Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jeugdag: Oratorium vir die ‘vergete jeug’
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die Amandla Freedom Ensemble snoer kragte saam vir Oratorio of a Forgotten Youth.Foto: Verskaf

Kapenaars kan hulle regmaak vir ’n musikale uitvoering met ’n kinkel wanneer die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), die Amandla Freedom Ensemble en die Gugulethu Voices ter herdenking van Jeugdag kragte saamsnoer.

Oratorio of a Forgotten Youth gaan die gebeure van 16 Junie 1976 herdenk toe duisende leerlinge in Soweto in opstand gekom het teen die apartheidsregering se besluit om Afrikaans naas Engels as onderrigtaal in te bring.

Die eindproduk is die trompetspeler en komponis Mandla Mlangeni se debuutproduksie nadat hy in 2018 aangewys is as die jazzwenner in Standard Bank se Jong Kunstenaar-kompetisie. Die teks (libretto) is geskryf deur die digter Koleka Putuma.

Volgens Mandla Mbothwe, regisseur, moet gehore nie ’n tradisionele oratorium (’n grootse werk vir koor en orkes), opera, musiekblyspel of musiekuitvoering verwag nie.

“Ons gaan dié genres se grense verskuif en iets lewer wat werklik interdissiplinêr is. Dit is klassieke musiek, dit is jazz, dit is ’n orkes, dit is digkuns, dit is ’n musiekblyspel en ’n musiekkonsert – en dit is steeds hogere kuns.”

Hy erken die samevoeging van en wisselwerking tussen die uiteenlopende musiekstyle is soms “ongemaklik”.

“Maar ons omarm dit, en so simboliseer die musiek ook hoe ongemaklik dit steeds vir sommige Suid-Afrikaners is om oor die opstande van 1976 te praat.”

Hy hoop dat die produksie vuur onder die jeug van vandag sal maak.

“Ons wil hulle, veral die #FeesMustFall-generasie, inspireer om meer proaktief te wees en verantwoordelikheid te neem vir sake van die dag. Dit is hulle wat dié land in die regte rigting moet stuur.”

Mbothwe sê die konsert gaan ook multidissiplinêr wees. Saam met die sowat 90 orkes- en koorlede, gaan daar ook ’n oudiovisuele element wees, met illustrasies deur Terence Visser en die kunstenaar Sanjin Muftic.

Mbothwe het self die stelontwerp gedoen.

*Oratorio of a Forgotten Youth word op 15 Junie om 18:00 in die Kunstekaap uitgevoer. Kaartjies kos R200, maar pensioentrekkers en studente betaal R130 en leerlinge ouer as ses jaar R80. Kaartjies kan by Computicket of die Kunstekaap gekoop word. Bespreek by 021 421 7695.

Meer oor:  Musiek  |  Jeugdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.