Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapse Jazzfees uitgestel, maar JazzFix hou fort

Die Kaapstadse Internasionale Jazzfees (CTIJF) is ’n tweede keer met ’n jaar uitgestel. Die fees kon in 2020 weens die Covid-19-pandemie ook nie aangebied word nie.

Billy Domingo, die fees se direkteur, sê in ’n verklaring dit was nie maklik om verlede jaar se fees, wat vir Maart beplan was, uit te stel nie, maar dat hulle tog “optimisties” was dat die fees vanjaar sou kon plaasvind.

“Ons bevind ons ongelukkig te midde van die gevreesde tweede vlaag koronavirus-infeksies waarvan ons die impak tot diep in 2021 sal voel.

“Die gesondheid en veiligheid van almal wat by die fees betrokke is, is vir ons van die grootste belang. Daarom het ons besluit om die fees tot 2022 uit te stel.”

Domingo sê aan Netwerk24 dit is ’n geval van “mense voor wins” en dat hy vas glo dat hy en sy span die regte besluit geneem het.

Hy sê hy is wel bly om in dieselfde asem hul nuwe aanlyn jazzreeks, bekend as JazzFix, aan te kondig.

“Ek het die afgelope jaar talle vertonings aanlyn gekyk en toe in ons eie argiewe gaan krap. Ek het besef ons het opnames van baie ikoniese vertonings wat nêrens anders beskikbaar is nie – en dat ek dit graag weer aan ons geharde ondersteuners wil vertoon.”

JazzFix is net daar gebore, sê hy.

“Ons gaan op die laaste Saterdag van elke maand ’n aanlyn vertoning van sowat 62 minute hou. Dit bestaan uit sowat 40 minute se musiek van ’n kunstenaar se optrede by ’n vorige fees, asook ’n gesprek met die kunstenaar oor hul ervaring van hul optrede by die fees, wat hulle sedertdien in hul loopbane bereik het, en wat hulle nou doen.”

Jonathan Butler is in die eerste JazzFix-konsert in die kollig. Foto: Raj Naik

Domingo gaan in die eerste vertoning, waarin die tweemalige Grammy-benoemde sanger Jonathan Butler te sien sal wees, self die gesprek lei. Die Idols South Africa-beoordelaar Unathi Nkayi sal Domingo aflos.

Hoewel hy nie nou veel wil sê oor watter musieksterre ná Butler in die kollig sal wees nie, het hy wel verklap dat Judith Sephuma, Mi Casa en ’n huldeblyk aan Jonas Gwangwa, wat in Januarie vanjaar dood is, beplan word.

“Die gesprekke met hierdie musikante is glad nie aansitterig nie, en hulle praat met soveel passie. Só bring hulle eintlik die fees na mense se sitkamer.”

Domingo sê hy wil jazzliefhebbers met JazzFix net laat glimlag.

“Ek wil hê hulle moet terugsit, al die doom and gloom net vir ’n uur vergeet, en saam met hul gesin ontspan of selfs in hul sitkamers dans! Vier die lewe, want ons almal lewe nog. Dit is werklik belangrik.

“Ons is almal in die loopgrawe, en JazzFix gaan poog om almal weer te laat glimlag.”

  • Die eerste episode in die JazzFix-reeks getiteld Jonathan Butler: Homecoming is van 27 Februarie om 20:00 tot 27 Maart aanlyn beskikbaar. ’n Kaartjie kos R80 en kan reeds by Computicket bespreek word. ’n Kaartjiehouer moet die vertoning binne 48 uur kyk nadat die kaartjie gekoop is. Besoek www.capetownjazzfest.com vir meer inligting.
Meer oor:  Idols Sa  |  Jonathan Butler  |  Unathi Nkayi  |  Mi Casa  |  Grammy  |  Jonas Gwangwa  |  Judith Sephuma  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Jazz  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.