probeer. En as ons daar sien iets werk of het potensiaal, skaaf ’n mens verder. Daar’s altyd ruimte vir verbetering of verrassing, veral as jy die reaksie op mense se gesigte kan sien!

Hoe vergelyk wêreldgehore met die Suid-Afrikaanse aanhangers?

Dis maar dieselfde energie, maar dis ’n wanpersepsie dat Suid-Afrikaners ons grootste aanhangers is – as jy by een van ons konserte in Duitsland, Switserland, Brittanje of Nederland opdaag, sal jy sien ons speel aand ná aand vir groot gehore van rondom 3 000 mense. Suid-Afrika sal altyd ons tuiste wees en dit is lekker

om hier te kom batterye herlaai, maar oorsee is beslis waar die aksie is.

Dit is seker ’n hoogtepunt om in die Roundhouse te kan optree?

Ek dink dis ’n groot oomblik, definitief, en die Roundhouse Club is sensasioneel, maar dit beteken nie ons kan nou op ons louere rus nie. Dit kan nie die toppunt wees vir ons nie. Ons is tans die grootste toerende Suid-Afrikaanse groep in die wêreld. Geen plafon gaan ons keer nie, en dis nie net wintie wees nie – ek is eerlik. Dit is heerlik om hierdie geleenthede te geniet, en hopelik kan ons die deur oop los vir ander Suid-Afrikaanse kunstenaars om te volg.

Wat is op Jeremy Looper se doenlysie ná die Roundhouse-optrede in Februarie?

Ek glo dat sulke bucket list-drome eintlik heel haalbaar is – as hierdie musiek my enigiets geleer het, is dit dat mense tot baie meer in staat is as wat ons geneig is om te glo – so ek het nie ’n lysie met “goed wat ek wil bereik voordat ek my kop neerlê nie”, maar in my agterkop het ek dat dit als uitdagings is op die pad vorentoe – mylpale in ’n marathon.

Op watter van die mylpale tot dusver is jy die trotsste?

Om ’n voltydse musikant te wees wat nie verdrink in skuld nie is nogal ’n groot een. Ek besef hoe skraal die moontlikheid is vir plaaslike talent om tot hier te vorder, en om ’n span van 20 mense se salaristjeks te teken deur middel van my musiek is nogal spesiaal.

Het jy in al jou omswerwinge enige rolmodelle ontmoet?

Ek het regtig nie rolmodelle nie – as jy iemand verafgod, gaan hulle jou die een of ander tyd teleurstel. Ek probeer eerder maar net om van die inspirerende eienskappe by almal om my te leen. So word ek elke dag ’n klein bietjie beter as mens sonder om ander met ’n onmoontlike maatstaf te meet. Nie dat dit altyd maklik is nie! 

Meer oor:  Jeremy Loops  |  Musiek  |  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.