Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jong Danielle solis in Odeion Sinfonia
05 September 2018

Die veelsydige Danielle Ceronio, wat ewe puik vaar in die nasionale skermspan as die nasionale jeugblaasorkes, is die solis in die Odeion Sinfonia se jaarkonsert. Ceronio speel klarinet en blokfluit, maar vir dié optrede haal sy haar saxofoon uit.

Die Odeion Sinfonia bestaan uit studentestrykers en gevorderde skoolleerlinge wat in die orkes die geleentheid kry om as seksieleiers en konsertmeester op te tree en hulle só vir volwasse orkeste voor te berei.

Danielle Ceronio

Anmari van der Westhuizen, aan wie Derek Ochse die Sinfonia se dirigeerstokkie in 2011 oorhandig het, sê die konsert is ter herinnering van Ochse wat op 17 September sou verjaar. Ochse het diep spore as violis en dirigent en die stigter van verskeie konsertreekse in Bloemfontein getrap.

Ceronio, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Sentraal, is vanjaar vir die Nasionale Jeugblaasorkes gekies en is die eerste klarinetspeler in die Vrystaatse Jeugsimfonieorkes, die Vrystaatse Jeugblaasorkes en die OSM Camerata.

Sy speel ook toneel, skilder en is ’n lid van die Junior Proteaskermspan.

In die konsert saam met die Odeion Sinfonia speel sy Passacaglia vir saxofoon en strykorkes van die Bloemfonteinse komponis Noel Stockton.

Van der Westhuizen is ’n medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), die tjellis en hoof van die veelbekroonde Odeionstrykkwartet, ’n tjellodosent en leier van die tjelloseksie in die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO).

Anmari van der Westhuizen

Ná haar musiekstudie aan die Universiteit Stellenbosch het sy uitvoerende kwalifikasies aan die Mozarteum in Salzburg, Oostenryk, en die Hochschule für Musik in Keulen, Duitsland, deurloop.

Haar kamermusiekvaardighede het sy by die wêreld se beste strykkwartetlede verfyn, onder meer die Alban Berg-, Amadeus-, Borodin- en die Hagenstrykkwartet.

Voordat sy as dirigent van die Sinfonia oorgeneem het, het sy tien jaar die UCT Strykensemble in Kaapstad dirigeer. Sy is ook mededirigent van die Vrystaatse Jeugsimfonieorkes.

Die Sinfoniaprogram open met Handel se Concerto Grosso op. 6 nr. 1 gevolg deur werke van twee Britse komponiste, Concerto Grosso van Vaughan Williams en Peter Warlock se Capriol Suite, asook die Passacaglia.

*

16 September om 16:00 in die Odeionteater op die UV-kampus. Toegang is gratis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.