Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jonges laat van hulle hoor in verskeie konserte
Keamogetswe Magau, ’n violis in die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes.Foto: Adam Welz

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes (Sanjo) het lank reeds ’n tradisie opgebou om juis gedurende vakansietye konserte in van die groter sentrums van die land aan te bied.

Vandeesmaand tree hulle drie keer aan, met twee optredes in Johannesburg en een in Pretoria.

Rosemary Nalden, die stigter en dirigent van die Buskaid Soweto String Ensemble.

Vanjaar se drie Sanjo-konserte in Gauteng het ’n oorkoepelende tema: Barokmusiek. Dit is ook die eerste keer in die orkes, wat in 1964 gestig is, se geskiedenis dat ’n projek eksklusief toegespits word op die uitvoering van toonkuns uit dié tydperk. Dit strek min of meer van 1650 tot 1770 en is immers een van die glansrykste tydperke in die Westerse musiekgeskiedenis.

Die jong orkesspelers sal gelei word deur twee voorste Suid-Afrikaanse Barokspesialiste en klavesimbelspelers: John Reid Coulter, wie se werksaamhede veral bekend is in die noordelike provinsies; en Erik Dippenaar, wat in Kaapstad gevestig is, die Tinta Barocca-ensemble lei en vandaar ook landwyd aktief is.

Die reeds jare lange opvoedkundige verbintenis tussen Sanjo en die Koninklike Concertgebouw-orkes (Amsterdam) word vanjaar verryk met die teenwoordigheid van die violis Henk Rubingh en die altviolis Martina Forni, wat die strykers van die jeugorkes die afgelope week oor Barokmetodiek onderrig het. Ook ’n tjellis van die KZN Filharmoniese Orkes en ’n lid van die Durbanse ensemble Baroque 2000 was betrokke by die repetisies.

Hulle sal hul musici en hul gehore begelei in die soektog na die mees verhewe en interessante repertorium uit dié tydperk en ’n gedeelte daarvan ook so ietwat in die meer gemoderniseerde benadering van byvoorbeeld die Penguin Cafe Orchestra aanbied.

Die Sanjo-Barokfees vind met drie opeenvolgende konserte oor die komende naweek, van 13 tot 15 Desember, plaas. Hierby die tye en plekke waar die uitvoerings plaasvind, waarvan die effek, soos die mediaverklaring dit beskryf, van “mild to wild” sal strek.

13 Desember s’n neem om 19:00 in die Laerskool Jan Cilliers se Barbara Pretorius-konsertsaal in Parkwood, Johannesburg, ’n aanvang. Dié in Pretoria is die volgende aand om 19:00 in die kapel van Nazareth House, Florence Ribeiro-laan 290 in Waterkloof. Sondagmiddag se afsluitingskonsert in Johannesburg begin om 15:00 in die Brixton-kerk, Putneyweg 43 in Brixton.

Kaartjies vir die eerste twee konserte kos R150 en R100 vir konsessies en kan bespreek word op die Quicket-webtuiste: https://www.quicket.co.za/organisers/22361-sa-national-youth-orchestra/.

Indien nie uitverkoop nie, sal kaartjies ook by die onderskeie venues beskikbaar wees. By die konsert in die Brixton-kerk word die publiek versoek om ’n skenking te gee. Die opbrengs van alle kaartjieverkope is ten bate van die Sanjo-beursfonds vir 2020.

Vir verdere navrae kan Sophia Welz, besturende direkteur van Sanjo, gekontak word op 083 272 2117 of per e-pos by team@sanyo.org.za. Die orkes se webwerf is www.sanyo.org.za.

Die Buskaid Soweto String Ensemble is sonder twyfel internasionaal een van Suid-Afrika se bekendste jeugensembles. Hulle bestaan al ruim 20 jaar en is van die begin af saamgestel en gedirigeer deur die legendariese Rosemary Nalden.

Sondag vind die jaarlikse konsert plaas waar die klem val op die meer junior lede van Buskaid se vordering. Hulle sal ’n program van klassieke en ligter musiek uitvoer, aangevul met ’n paar bekende instrumentale popliedjies en kwêla-musiek waarvoor hulle universeel bekend is.

Dié konsert begin om 15:30 in die Uniting Reformed Church of Southern Africa, Imminkstraat, Diepkloof Sone 4, Soweto. Toegang is gratis.

Buskaid se eerste konsert van die nuwe jaar is op 25 Januarie om 16:00 in die Holy Trinity- Katolieke kerk in Braamfontein, Johannesburg. Hulle tree daar onder beskerming van die Johannesburgse Internasionale Mozart-fees op.

Sempre Opera, die onafhanklike operageselskap van Pretoria, bied binnekort twee geslote opvoerings van Verdi se La traviata in Stilbaai in die Suid-Kaap aan. Voor dit gebeur, kry die Pretoriase publiek die kans om hul finale kleedrepetisie Sondagmiddag om 14:00 in die NG kerk Lynnwood te Sussexlaan 439 by te woon.

Dié produksie het vroeër vanjaar groot lof ingeoes toe dit onder meer in die Joburg-teater in die Goudstad opgevoer is. Die regisseur en bariton is Danie Verster, en die bekroonde dirigent Schalk van der Merwe – hy het vroeër vanjaar die Len van Zyl-dirigentekompetisie gewen – neem die musikale leiding.

Benewens Verster is bekende sangers soos Hanli Stapela, Chris Mostert en Linette van der Merwe in die rolverdeling. Die gasheer Sondag is die bekende tenoor Stéfan Louw.

Kaartjies kos R50 en kan vooraf bespreek word by https://www.quicket.co.za/events/92881-la-traviata-finale-kleedrepetisie/#/ of by die deur.

Meer oor:  Musiek  |  Gauteng  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.