Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Jerusalema’-sangers kibbel aanlyn oor tantième

Die sangeres Nomcebo Zikode het haar ontevredenheid uitgespreek omdat sy nog nie vir haar aandeel in die wegholtreffer “Jerusalema” vergoed is nie.

Zikode het die liedjie, wat in November 2019 uitgereik is, saam met Master KG geskryf én dit as ’n gaskunstenaar saam met hom gesing.

Hul gesamentlike eindproduk het verlede jaar soos ’n veldbrand op die internet versprei en tot ’n wêreldwye dansuitdaging, bekend as die #JerusalemaDanceChallenge, gelei. Daarby is die liedjie se musiekvideo teen Maandag meer as 421 miljoen keer op YouTube gekyk.

Volgens Zikode het al dié mylpale haar egter “nog nie ’n sent” in die sak gebring nie.

“My stem en lirieke het wêreldwyd aanklank gevind, maar ek wag steeds op wat my toekom,” het sy Sondagoggend in ’n verklaring op haar Facebook-blad gesê.

“Ek is ondanks die liedjie se wêreldwye sukses nog nie ’n sent deur die platemaatskappy betaal nie. Ek is gespot en daar was pogings om my bydrae na die kantlyn te skuif.

“Ek as ’n vrouekunstenaar kan nie langer stilbly hieroor nie. Die saak is nou in my prokureurs se hande.”

Open Mic Productions, die platemaatskappy waarna Zikode verwys, het Sondagmiddag in ’n verklaring op haar bewerings gereageer.

Master KG, die verhoognaam van Kgaogelo Moagi, het ook Open Mic se verklaring op sy sosialemediaplatforms gedeel.

Zikode het via haar regspan die kontrak bestudeer en toe ’n groter persentasie (van die tantième) voorgestel.
Open Mic Productions

Open Mic sê in dié verklaring hy spreek hom normaalweg nie uit oor sy kunstenaars se kontraktuele sake nie, maar Zikode se “uitlatings moet reggestel word”.

Luidens die verklaring het Zikode en Moagi in 2019 tydens die skep van die liedjie ooreengekom dat hulle enige tantième wat dit sou verdien, gelykop sou verdeel. Dié ooreenkoms is glo eers in November verlede jaar – ’n jaar nadat die liedjie uitgereik is – neergepen.

“Zikode het via haar regspan die kontrak bestudeer en toe ’n groter persentasie (van die tantième) voorgestel,” lui die verklaring. Moagi het op Twitter bygelas dat Zikode glo op 70% daarvan aangedring het.

“Sedertdien is die onderhandelinge aan die gang. Ons kan bevestig dat ons laaste kommunikasie met Zikode se regspan daaroor op 19 Junie 2021 was.”

Die platemaatskappy sê nóg Zikode nóg Moagi is daarom betaal omdat ’n ooreenkoms met Zikode nog nie bereik is nie.

“Die onderhandelings duur voort, en sodra al die partye die ooreenkoms onderteken het, sal die betaling gemaak word. Zikode is bewus hiervan.”

Moagi het in ’n reeks twiets gesê “daar is niks om weg te steek nie” en dat “almal die waarheid sal hoor wanneer die tyd reg is”.

Open Mic Productions het ook op Twitter gesê dat Zikode wel geld vir die liedjie ontvang het, maar dat dié geld uit ’n ander inkomstestroom verdien en glo aan haar uitbetaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.