Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jong pianiste kan weer met hande toor in Atterbury
Qden Blaauw was die algehele wenner van die Atterbury-klavierkompetisie in 2019. Die foto is met ’n uitvoering verlede jaar in Erin Hall, Kaapstad, geneem.

Jong pianiste landwyd kry die tiende keer kans om hul slag te wys in die Atterbury-klavierkompetisie met ’n totale prysgeld van sowat R120 000. Die kompetisie kon verlede jaar weens die Covid-19-inperking nie plaasvind nie.

Willem de Beer, wenner van die eerste kompetisie in 2011, is ’n bewys dat die kompetisie ’n hupstoot op die pad na die verwesenliking van drome kan wees. Hy wou baie graag in die buiteland studeer en het ná sy studie aan die Universiteit van Pretoria die kans gekry om ’n meestersgraad aan die Austin-Universiteit in Texas, VSA, te verwerf.

Hy was nog net ’n eerstejaar-musiekstudent aan die UP toe hy die Atterbury-kompetisie gewen het, maar dit het hom geïnspireer om hard te bly werk sodat hy ’n beurs vir nagraadse studie oorsee kon kry.

Qden Blaauw van Kaapstad was in die vorige kompetisie in 2019 die algehele wenner. Hy het daardie jaar nog in die afdeling vir 15 jaar en jonger deelgeneem. Leo Huan was algeheel tweede en Vitske van Zyl derde.

Die kompetisie word oor vier rondes beslis en vind in drie kategorieë plaas – 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger, 19 jaar en jonger.

Willem de Beer, oorspronklik van Bethlehem in die Vrystaat, was in 2011 die eerste wenner van die Atterbury-kompetisie. Foto: Facebook

’n Maksimum van 45 kandidate word op grond van oudisies gekies wat ná die tweede ronde tot 18 semi-finaliste uitgedun word. Ná die derde ronde word nege finaliste aangewys wat die Vrydagaand in die galakonsert optree.

Benewens ’n wenner in elke ouderdomsgroep, word ’n algehele wenner, naaswenner en ’n pianis in die derde plek aangewys. Daar is ook afdelingspryse en vir die beste uitvoering van sekere werke.

Die algehele wenner, wat ’n deelnemer uit enige van die ouderdomsgroepe kan wees, ontvang R30 000 asook die John Roos-prys van R5 000. Die naaswenner verlaat die kompetisie met R15 000 en die derde prys beloop R7 500.

Die drie afdelingswenners word beloon met R4 000 (12 jaar en jonger), R6 000 (15 en jonger) en R8 000 (19 en jonger).

Elke semi-finalis ontvang R750 en elk van die nege finaliste R1 000. Daar is ook R3 000 op die spel vir die beste uitvoering van ’n Barok-, Klassieke, Romantieke, moderne en Suid-Afrikaanse werk.

Opnames wat as inskrywings dien, moet op die laatste op 31 Julie ingehandig word. Die kompetisie vind van 18 tot 22 Oktober in die Atterburyteater in Pretoria plaas.

Die beoordelaars is prof. Hubert van der Spuy, dr Charl du Plessis en Claudia Strauss. Hugo Schreuder hanteer die oudisies.

Die inskryfvorm asook volledige besonderhede oor die kompetisiereëls verskyn op die webwerf www.atterburypiano.co.za. – Saamgestel deur Elretha Britz

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.