Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jong violis van Bfn wen 1ste HumanNaudé-beurs
Pieter Joubert, ’n violis van Bloemfontein, het die eerste HumanNaudé-beurs vir naskoolse musiekstudie gewen.

Pieter Joubert, ’n violis van Bloemfontein en die jongste finalis in die HumanNaudé-beurskompetisie wat vanjaar die eerste keer aangebied word, het Dinsdagaand die wenbedrag van R100 000 met sy fyn afgeronde spel losgestryk.

Die kompetisie word van vanjaar af al om die ander jaar vir instrumentaliste van tot 22 jaar oud aangebied en die daaropvolgende jaar vir sangers van tot 26.

Joubert, ’n vioolleerling van Francois Henkins en ’n matriekleerling in die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, se mededingers was Ezelle Erasmus en Chris van Zyl. Erasmus is ’n musiekstudent in haar vierde jaar aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) en Van Zyl is ’n tjellis wat verlede jaar gegradueer het en beoog om met ’n meestersgraad voort te gaan.

’n Vierde finalis, Maria Yazbek, moes haar onttrek nadat sy ’n skouerbesering opgedoen het en nie vir die kompetisie kon voorberei nie. Yazbek is ook ’n violis en tans ’n student in grafiese kuns in haar eerste jaar.

Joubert wil volgende jaar musiek aan die Universiteit van Kaapstad (UK) studeer met die doel om ’n konsertsolis te word.

Hy sê die gedagte om van ’n musiek ’n loopbaan te maak, het hom eers twee jaar gelede getref toe hy ’n besonder bevredigende uitvoering gegee het.

“Ek kan nie eens onthou watter konsert dit was nie, maar ek het net geweet dit is iets wat ek die res van my lewe wil doen.”

Vir die eindronde moes elke finalis drie kontrasterende werke speel, waarvan een ’n sonate of sikliese werk moes wees.

Joubert het ’n werk van Bach, Beethoven se Frühlingsonate en De Sarasate se Zigeunerweisen aangebied.

Streng vereistes word aan beurswenners gestel. Die geld is uitsluitlik vir musiekstudie aan ’n tersiêre instansie bekend vir sy hoë standaarde, wat ook gereeld vorderingsverslae moet indien. Net Suid-Afrikaanse burgers in die Vrystaat kom vir die beurs in aanmerking, maar die wenner mag aan enige instansie in Suid-Afrika of die buiteland studeer.

Prof. Japie Human, voormalige klavierdosent aan die Universiteit van die Vrystaat, en sy lewensmaat, Willem Naudé, het die beursgeld nagelaat.

Anneke Lamont, klavierdosent aan die OSM, en Lesley Mathews-Botha het die finaliste begelei.

Die beoordelaars was Leana Lötter, Johan Cromhout, en Charl du Plessis. Zanta Hofmeyr, ’n bekende Gautengse violis, het as eksterne beoordelaar in die eindronde opgetree.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.