Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Johan Stemmet kry ‘groot dankie’ van FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het die sanger, vervaardiger en TV-aanbieder Johan Stemmet vir sy lewenswerk vereer.

Stemmet (68), wat waarskynlik die bekendste is vir sy rol as skepper, vervaardiger en voormalige aanbieder van die musiekspeletjiesprogram Noot vir noot, het dié eerbewys Vrydagaand op die sewende Afri-Duetfees in Centurion ontvang.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, vier Stemmet vanjaar vier dekades in die bedryf – en moes hy eintlik al lankal dié eerbewys ontvang het.

“Dit is ’n erkenning wat jy lankal moes ontvang vir die reuse-rol wat jy in Noot vir noot gespeel het om Afrikaanse musiek onder die breë publiek gewild te maak. Dan praat ons nie eens van jou rol as TV-aanbieder, regisseur, sanger en liedjieskrywer wat oor dekades strek nie.

“Dit is vir die FAK werklik ’n groot voorreg om by wyse van ’n klein toekenning vir jou ’n groot dankie te sê.”

Stemmet het Vrydag aan Netwerk24 gesê die eerbewys is baie spesiaal.

“Weet jy, ’n mens se lewe en loopbaan is nie geskoei op eerbewyse en toekennings nie, maar dit stem ’n mens tot dankbaarheid wanneer jy erkenning vir ’n geringe bydrae kry.

“Jy’s meer dankbaar dat jy vir iets wat jy probeer doen het – en ek sê dadelik dit is nie te sê dat ek dit reggekry het nie – erkenning kry. Dit maak dit werklik baie spesiaal.”

Johan Stemmet met die FAK-eerbewys wat hy ontvang
Johan Stemmet met die FAK-eerbewys wat hy ontvang het.

Stemmet het sy loopbaan as onderwyser in Kaapstad begin, maar eintlik ’n “dubbele lewe gelei” deur saans ook as onder meer ’n eenman-orkes musiek te maak.

“Die twee het vir my baie maklik hand aan hand gegaan – tot televisie skielik gekom het. Ek was van die begin van TV daar, en toe ek die eerste uitsending van ’n TV-program sien, toe weet ek dit is waar ek eintlik wil wees. Ek wou skeppend in TV met musiek wees, en dit is eintlik wat my uit die onderwys geswaai het.”

Hoewel hy altyd vir sy leeueaandeel in Noot vir noot onthou sal word – ook vir die kleurryke onderbaadjies wat hy in die reeks gedra het én sy nou ikoniese sêding “vyftig randjies vir jou” – het hy eintlik met talle ander TV-reekse, produksies en vertonings diep spore in die bedryf getrap.

Benewens Platepraatjies (1980-’85), My land my lied (1981), Micro Macro (1981-’82), Gé Sing (1983-’85), Debuut (1986-’88) en Teletreffers (1987-’89), het hy meer onlangs ook die reekse Musiek Roulette, Fundis en saam met sy vrou, Colleen, die opvoedkundige kinderreeks Words and Numbers die lig laat sien.

In dié tyd het hy ook talle albums uitgereik, onder meer Ek is lief vir jou (1980), Bianca (1982), Die Klokkespel (saam met Laurika Rauch, Cora Marie en Kupido in 1983), Op Versoek (1984), As ek maar net kon sê (1986) en Reisiger (2007).

Sy raad aan jong mense wat in sy spore wil volg, is om nie ’n loopbaan in TV na te jaag bloot om bekend te word nie.

“Jy moet ’n passie daarvoor hê en jy moet bereid wees om baie hard te werk. Dit gaan beslis nie oor glans nie, jy moet dit doen omdat jy dit graag wil doen.

“Sogenaamde bekendheid is ’n bysaak – dit is ’n gevolg van dít wat jy skep – maar dit moenie wees waarvoor jy mik nie.”

Meer oor:  Debuut  |  Laurika Rauch  |  Tv  |  Musiek  |  Danie Langner  |  Noot Vir Noot  |  Fak  |  Johan Stemmet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.