Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapstad Opera neem ‘La bohème’ op toer
Lukhanyo Mogake is te sien in die rol van Rodolfo in ‘La Bohème’.

Kaapstad Opera gaan hierdie lente op toer met ’n produksie van La bohème, wat afspeel in ’n township in ’n eietydse Suid-Afrika.

Die tragiese liefdesverhaal van Mimí en haar Rodolfo gaan in September opnuut opklink in teaters in Oos-Londen, Gqeberha, Graaff-Reinet en Oudtshoorn. Ander dorpe en stede word later tot die reisplan toegevoeg. Drie verdere toere word beplan.

Die opwindende onderneming van Kaapstad Opera is moontlik genaak deur ’n toelaag van die Judith Neilson-stigting. Die Australiese sakevrou en filantroop is bekend om haar passie vir die kunste – sy is onder meer die eienaar van die White Rabbit-galery in Sydney wat internasionaal gereken word vir hul versameling van eietydse Chinese kuns.

Die toer sou aanvanklik in 2020 begin het, maar Covid-19 het ’n stokkie voor die plan gesteek. Nou word daar vroeg in September weggespring.

Volgens die regisseur Magdalene Minnaar is die opera nie vreeslik verkort nie, net die koor en die landlord Benoît, ’n klein rolletjie is uitgesny. Die Latynse-kwartier van Parys van die oorspronklike opera is verplaas na ’n township in Suid-Afrika.

Magdaleen Minnaar is die regisseur van ‘La Bohème’.

“Ek fokus op die karakters en die meesterlike, emosionele musiek van Puccini. Gehore kan ’n volledige opera-ervaring verwag, met die beste stemme in ons land.

Die musiek is verwerk deur Jeremy Silver sodat dit gaan voel soos ’n volle orkes. Daar heers ’n miskonsepsie dat ’n toerproduksie ’n afgewaterde weergawe is van die opera. Mense gaan die beste stemme in ons land op hul voorstoep kry.”

Vir mense wat nog nooit ’n opera ervaar het nie, is dit ’n maklike eerste opera, glo sy. Minnaar het dit voorheen met groot sukses vir die Innibos-kunstefees in Mbombela geregisseer.

“Daar is ’n rede hoekom dit die bekendste en mees opgevoerde opera ter wêreld is.”

Sy glo dat opera moet toer in Suid-Afrika en dat daar oraloor gehore is vir opera.

“Ek is so bly Kaapstad Opera doen dit nou en neem die voortou. Dit is hartseer dat dit nou eers gebeur. Ons het gesien met Biblioteek-produksies (haar vervaardigingsmaatskappy) dat opera met groot sukses in plekke so ver as Nelspruit en Ermelo opgevoer kan word. Ons is met ope arms, vol huise en staande ovasies begroet. Daar is so behoefte, eintlik ’n nood, aan dié tipe stimulasie.”

Dit krap wel ’n bietjie aan die senuwees om so ’n produksie te neem na plekke waar jy nie seker is of die teaters of sale die nodige toerusting het nie. “Daarom het ek Stefan Barnard nadergetrek om die beligting te ontwerp; die stel is so aanmekaargesit dat dit groter of kleiner gebruik kan word. Die uitdagings hou jou beslis besig, maar dit kan gedoen word.” Met dié toer is iemand vooruit gestuur om opmetings te doen van die verhoë en foto’s te neem.

Zindile Mzazi is te sien in die rol van Mimí in ‘La Bohème’.

Die rolverdeling bestaan uit die sopraan Zandile Mzazi as Mimì en die tenoor Lukhanyo Moyake as Rodolfo. Beide operasterre is oorspronklik van die Oos-Kaap – Mzazi van Elliot en Moyake van Lady Frere.

Mzazi het al in die groot konsertsale in wêreldstede soos New York, Wene, Rome en Parys opgetree en het deelgeneem op uitnodiging aan een van Montserrat Caballe se meesterklasse. So ook het Moyake se stem opgeklink oraloor Europa en ook in die Mandela Trilogy se speelvakke in Londen, Dubai en Hongkong. Hy het ook as solis opgetree saam met die Nederlandse Radio Symphony Orchestra en hy het hom vir die 2018/19 seisoen by die Weense Staatsopera aangesluit.

Die nabye kontak tussen die karakters – dit is ’n romanse – het dit nogal moeilik gemaak om midde Covid-19 te repeteer. Sosiale afstand het in repetisies gegeld en die sangers het die heeltyd maskers gedra, het Minnaar gesê.

Die bevestigde optredes is as volg:

Oos-Londen: 8 en 9 September in die Guild-teater. Kaartjies by Computicket.

Gqeberha: 11 en 12 September in die Savoy-teater, bespreek by die teater 083 471 8893 tussen 09:00 en 12:00.

Graaff Reinet: 15 en 16 September in die John Rupert-kleinteater, bespreek by die toerismekantoor by 049 892 4248.

Oudtshoorn: 18 en 19 September in die Burgersaal. Besprekings open binnekort; hou Kaapstad Opera se webblad Capetownopera.co.za dop.

Die ander sangers is Bongani Khubeka, Ané Pretorius,

Lwazi Dlamini, Conroy Scott en Garth Delport. Die musici is Jeremy Silver, Eriel Huang, David Pinoit en Louisa Theart. Silver is die musiekregisseur.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Gqeberha  |  Oos-Londen  |  Toer  |  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.