Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Jerusalema’-2 nou ambassadeurs vir kuns en kultuur

Die departement van sport, kuns en kultuur het aangekondig dat die musikant Kgaogelo Moagi, beter bekend as Master KG, en die sanger Nomcebo Zikode as Suid-Afrika se ambassadeurs vir kuns en kultuur aangestel is.

Moagi en Zikode het albei Vrydag by die departement se kantoor in Pretoria ’n sertifikaat ontvang wat hul rol as kultuurambassadeurs in die departement se internasionale kultuurdiplomasieprogram bevestig.

Die stap volg kort op die wêreldwye dansuitdaging wat op die maat van Moagi en Zikode se liedjie “Jerusalema” vlamgevat en soos ’n veldbrand op die internet versprei het. Hoewel die liedjie reeds in November verlede jaar uitgereik is, het Netwerk24 berig dat dit dansers meer onlangs in lande soos Angola, Frankryk, Portugal, Australië, Swede, Pole en Nederland aan die draai en swaai gekry het.

Dié dansuitdaging, wat as die #JerusalemaDanceChallenge bekend staan, het op sy beurt talle oë op die liedjie se musiekvideo op YouTube gevestig. Die video se kykgetal het op 25 Julie die 50 miljoen-kerf oorgesteek. Dit is intussen nog meer as 22 miljoen keer gekyk.

Nathi Mthethwa, minister in die departement, sê in ’n verklaring hy is “verheug” oor die pad wat sy departement nou met Moagi en Zikode gaan stap. Die samewerking tussen hulle sal twee jaar duur.

“Die hoofdoel van ons kultuurdiplomasieprogram is om ons kultuurgoedere en -dienste met die wêreld te deel, om te wys wat in ons steek – ook met ’n klem op die vasteland, wat ons bekommerd is jong mense min van weet. Dit is uiters belangrik dat ons ons vriendskappe op die vasteland versterk omdat ons Afrikane is.”

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, oorhandig ’n sertifikaat aan Nomcebo Zikode. Foto: Twitter
Moagi (links) neem sy sertifikaat in ontvangs. Foto: Twitter

Mthethwa sê nog ’n doel van die program is om te verseker dat Suid-Afrikaanse kunstenaars “op dieselfde golflengte is” as hul eweknieë oor die vasteland heen.

“Die vasteland sal welvarend wees as jong mense daartoe in staat is om skouers te skuur en sterk verhoudinge te bou. Mense moet ons kultuur ken – en die beste manier is deur ons kunstenaars. Dit is ons plig om toe te sien dat Afrika en die beeld van Afrika uitstyg,” sê die minister.

“Ons het geen twyfel dat julle (Moagi en Zikode) sal voortgaan om ons trots te maak nie. Die departement en die regering staan bankvas agter julle om julle te ondersteun terwyl julle die vlag van Suid-Afrika al hoe hoër hys.”

Moagi het ná die oorhandiging getwiet hy is dankbaar vir die geleentheid en dat hy Suid-Afrika nie in dié rol sal teleurstel nie. Zikode het ook getwiet sy is trots om ’n verteenwoordiger vir Suid-Afrika te wees.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Musiek  |  Nomcebo Zikode  |  Nathi Mthethwa  |  Master Kg  |  Kgaogelo Moagi  |  Jerusalema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.