Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Johnny Clegg was die stem van oorgang, sê ANC
Die ANC sê Johnny Clegg was die stem van oorgang in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Die ANC het vroeg Woensdagoggend ’n verklaring uitgereik waarin hy sê dat hy hartseer is oor die Suid-Afrikaanse musikant Johnny Clegg se dood.

Dié immergewilde musikant is Dinsdagmiddag in die ouderdom van 66 jaar aan pankreaskanker dood.

Roddy Quinn, sy bestuurder, het in ’n verklaring gesê dat Clegg tuis in Johannesburg gesterf het.

“Meneer Clegg was bekend daarvoor dat hy die stem van oorgang in Suid-Afrika was. Hy was een van die dapper musikante wat die apartheidsregime met kuns gekonfronteer het,” sê die ANC.

Die ANC sê Clegg het in 1979 met die owerhede vasgesit nadat hy sy musiekgroep Juluka gestig het.

Lees ook: Die Wit Zoeloe: 'n merkwaardige loopbaan

“Die apartheidsregime het hom destyds heeltyd geteister omdat hy saam met Afrikane gewerk het in twee van sy musiekgroepe, Juluka en Savuka.”

Clegg was geliefd in Suid-Afrika juis omdat hy teen die apartheidsregime opgestaan het en saam met ander musikante opgetree het sodat hy die “brutaliteit” van die apartheidsregime in Suid-Afrika kon uitlig, sê die ANC.

Lees ook: Huldeblyke en herinneringe

“Meneer Clegg het sy musiek gebruik om mense van verskillende rasse te verenig. Hy sal ook onthou word vir “woza Friday”, “ubuhle bemvelo’ en die impi-liedjie waarin hy uitgebeeld het hoe die Zoeloe-vegters oor die Britse weermag getriomfeer het.”

Die ANC sê Clegg se dood is ’n groot verlies vir Suid-Afrika, maar veral vir die mense wat lief is vir musiek.

“Ons sluit aan by die mense wat hierdie baken van hoop se lewe vier. Hy het baie mense in ons land, asook in die buiteland, met sy musiek geïnspireer.”

Clegg se musiek sal nooit vergete wees nie en mense sal vir jare nog na sy musiek luister.

Lees ook: Geniet van sy grootste treffers

“Hy het sy talent gebruik om maatskaplike, kulturele en politieke veranderinge in ons land teweeg te bring. En ons dink aan sy vriende, familie en mede-musikante.”

Clegg se unieke en magiese samesmelting van Zoeloe-ritmes en melodieë met folk-, pop- en Afrika-invloede het meer as 40 jaar lank wêreldwyd aandag getrek.

Hy is op 7 Junie 1953 in die Engelse dorp Bacup in Lancashire gebore en het saam met sy Rhodesiese ma na Johannesburg verhuis toe hy ses jaar oud was.

Clegg word deur sy vrou, Jenny, en hul twee seuns, Jesse en Jaron, oorleef. Die egpaar was 31 jaar getroud.

Meer oor:  Johnny Clegg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.