Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapse advokaat vir bydrae tot kerkmusiek vereer

Die Kaapse advokaat Deon Irish word Saterdag deur die Royal School of Church Music (RSCM) in Engeland vereer vir sy lewenslange bydrae tot kerkmusiek in Suid-Afrika.

Deon Irish (regs) tydens ’n uitvoering in die St. Michaels Anglikaanse kerk in Observatory, Kaapstad. Foto: Verskaf

Irish (71) is een van ses mense oor die wêreld heen wat die Associate of the Royal School of Church Music gaan ontvang. Die toekenningsgeleentheid sou Saterdag in die Salisbury-katedraal, in die suide van Engeland, plaasvind, maar dit is weens die pandemie afgestel en deur ’n virtuele seremonie vervang.

Irish ontvang dié eer vir die bydrae tot kerkmusiek wat hy eintlik reeds van kindsbeen af lewer. Hy is in 1958, toe hy net nege jaar oud was, aangestel as orrelis van die St. Peters Anglikaanse kerk in Kampsbaai, en het Richard Cock in 1972 opgevolg as orrelis en koordirigent van die St. Michaels Anglikaanse kerk in Observatory – ’n rol wat hy 48 jaar later steeds vul.

In die laaste sowat 25 jaar het hy ’n leeueaandeel gehad in die oplewing en uitvoering van kerkmusiek in Kaapstad, veral groot liturgiese werke en orkestrale misse.

Hy het ook oor dekades heen as orrelonderwyser, musiekresensent vir die Cape Times, mentor vir jong koordirigente en met die ontwikkeling van koorsang en koorsangers tot die bevordering van kerkmusiek bygedra.

Die Anglikaanse biskop van Tafelbaai het in 2002 die titel “titulêre orrelis” aan hom toegeken. Die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika het dit in 2011 met die Orde van Simon van Sirene opgevolg.

Irish sê die RSCM se verering span die kroon – en dit was ’n bykomende lekkerte om die nuus op sy verjaardag te ontvang.

“Ek was op 2 Januarie, my verjaardag, in Neustift in Tirol (Oostenryk) op ’n skivakansie. Ek het my e-pos op my iPad oopgemaak en ’n e-pos met die onderwerp ‘Honorary Award’ ontvang,” vertel hy.

“Dit het gehandel oor of ek bereid sou wees om die eerbewys te aanvaar. Dit was beslis die ongewoonste verjaardaggeskenk wat ek nog ontvang het!

“My reaksie was dat ek dit met graagte aanvaar – en ek is steeds ingenome met die idee dat ’n vername internasionale vereniging van medekerkmusikante dink my bydrae verdien erkenning.”

(Die e-pos) het gehandel oor of ek bereid sou wees om die eerbewys te aanvaar. Dit was beslis die ongewoonste verjaardaggeskenk wat ek nog ontvang het!
Deon Irish

Irish sê hy het met ’n klavier in die huis grootgeword en het as sesjarige met klavierles by Augusta Tavares in Seepunt begin.

“Toe ek nege word, en ek reeds ’n relatiewe goeie speler was, is die vrou skielik dood wat die orrel in St. Peters gespeel het. Hulle kon nie iemand kry om haar te vervang nie, so ek is toe gedwing om dit te doen. Ek het voortgegaan met my klavierlesse, maar ek was al hoe meer aangetrokke tot die wêreld van orrel en later ook koormusiek.”

Hoewel hy sy hart al hoe meer op musiek verloor het, sê hy hy het “nooit” ’n loopbaan in musiek oorweeg nie.

“Ek het van ’n jong ouderdom af ’n fassinasie met die balie gehad, oorspronklik danksy boeke wat ’n familievriend vir my gegee het, en ek was suksesvol met debatkompetisies op skool, so dit was my mees oënskynlike loopbaanrigting.

“Maar ek het nog nooit aan myself gedink as ’n amateurmusikant nie – eerder een wat gelukkig genoeg was om nie heeltyds ’n lewe daaruit te maak nie. Die nare waarheid is dat ’n mens nie in dié land ’n lewe as orrelis kan maak nie, nie tensy jy ook ’n onderwyser is nie, waarvoor ek nooit die geduld sou hê nie!”

Irish het ná sy studies aan die Universiteit van Kaapstad in 1977 advokaat geword en is tans nog heeltyds senior advokaat in die Kaapse Balieraad. Hy sê hy het ondanks sy loopbaan in die regte altyd gevoel hy het ’n verantwoordelikheid om die tradisie van kerkmusiek in Suid-Afrika voort te sit.

“Liturgiese musiek is nie ongewild nie, veral as jy kyk na die groot getal opnames wat gemaak en uitgesaai word, maar om na ’n mis deur Palestrina of Haydn of een van Stanford se beeldskone lofgesange in ’n leunstoel met ’n glas wyn te luister, is nie naastenby dieselfde as om die musiek binne konteks (regstreeks) te hoor nie.

“Ek sal nie sê dit was my fokus toe ek in 1972 op Adventsondag by St. Michaels begin werk het nie, maar dit was beslis die afgelope 25 jaar my musikale doelwit.”

Hoewel Irish sy eerbewys Saterdag aanlyn ontvang, sal hy, indien moontlik, volgende jaar se seremonie in die Durham-katedraal, in die noorde van Engeland, bywoon.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Haydn  |  Kaapse Balieraad  |  Stanford  |  Richard Cock  |  Cape Times  |  Observatory  |  Durham  |  Universiteit Van Kaapstad  |  Oostenryk  |  Seepunt  |  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.