Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Byklanke
Jonker-album is ’n skatkis vol klanke
Foto:

Elkeen hoor Ingrid Jonker ­anders. Gee vir ’n uiteen­lopende groep musikante die geleentheid om Jonker te laat sing, en jy kry soveel hoofde, soveel sinne.

Ingrid Jonker: Die kind is nog jonger is ’n skatkis waaruit ­klanke borrel, ’n produk so uiteen­lopend as die musikante, so interessant soos die digter self.

’n Paar maande gelede het die opwinding oor die dubbelalbum begin broei. Jonker se dogter, Simone, haar man, Ernesto Garcia Marques, se pad het met dié van Paul Blom van Terminatryx se maatskappy Flamedrop Productions ­gekruis en die ratte het begin draai. Met die hulp van mense wat in die projek geglo het, het die IndieGoGo-projek rigting ­gekry.

Die name van mense wat by­gedra het, is interessante leesstof. Van musikante, tot uitgewers, ­onbekendes en bekendes, Engels, Afrikaans en name wat uitlands klink en nog ’n paar wat bygedra het sonder om eers vermelding te vra. Vandag kan elkeen met ’n ­tevrede glimlag agteroor sit en die eindproduk as deel van hul besittings geniet.

Die album begin gepas met ­Simone wat “Toemaar die donker man” voorlees. Dan volg onder andere Anton Goosen (“ ’n Hemel vol blou akkers” ná “Plant vir my ’n boom, André”) en Jennifer Ferguson se “Windliedjie” in die pas met die styl waarvoor hulle bekend is. Maak jou dan reg vir name wat dalk nie oorbekend is nie, maar wat die stemming van ’n gekose gedig vaardig vasvat.

Op die eerste CD wil ’n mens oor en oor luister na Terminatryx se “Ontvlugting” wat jou intrek met ’n klank wat herinner aan die Lorelei wat ’n skip op die rotse lok. Verwoesting kom dan in met die metal-klanke wat na die afloop van Jonker se profetiese woorde lei.

Eckard Potgieter het ook dié ­gedig op sy eie praterige, sange­rige manier aangebied.

Vir my is die hoogtepunt van die eerste album egter “Drawing” (gebaseer op die gedig “Tekening – Vir Jack”) van The Sighs of Monsters – ’n Britse groep met ’n Suid-Afrikaanse konneksie in die persoon van Brett Lock. Van hierdie lied is daar ’n pragtige video op You­Tube wat in ’n historiese 14de-eeuse kerkie in Kent in Engeland tydens kunstefees daar opgeneem is. Treffer staan dubbel en dwars oor hierdie liedjie geskryf.

Op die tweede album verras ­Inge Beckmann se “Korreltjie Sand”. Dis glad nie wat ’n mens van haar verwag nie. Melodieus en met ’n ritmiese trom is dit ’n eenvoudige en treffende lied.

Jim Neversink sing “Bitter­bessie dagbreek” met ’n sjarmante Engelse aksent en dissonante klanke.

As ’n mens weer ’n gunsteling mag kies, is dit die Radio Rats se “Deep Dark Introverted Girl”. En as Francois Breytenbach Blom eers gebulder het “die kind is nie dood nie” gaan niemand nog aan die waarheid hiervan twyfel nie.

Klanke bly jou by lank nadat jy hierdie album in sy atmosferiese omslag gebêre het. Maar daarvan is dit die melancholiese woorde van Jonker wat die langste in jou gedagtes huiwer.

Meer oor:  Ingrid Jonker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.