Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jong musici slaggereed vir SA musiekstryd

Die 42 virtuose wat sake gaan uitspook in die 31ste Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie – die belangrikste klassiekemusiek-kompetisie in Suid-Afrika vir musici jonger as 14 – is slaggereed om hul staal in Kaapstad te toon. Christiaan Boonzaier het met sewe van die hoopvolles gesels wat hoop om vanjaar koning te kraai.

Annalou Herman (10) van Johannesburg.

‘Ek wil baie graag goed presteer’

Annalou Herman (10) van Johannesburg speel nog net twee jaar fluit, maar het die oudisie vir vanjaar se kompetisie loshande geslaag.

“Ek het op vier jaar oud met viool begin, maar het op ses ’n fluit-optrede bygewoon en dadelik besluit om oor te skakel,” sê Annalou, wat ’n leerling aan die Laerskool Jan Celliers is. Haar fluitonderwyser is Renée Hartzenberg.

Die afgelope twee maande oefen sy 90 minute per dag aan haar kompetisieprogram, wat werke deur Telemann, Popp, Gossec, Naudot en (Hendrik) Hofmeyr insluit.

“Gewoonlik oefen ek net 45 minute per dag,” sê sy. “Ek is senuagtig, want dis ’n groot kompetisie en ek wil baie graag goed presteer – en ek is bang ek vergeet my note.”

In haar vrye tyd neem sy deel aan tennis en ballet, en het ook vir die span van Johannesburg-Sentraal aan die Sanesa-perdesportkompetisie deelgeneem.

Tog hoop sy om eendag ’n musiekloopbaan te volg. “Ek wil graag ’n konsertfluitspeler word.”

‘Ek is mal oor Kaapstad’

Van vasberadenheid kan jy die violis Helen Lin-Lin Liu (13) niks vertel nie. Dié Johannesburger, wat al sedert gr. 1 die viool bespeel, het verlede jaar aan die kompetisie deelgeneem, maar in die halfeindronde vasgeval.

“Ek het die kompetisie baie geniet,” sê Helen, ’n leerling aan die St. Andrew’s School for Girls. Haar vioolonderwyser is Irene Tsoniff.

“Ek was ’n halfeinddeelnemer en het net besluit my reis stop nie daar nie; daarom wou ek hierdie jaar weer probeer en hoop om groter hoogtes te bereik.

“Die ander rede hoekom ek weer wou deelneem, is omdat ek mal is oor Kaapstad!”

Hoewel sy weet wat om in die kompetisie te verwag, erken sy dat sy steeds ’n “bietjie senuagtig” is. As sy nie op die hokkieveld is nie, oefen sy ’n uur per dag aan haar kompetisieprogram, wat werke deur Vivaldi, Mozart, Paganini, Kabalefski en Hofmeyr insluit.

“Ek sal graag ’n loopbaan in musiek wil volg – of die lugvaart.”

James Cilliers (13) van Kaapstad.

‘Ek wil die kompetisie wen!’

James Cilliers (13), ’n saxofoonspeler van Kaapstad, het ook aan verlede jaar se kompetisie deelgeneem – en dié keer het hy net een doel voor oë. “Ek het ingeskryf vir Samro, want ek wil wen!” sê hy.

“Ek is glad nie senuagtig nie, want ek het goed voorberei. Ek weet ook wat om te verwag, omdat ek verlede jaar deelgeneem het.”

James, wat tuisonderrig ontvang, speel al sedert die ouderdom van nege saxofoon, en is al die afgelope vier jaar ’n student van Liam Burden. Hy oefen tot ’n uur per dag vir die kompetisie.

“Ons moet verskeie stukke in verskillende genres in die kompetisie speel,” sê James. “Ek het vyf stukke voorberei, insluitend ’n Suid-Afrikaanse komposisie wat spesiaal deur Kristi Boonzaaier vir my geskryf is, getiteld Fantasie uit die buiteland.”

Hoewel lees een van sy gunstelingtydverdrywe is, sê hy hy sal waarskynlik ’n loopbaan in die musiek volg.

Nina Cilliers (9) van Kaapstad.

Kan dié 9-jarige haar broer klop?

As James (hierbo) die Samro-kompetisie wil wen, sal hy eers verby sy suster Nina (9) moet kom, wat een van die jongste deelnemers in vanjaar se kompetisie is.

Dié kranige vioolspeler, wat ook tuisonderrig ontvang, speel al drie jaar viool en sê sy is ondanks die senuwees wat bietjie knaag, gereed vir die kompetisie.

“Ek sal graag nuwe vriende wil maak en wil kyk hoe ver ek in die kompetisie kan vorder,” sê sy.

Sy sê haar gunstelingkomponis is Beethoven en haar gunstelingstuk wat sy in die kompetisie gaan speel, is dié van Telemann. Sy oefen tussen 30 en 90 minute per dag.

Sy verdeel haar vrye tyd tussen musiek en ballet.

“Ek sal graag eendag professioneel wil ballet of ’n balletonderwyser word,” sê sy.

Kyrah Rihanna Adams (13) van die Paarl.

‘Ek wil buite my gemaksone kom’

Die enigste deelnemer wat vanjaar ’n slaginstrument bespeel, is Kyrah Rihanna Adams (13) wat haar slag op die xilofoon gaan wys.

Dié Paarliet is ’n leerling van die William Lloyd Primary School, en neem al sedert gr. 2 les by Annemie Nel.

“Ek het vir die Samro-kompetise ingeskryf omdat ek graag die musiek wat ek maak met mense buite die Paarl wil deel, en ook om ’n bietjie buite my gemaksone te kom,” sê sy.

Vivaldi is haar gunstelingkomponis omdat sy werk “vol energie en baie opwindend is”. Naas dié komponis, gaan sy ook stukke deur Mozart, Ptaszynska en Živkovic uitvoer. “Die Suid-Afrikaanse komponis Pierre-Henri Wicomb het ook die stuk Lighting Lessons spesiaal vir ons vir die kompetisie geskryf,” sê sy.

Wanneer sy nie musiek maak nie, doen sy wiskunde, lees sy boeke soos die Bybel of doen sogenaamde aerial skills. “Dis soos wat ’n mens in die sirkus sien,” sê sy.

“Ek wil ’n slagwerk-onderwyser word omdat ek graag eendag ’n juffrou soos my onderwyseres wil word wat musikante help om te ontwikkel en ander te inspireer om dieselfde te doen.”

Mia Wepener (12) van Londen, Engeland.

Al die pad uit Londen, Engeland

Mia Wepener (12) het al die pad van Londen, Engeland, gekom om aan vanjaar se kompetisie deel te neem.

Dié leerling van die Emanuel School neem al agt jaar klavierles by haar ma, Salome.

“Dit is hulpvaardig (om ’n familielid as onderwyser te hê), want sy is altyd daar om my te help,” sê Mia.

Oor die kompetisie is sy “’n bietjie bang omdat ek graag wil goed speel”, maar sy verdryf die senuwees deur 90 minute per dag te oefen. Haar kompetisieprogram sluit werke deur haar gunstelingkomponiste Bach, Haydn, Schumann, Wladigerof en Wilding in.

Nes haar teenstanders, wil sy ook eendag ’n musikale loopbaan volg. “Ek wil iets doen met musiek – optree, les gee – ek is net nog nie seker wat nie.”

Sophie Stones (13) van Johannesburg.

‘Ek is relatief senuagtig’

Sophie Stones (13) van Johannesburg was net twee jaar oud toe sy die eerste keer viool gespeel het en was net nege toe sy die eerste keer vir die kompetisie ingeskryf het.

“Ek is relatief senuagtig oor die kompetisie omdat ek weet daar is duisend musici beter as ek,” erken sy. “My angs sal seker nader aan die kompetisie vererger.”

Sy oefen tot twee uur per dag aan haar program, wat werke deur Bohm, Vivaldi, Mozart, Seitz en Michael Hankinson se variasies op “Sarie Marais” insluit.

Sy teken, skryf prosa en poësie, komponeer musiek, speel rekenaarspeletjies, lees, teel met budgies en “beplan die val van kapitalisme” om te ontspan.

“Ek sal graag eendag ’n veearts wil word, navorsing oor kunsmatige intelligensie wil doen, of kommunisme op die been wil bring,” sê sy.

  • Die 31ste Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie vind van 16 tot 20 September in die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow, Kaapstad, plaas. Toegang tot die openingskonsert (16 September om 18:00), die eerste ronde (17 September van 09:30 tot 18:00), die tweede ronde (18 September van 09:30 tot 18:00), en die derde ronde (19 September van 13:00 tot 18:00) is gratis. ’n Kaartjie vir die eindronde op 20 September om 18:30 beloop R70. Bel Merinda by 076 191 0076 om plek te bespreek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.