Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jonker se gedigte opnuut na verhoë

Dit is ’n viering van die ­liefde.

In Korreltjie kantel wat vanjaar op die US Woordfees ­debuteer, word met liefdesgedigte gespeel. Nie sommer enige ­liefdes­gedigte nie – dié van Ingrid ­Jonker.

RSG het Luna Paige verlede jaar genader om ’n produksie vir die RSG-kunstefees saam te stel. Die opdrag was om Jonker-gedigte met ’n nuwe aanslag te ­verwerk en toonset.

Luna Paige bring die gewilde program Korreltjie Kantel, wat verlede jaar op RSG gehoor is, na die Woordfees Foto: lerato maduna

Paige het die program saam­gestel met uiteenlopende Kaapse musikante wat sy gevra het om Jonker se gedigte vars te benader en te toonset. Vir die radio­program is Paige, Hatchetman, Inge Beckmann, Medicine Boy en Nick Turner betrek. Dit was een van die gewildste musiek­programme op dié kunstefees. Paige se toonsetting “Dubbelspel” was na afloop van die kunstefees op RSG se speellys geplaas.

Vir die verhoog is die program uitgebou en ontwikkel en die kunstenaars wat gaan optree, is Paige, Hatchetman en Turner.

Met die 50-jarige herdenking van Jonker se afsterwe verlede jaar en die bekendstelling van die liefdesbriewe van Jonker en ­André P. Brink (Vlam in die Sneeu) het sy besluit om dié boek en liefdesbriewe as inspirasie te benut vir verdere musiek- en ­tema-ontwikkelings.

Die kunstenaars moes die boek lees en dan elk ’n oorspronklike lied skryf wat deur die boek ­geïnspireer is.

Paige het een van haar Storielied-liedere in die nuwe vertoning ingewerk. “Die Juwele van Jou Oë” is geïnspireer deur Brink se roman Die Ambassadeur. Deur die skryfproses het hy die boek met Jonker bespreek en haar raad gevra, veral oor die ­karakters.

“Met die lees van die boek het ek onder die indruk gekom van hoe Brink Jonker se vreesloosheid en haar eerlikheid bewonder,” sê sy.

Paige is diep getref deur Jonker se bewustheid van haar eie ­nietigheid.

“Ook haar stryd met depressie. Enigiemand wat al met dié siekte geworstel het, sal verstaan. Haar ligte en donker kant en hoe sy na dinge gekyk het, het haar geïnspireer. Die kanteling kom dikwels in haar gedigte ter sprake.”

Die sangers wat saam met haar op die US Woordfees optree, is Engels en tog het hulle volgens haar die essensie van alles goed saamgevat.

“Hulle het vir my gesê dis die eenvoud wat hulle telkens tussen die oë geslaan het. Ek dink hulle benadering bring ook iets spesiaals na die produksie. Ek hoop mense van beide tale sal dit ­geniet.”

Nog produksies fokus op Jonker

Afgesien van Korreltjie Kantel is daar nog produksies op vanjaar se US Woordfees wat op die ­digter Ingrid Jonker fokus:

* Die drama Plant vir My ’n Boom, André met Erik Holm en Tinarie van Wyk Loots. Die teks is deur Deborah Steinmair met musiek deur Magdalene Minnaar (op 10, 11 en 13 Maart in die Hoërskool Lückhoff).

Vlam in die Sneeu: Die Briewe van André P. Brink en Ingrid Jonker word op 8 Maart in die ATKV-Boektent deur Francis ­Gallo­way, Kerneels Breytenbach en Karin Schimke bespreek.

* Die drama Orgie met Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots onder regie van Juanita Swanepoel word weer opgevoer (12 en 13 Maart in die Hoërskool Lückhoff).

Die Hartseerkind met Vlaamse kunstenaars (Sabine Goethals, Jonas Vanthielen en Divan Hermitage bring hulde aan Jonker. (Van 4 tot 6 Maart in die kykNET Fismer.)


Dit is vir Paige lekker om produksies saam te stel. Verlede jaar het sy vir die KKNK Die Ander Konsert saamgestel met uiteen­lopende kunstenaars en vars inhoud. Dit is nie die einde van hierdie program nie, sê sy.

Iluminar Productions, die nuwe produksiemaatskappy wat sy saam met Denise Barnes gestig het, het dit op hul lys van beskikbare produksies saam met onder meer die eerste een, Solosang, en ’n nuwe een wat sy in April saam met Gerald Clark gaan doen.

Dan hoop sy ook om die ­program Elders aan Diens, wat bestaan uit werk van Jeanne ­Goosen saam met Nicole Holm en Frieda van den Heever aan te bied.

Verder is vanjaar vir haar “die een van singles”. “Die bekendstelling van my jongste Afrikaanse enkelsnit, “Groot Is Jy” (uit Die Ander ­Konsert) is op 14 Februarie op die Simonsig-wynlandgoed.”

Die video van die lied, wat gister geskiet is, sal ook op 14 Febuarie op Simonsig bekend gestel word. Sy beoog om al om die ander maand ’n enkelspeler bekend te stel wat dan hopelik aan die einde van die jaar ’n album sal wees. Die enkelspelers sal gebaseer wees op die verskillende ­optredes van die vier jaar vandat sy in Afrikaans begin werk het.

Ten spyte van al die jare wat sy reeds in die musiekbedryf is, bly dit harde werk, sê sy.

En dit is die vrugte van elke keer se harde werk wat gehore na haar vertonings bly trek.

  • Korreltjie kantel word op 6 Maart om 12:30 en op 12 Maart om 18:00 in Laer as Laag op Stellenbosch ­opgevoer. Kaartjies kos R130 by Computicket en R150 by die deur.
  • Die produksie is ook op die KKNK te sien op 24 en 25 Maart in die Absa Kuierkamer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.