Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kaapstad Opera word mondig

Die Nieu-Seelandse sopraan Kiri Te Kanawa sal ongetwyfeld luister verleen aan Kaapstad Opera (KO) se 21ste verjaardag wat die hele 2020 duur.

Selfs al sing sy nie ’n noot nie en gee net meesterklasse en gesels oor haar loopbaan van 40 jaar op die wêreld se belangrikste operaverhoë, behoort sy ’n groot getal aanhangers te lok.

Sy besoek Suid-Afrika einde Februarie.

Benewens dié hoogtepunt sal vier vollengte-operas met van Suid-Afrika se topsangers uit die buiteland opgevoer word, asook ’n nuwe opdrag-opera en verskeie konserte.

Matthew Wild, KO se artistieke direkteur, sê die jaar begin met sy produksie van Puccini se La bohème, wat verlede jaar in samewerking met die Konzertteater in Bern, Switserland, op die planke gebring is.

Die bekroonde Mexikaans-Amerikaanse tenoor Galeano Salas sal saam met die besoekende Suid-Afrikaners Sarah-Jane Brandon, William Berger en Thesele Kemane optree, terwyl die Kapenaars Aviva Pelham en Brad Liebl ook hul verskyning sal maak.

’n Toneel uit Così fan tutte.

’n Nuwe belowende voorstelling van Mozart se komiese opera Così fan tutte word in Augustus met jong sterre van KO en die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool onder die kreatiewe regiehand van Steven Stead aangebied. Die bekende operadirigent Jeremy Silver sal die UK-simfonieorkes lei.

Brittany Smith (sopraan) en Ané Pretorius (mezzosopraan) sal hierin optree, maar in Humperdinck se Hänsel und Gretel vertolk hulle die hoofrolle. Die Suid-Afrikaanse sanger Jenni Bank kom uit die VSA vir die dubbele rol van hul nare stiefma en die heks. Die bekwame Alessandro Talevi is die regisseur.

Benjamin Britten se opera Curlew River en die opdragwerk Amagokra (helde), volgens Wild die ideale platform vir jong sangers, word saam aangebied. Die libretto van Amagokra is deur Chuma Sopotela en die musiek deur Sibusiso Njeza. Dit sal in Mei te sien wees.

Beethoven se enigste opera, Fidelio, is ’n móét in die jaar wat dié komponis se 250ste sterftejaar gevier word. Dit word in ’n konsertweergawe aangebied met Johanni van Oostrum wat haar debuut as Leonore maak. Van Oostrum het ’n opera-loopbaan in Europa.

Silver sal op die dirigeerpodium wees, Christine Crouse regisseer en ’n bindteks is deur die Standard Bank Jong Kunstenaar Amy Jeptha geskryf.

Ná ’n lang afwesigheid keer KO volgende jaar terug na Kirstenbosch vir ’n galakonsert met die gevierde internasionale sopraan Pumeza Matshikiza, die tenoor Sipho Fubesi, KO se jong kunstenaars en koor en die Kaapstadse Filharmoniese orkes (KFO).

Matshikiza is een van Suid-Afrika se blinkste sterre in die buiteland en het al saam met die geprese Rolando Villazón gesing, ook saam met Josh Groban én hy het op die huwelikseremonie van prins Albert en prinses Charlene van Monaco gesing.

In samewerking met die Liedmakersgilde en die UK-operaskool sal Sarah-Jane Brandon en die Britse pianis Gerry Matthewman liedere van Duparc en Strauss tot De Falla en Weill uitvoer.

Die KO-koor sal volgende jaar ook in 40 vertonings in Australië, Duitsland, Switserland, Liechtenstein, Nederland en Brittanje gehoor word.

Wild en Elise Brunelle, die uitvoerende hoof van KO, sê opera se voortbestaan in Suid-Afrika is afhanklik van skenkings. Hulle doen ’n beroep op die publiek om te help om die kunsvorm aan die lewe te hou deur geld te skenk, hetsy as ’n maandelikse aftrekking of in enige ander vorm.

’n Meevaller is ’n “seisoenkaartjie” van R1 000 wat toegang tot die hele jaar se operaprogram bied – die konserte asook die vollengte-operas. Dit is ook ’n uitstekende Kersgeskenk vir ’n operaliefhebber.

  • Seisoenkaartjies kan tot 13 Februarie aangeskaf word deur e-pos te stuur na info@capetownopera.co.za. Volledige inligting oor die operas, konserte en ander KO-geleenthede sal mettertyd in die koerant verskyn.
Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.