Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapse koor kort hulp om in Bfn te kom
Die Laerskool Excelsior in Bellville se senior koor by die ATKV-Applous-kompetisie in 2017. Foto: Annemarie Wichmann

Ná byna 35 jaar as musiekonderwyseres by die Laerskool Excelsior in Bellville, Kaapstad, het Tersia Jonck (78) een laaste wens voordat sy einde vanjaar aftree – om weer saam met haar bekroonde senior koor by die finaal van die ATKV-Applous-kompetisie in Bloemfontein op te tree.

Geld daarvoor is egter vir die koor ’n groot kopseer, sê Jonck, selfs al het hulle die afgelope drie jaar koning gekraai in die kompetisie se afdeling vir nie-Afrikaans-moedertaalsprekers.

“Ons sukkel vreeslik om die geld bymekaar te maak,” sê sy. “Ons het in die verlede ’n klomp verskillende fondsinsamelings gehou – markdae, sivvydae – maar hierdie jaar was die skoolvakansie vroeër en ons tyd minder. Nou kan van die koorlede se ouers die koortoer na Bloemfontein eenvoudig nie bekostig nie.”

Hoewel 57 van die 67 koorlede reeds R1 600 elk bymekaar gemaak het vir vervoer, kos en twee nagte se verblyf, staan die ander 10 lede bakhand; daarom probeer Jonck en haar dogter, Rachelle, nou om R16 000 deur die Tersia Jonck-musiekopvoedingsfonds vir dié lede in te samel. Dié fonds is in 2012 gestig om laerskoolkinders te help wat graag wil leer hoe om ’n musiekinstrument te bespeel, maar nie die geld daarvoor het nie.

Op 15 Julie is net meer as R8 000 reeds vir die koortoer ingesamel, maar die res van die geld kom nog kort – en die tyd raak min. Die koor se bus vertrek op 23 Julie, net-net voor die kompetisie op 24 Julie begin.

“Rachelle (wat in die VSA woon) het ’n taamlike geldjie bymekaargemaak, maar dit is steeds nie genoeg nie,” sê Jonck. “Die koste styg ook: Ons het die aanvanklike R1 600 rofweg beraam, maar moes eintlik vir elke kind R1 800 gevra het.”

Hoewel Jonck sê dit sal ’n “taamlike hoogtepunt” wees om haar loopbaan met ’n oorwinning in Bloemfontein af te sluit en die prys vir ’n vierde opeenvolgende jaar te wen, is die ervaring wat die kinders op so ’n toer opdoen, vir haar belangriker.

“Koorsang hou die kinders gefokus en die toer self is ’n wonderlike ondervinding vir hulle. Dit is die moeite werd, selfs al sing ons net vir 12 minute op die verhoog.

“Natuurlik is dit ook in die kinders se agterkop dat ek vanjaar klaarmaak, so hulle wil dit so lekker moontlik vir my ook maak, maar ’n oorwinning is nie die belangrikste nie. Dit sal wel vir my, vir die koor en die skool, lekker wees om te sê we went out with a bang!”

* Enigiemand wat die Laerskool Excelsior se senior koor wil help, kan die skool by 021 948 4797 bel.

Meer oor:  Koor  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.