Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapstad Opera vier mondigwording
Sarah-Jane Brandon (sopraan)

Kaapstad-opera (KO) het vir sy mondigwording volgende jaar Suid-Afrikaanse sangers met ’n internasionale agtergrond genooi om in hul vieringsopera te sing.

Die sopraan Sarah-Jane Brandon en basbariton Thesele Kemane sal onderskeidelik Mimi en Colline in die Puccini-opera La Bohème vertolk. Albei het aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool studeer, waarna hulle hul vlerke gesprei het.

Brandon het haar studie aan die Benjamin Britten-operaskool in Brittanje voortgesit en in 2009 die gesogte Kathleen Ferrier-prys gewen. Dit het tot haar deelname aan die Salzburg-fees se projek vir jong sangers in 2011 gelei, waarna die wêreld se operaverhoë haar speelveld geword het.

Dié liriese sopraan het in operas in vername operahuise in Dresden, Berlyn, Nice, Dijon, Lissabon en Bahrein gesing en saam met orkeste soos die Londense en die BBC-simfonieorkes, die Israelse Filharmoniese Orkes en die Mozarteum-orkes opgetree, om maar enkeles te noem.

Thesele Kemane (basbariton)

Dirigente onder wie sy opgetree het, sluit bekendes in soos Bernard Haitink, Vasily Petrenko, Kurt Masur en Iván Fischer.

Onlangs het sy haar debuut as Antonia in Les contes d’Hoffmann van Offenbach in die Beierse Staatsoperahuis gemaak en volgende maand vertolk sy die gravin in Mozart se Le nozze di Figaro in Stuttgart se staatsoperahuis. Haar laaste optrede in Kaapstad was as Desdemona in Verdi se Otello in 2013.

Die basbariton Kemane, tans ’n sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein, het Kaapstad en die UK vir New York en die Julliard-musiekskool verruil.

Nadat hy nog ’n graad in sy sak kon steek, het hy twee jaar in Frankfurt se operageselskap in Duitsland gesing, in Modena en Rome meesterklasse gekry en hom twee jaar gelede by die OSM aangesluit. Kemane is ’n boorling van Kimberley.

Meer inligting oor La Bohème sal later bekend gemaak word.

Ander verjaardagnuus is dat KO die eerste keer in 15 jaar weer by Kirstenbosch sal optree. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes sal die sangers op 22 Maart in dié uitvoering bystaan. * Twee uitvoerings wat vanjaar bygewoon kan word, is ’n gratis uur lange konsert op 3 Desember om 13:00 in die Kunstekaap se voorportaal en African Angels op 19 en 21 Desember in die Baxter-konsertsaal. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Opera  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.