Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Jerusalema’ behaal Shazam-mylpaal

Enigiemand wat dink die liedjie “Jerusalema” kan nie gewilder word nie, is verkeerd.

Die Suid-Afrikaners Master KG, verhoognaam van die musikant Kgaogelo Moagi, en die sanger Nomcebo Zikode het nog ’n mylpaal met hul liedjie behaal, dié keer op Shazam. Dié app laat enigiemand toe om ’n liedjie te identifiseer wanneer hulle dit, byvoorbeeld, op die radio, op TV of in ’n openbare plek hoor.

Shazam het op Twitter bevestig “Jerusalema” is amptelik boaan sy ranglys van die 200 liedjies wat in die week voor 8 September die meeste op die app gesoek is. Dit was teen Maandag steeds die topliedjie.

Die Sowetan berig dit is die eerste keer dat ’n liedjie uit Afrika boaan dié wêreldwye Shazam-ranglys pryk.

“Ons is uiteindelik nommer een op Shazam,” het Moagi met talle hartjies en emotikons van sjampanjebottels getwiet.

Volgens shazam.com was die liedjie ook meer spesifiek in België, Bulgarye, Frankryk, Kroasië, Nederland, Oostenryk, Roemenië, Spanje en Switserland die gewildste liedjie wat met die app gesoek is. Dit was die naasgewildste liedjie op die app in Duitsland en Marokko, en derde in Portugal en Venezuela.

Master KG (links) en Nomcebo Zikode is danksy ‘Jerusalema’ wêreldbekend. Foto: Twitter

Netwerk24 het vroeër berig die liedjie is reeds in November verlede jaar uitgereik, maar dit het eers vanjaar wêreldwyd vlamgevat toe talle mense – van Italiaanse priesters en nonne tot Roemeense brandweermanne – op die maat van die liedjie gedans en video’s daarvan aanlyn geplaas het.

Dit het tot ’n wêreldwye dansuitdaging, bekend as die #JerusalemaDanceChallenge, gelei en ook die liedjie se musiekvideo op YouTube ’n tamaai hupstoot gegee – dit is teen Maandag meer as 134 miljoen keer gekyk.

Die liedjie het musiekliefhebbers se oë op Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse musiek gevestig, wat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, aangespoor het om Moagi en Zikode in Augustus as Suid-Afrika se ambassadeurs vir kuns en kultuur aan te stel.

“Ons het geen twyfel dat julle (Moagi en Zikode) sal voortgaan om ons trots te maak nie,” het Mthethwa in Augustus in ’n mediaverklaring gesê.

“Die departement en die regering staan bankvas agter julle om julle te ondersteun terwyl julle die vlag van Suid-Afrika al hoe hoër laat wapper.”

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Shazam  |  Musiek  |  Nomcebo Zikode  |  Nathi Mthethwa  |  Master Kg  |  Kgaogelo Moagi  |  Jerusalema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.