Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Johnny Clegg: Hulde vir die Wit Zoeloe stroom in
Johnny Clegg en sy seun Jesse in November 2017 saam op die verhoog in Johannesburg. Dié optrede was deel van Clegg se laaste toer, Final Journey, en die eerste keer dat pa en seun saam op die verhoog verskyn het. Foto: Getty Images

Huldeblyke het Dinsdagaand op sosiale media ingestroom nadat die musikant Johnny Clegg, bekend as die Wit Zoeloe, vroeër die dag dood is.

Johnny Clegg in 2003 in Kaapstad ten bate van die Nelson Mandela-stigting. Foto: Getty Images

Clegg het Dinsdagmiddag sy stryd teen pankreaskanker verloor by sy huis in Johannesburg, sê Roddy Quin, Clegg se bestuurder, vriend en familiewoordvoerder in ’n verklaring.

Hy het verlede maand 66 jaar oud geword. Clegg is in 2015 met pankreaskanker gediagnoseer.

Clegg se unieke en magiese samesmelting van Zoeloe-ritmes en -melodieë met folk-, pop- en Afrika-invloede vir meer as vier dekades het hom wêreldwyd ’n huishoudelike naam gemaak.

Nie net sal hy onthou word vir sy aansteeklike musiek nie, maar vir sy sagte gees, nederigheid en diep liefde vir sy land en al sy mense.

Clegg laat diep voetspore in die harte van elke persoon wat hom of haar as ’n Afrikaan beskou, sê Quin in ’n verklaring.

“Hy het ons gewys wat dit was om te assimileer en ander kulture te omhels sonder om jou identiteit te verloor. Hy was ’n antropoloog wat sy musiek gebruik het om met elke persoon te praat. Met sy unieke musiekstyl het hy kulturele struikelblokke soos min ander oorgesteek. In baie van ons het hy bewustheid wakker gemaak,” sê Quin.

Clegg is op 7 Junie 1953 in Bacup, Lancashire, Engeland, gebore en het saam met sy Rhodesiese ma na Johannesburg, Suid-Afrika, getrek toe hy ses jaar oud was. Sy blootstelling aan Zoeloe-trekarbeiders tydens sy tienerjare het hom aan hul kultuur en musiek bekend gestel. Hy is dikwels in hegtenis geneem weens sy betrokkenheid by swart musikante tydens apartheid, lui die verklaring.

Johnny Clegg het vroeër jare as die Wit Zoeloe bekend gestaan vanweë die unieke en magiese samesmelting van Zoeloe-ritmes en -melodieë in sy musiek. Foto: Getty Images

Juluka en Savuka

Op 17 het hy en Sipho Mchunu die groep Juluka gevorm, wat hier en oorsee groot sukses behaal het. In 1976 het hulle “Woza Friday”, hul eerste treffer, geskep. Die groep is in 1985 ontbind.

Op 33 in 1986 gedurende apartheid het hy en Dudu Zulu die groep Savuka gevorm, wat treffers soos “Asimbonanga” en “Scatterlings of Africa” opgelewer het en onder meer in 1993 vir ’n Grammy benoem is.

Lees ook die onderhoud wat Murray la Vita in 2013 met Clegg gevoer het

Clegg het ook verskeie soloalbums opgeneem en internasionale sukses geniet met uitverkoopte konserte waar hy ook al opgetree het.

Benewens dat hy lesings aan onderskeidelik die Universiteite van die Witwatersrand en KwaZulu-Natal aangebied het, het Clegg sy antropologiese studies met musiek gekombineer.

Hy is deur ’n aantal plaaslike en internasionale liggame bekroon vir sy bydrae tot musiek en samelewing, veral deur die Franse regering in 1991 met ’n Ridder van Kunste en Lettere, en in 2015 is hy ’n Officer of the Order of the British Empire gemaak.

Johnny Clegg is in 2012 deur die destydse pres. Jacob Zuma vereer met die Orde van Ikhamanga (silwer). Foto: Getty Images

In 2012 het hy die Orde van Ikhamanga van die Suid-Afrikaanse regering ontvang.

Johnny Clegg soos hy onthou sal word – aan die dans op die verhoog. Foto: Getty Images

Eredoktorsgrade

Eredoktorsgrade deur die Universiteite van die Witwatersrand en KwaZulu-Natal, Dartmouth College in Amerika en die City University of New York is aan hom toegeken.

Hy het die boek Ukubuyisa Isidumbu, wat in 1981 deur Ravan Press gepubliseer is, geskryf en referate aangebied oor “The music of Zulu immigrant workers in Johannesburg” in 1981 by die Grahamstadse Internasionale Biblioteek van Afrikamusiek en “Towards an understanding of African dance: The Zulu isishameni style” in 1982 aan die Rhodes-Universiteit.

Ten spyte van sy stryd teen kanker het Clegg voortgegaan om te toer en oor die hele wêreld heen op te tree.

Hy het kort ná sy diagnose ’n operasie van sewe uur ondergaan om die helfte van sy pankreas, sy galblaas en die helfte van sy maag te verwyder. Daarna het hy ses maande lank chemoterapie gekry.

Hoewel Clegg in 2016 in remissie gegaan het, het die kanker teruggekeer en het hy weer chemoterapie ontvang. In 2017 het hy weer in remissie gegaan en besluit om vir ’n laaste keer te toer.

Die Final Journey-toer het skares in Suid-Afrika, Londen, Dubai en Frankryk gelok.

Clegg is in Desember verlede jaar verras deur ’n opname van sy lied “The Crossing”.

“Ek is stomgeslaan, baie dankie! Dit is ’n ongelooflike oomblik dat so baie van my portuurgroep erkenning gee aan die lied en sy sentimente, en dat hulle dit kan gebruik om iets wat baie groter as ons almal is te bevorder,” het Clegg in Desember gesê.

Peter Gabriel, David Kramer, Arno Carstens, Gloria Bosman, Dave Matthews, Bobby van Jaarsveld, Elvis Blue, Francois van Coke, Karen Zoid en Dorothy Masuka het onder andere aan die opname deelgeneem.

Hy word oorleef deur sy vrou van 31 jaar, Jenny, en hul twee seuns, Jesse en Jaron.

“Sy heengaan het ons hartseer gelaat en ons versoek dat die familie se privaatheid gerespekteer word gedurende hierdie moeilike tyd,” het Quin gesê.

Die gesin sal ’n private begrafnisdiens hou.

Daar sal ook ’n diens wees vir die publiek. Meer besonderhede hieroor sal nog bekend gemaak word.

Johnny Clegg in 2013 by die Baxterteater in Kaapstad op die verhoog. Foto: Argief

Huldeblyke op Twitter:

Meer oor:  Johnny Clegg  |  Legende  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.